By die N’waVangane Laerskool in Mamelodi staan daar in groot wit letters op die bord geskryf:
WORDS ARE THE DEADLIEST WEAPON:
PREPARE YOURSELF FOR THE BATTLE OF LIFE –
KNOW YOUR WORDS
– ’n voorbeeld van een onderwyser se doelgerigtheid om aan kinders die waarde van lees oor te dra. Een onderwyser wat simbool is van al die oorwerkte onderwysers wat, ten spyte van hulle uitdagende dagtake, ook probeer om ’n skoolbiblioteek aan die gang te hou.
En dit is nie ’n maklike taak nie – die uitdagings is legio: broodnodige ondersteuning van die onderwysdepartement is afwesig; skenkings wat nie bruikbaar is nie, stapel op en beland in kaste. Die bruikbare ruimte in die skoolbiblioteek raak al kleiner; die onderwyser verdrink al dieper in haar pogings. Aan die deurmekaar rakke en die stof en die boeke wat so skeef in die rak hang, kan jy sien: hulp en ondersteuning ontbreek.
Die uitdaging van lees
Die Nasionale Leesstrategie van 2008 som die probleem met skoolbiblioteke soos volg op:
South Africa faces many challenges in promoting literacy. It is rare to find schools with well-used general libraries. Many homes have no books. Books in African languages are scarce, so children do not have the opportunity to read in their home language. Some classrooms have no books, and even those classes which do have sets of readers, often have them at the wrong level.
Intussen het die regering genoegsame uitdagings om te oorkom, en word biblioteekdienste nie as die grootste prioriteit beskou nie. Maar dit is veral die politieke verlede van Suid-Afrika wat bepalend is vir waar jy dalk nog ’n werkende skoolbiblioteek kan aantref. Volgens Zinn (Debate on School Libraries in South Africa, 2011:2) is daar slegs 7% van skole wat steeds skoolbiblioteke het (grootliks die ou Model C-skole). Machet & Tiemensma (2009:58) voer aan dat 78 van skoolleerders nie oor basiese leesvaardighede beskik teen die tyd dat hulle graad 5 bereik nie. Vroeër vanjaar het die South African Book Development Council (2013) gewys dat minder as 5% van mense in Suid-Afrika boeke koop, en die Family Literacy Project (2012) bereken dat meer as ’n miljoen Suid-Afrikaanse kinders in huishoudings grootword waar volwassenes nie geletterd is nie – niemand, dus, wat hulle met skoolwerk kan help nie.
Beslis ’n droewe prentjie.
Die hulpverleners
Maar gelukkig is daar ook ’n teenkant. Die regering het duisende klasbiblioteke in die Wheely Wagon-projek afgelewer; ’n verskeidenheid instellings en organisasies beywer hulle vir die boek-, lees- en geletterdheidskrisis in die land (onder meer READ, Rally to Read, Biblionef, The Family Litercay Project). Rally to Read het vanjaar meer as R7 miljoen ingesamel vir die verspreiding van boeke en skoolmateriaal aan afgeleë gemeenskappe.
Die leeskamerprojek
Die afgelope paar jaar is ek reeds by die oprigting van leeskamers vir grondslagfase-leerders (gr 1–4) betrokke. Vyf van hierdie leeskamers is reeds ingerig vir onder R5 000 elk by die Ruigtevlei-laerskool en Redlands Primary (Karatera, Wes-Kaap), Makhatini Primary (Mpumalanga), N'waVangane Primary en IM Monare Primary (Mamelodi, Pretoria).
’n Leeskamer het dit ten doel om die skooljuffrou met die tot oorlopens toe vol klas ’n kans te gee om haar leerders in hulle geskeduleerde leesperiodes na ’n ruim en gemaklike vertrek te neem. Dié leeskamers stel die onderwyser in staat om kinders aan die wonderwêreld van boeke bloot te stel in ’n omgewing waar daar gedeelde verantwoordelikheid is om die leeskamer in stand te hou. Trouens, die sisteem is so eenvoudig dat die kinders self die grootste verantwoordelikheid kan dra om die vertrek netjies en die boeke georden te hou.
Maak ’n leeskamer: Tien stappe
- Identifiseer (en waardeer!) die gewillige en geesdriftige onderwyser. By IM Monare Primary het juffrou Martha Mapetho 64 kinders in haar graad 2-klas.
- Gebruik soveel as moontlik materiaal wat die skool beskikbaar het. Die meeste skole het reeds rakke waarop hulle handboeke, en boeke wat hulle van die onderwysdepartement of die gemeenskap ontvang het, stoor. Soek die bruikbare boeke uit en maak die lendelam rakke weer reg.
- Identifiseer ’n borg wat jou kan help om te betaal vir die uitverf van die vertrek, die aankoop van matte en benodighede om die vertrek mee in te rig.
- Wees kreatief in die manier waarop jy die vertrek inrig, sodat dit ’n mooi én interessante plek is vir die kinders om heen te gaan. By IM Monare was daar die aakligste diefwering teen die dak. Dit is maklik kleurvol met opgesnyde waterwurms omvorm.
- Maak dit opvoedkundig deur opvoedkundige materiaal in te sit (plakkate, gom, skêrtjies, tydskrifte waaruit hulle mag knip, klei, Lego-blokkies ...).
- Maak dit opwindend deur speelgoed in te sit (sagte speelgoed, krale, albasters, karretjies en ’n renbaanmat ...).
- Maak dit maklik om te gebruik deur die boeke met kleurkolle te merk en dit volgens ouderdomme te sorteer. Pak die boeke vir die kleiner kinders in die onderste rakke en dié vir die ouer kinders op die hoër rakke. Deel die niefiksie-boeke in vyf of ses eenvoudige kategorieë (mense, diere, plekke ...)
- Gebruik vrywilligers – om vir jou die gordyne te stik, die boeke te help sorteer, boeke te skenk en bymekaar te maak, rakke te kom was, om uit te verf, edm.
- Kry ’n leier uit die gemeenskap om die kinders, onderwysers en ouers te inspireer, en om die belangrikheid van lees te benadruk.
- Maak die kinders opgewonde; betrek hulle; en laat hulle lees! En daarvoor gaan jy nog so 20 of wat kussings ook nodig hê, want wie wil nou kiertsregop sit en lees as jy dit op die naat van jou rug met jou bene in die lug kan doen?
As ek iewers kom – of dit nou by die Malawiese plaaswerker in die Tankwa-Karoo of die brandarm gemeenskap van Karatera is – ek kry altyd ’n weg of ’n plan of ’n hartsbegeerte om mense aan die lees te kry, of boeke aan hulle beskikbaar te stel, of sommer net uit te deel. Vra bietjie jou huis- of tuinwerker uit wat by hulle kinders se skole aan die gang is; nader jou plaaslike leeskring en besighede en maak die wonderwêreld van lees vir honderde kinders in jou gemeenskap ’n werklikheid.
Bibliografie
Department of Education. 2008. National Reading Strategy. Pretoria: Department of Education.
Machet, MP en L Tiemensma. 2009. Literacy Environment in Support of the Development of Literacy Skills and Voluntary Reading. Mousaion, 27(2):58–76.
South African Book Development Council. 2013. National Survey Into the Reading & Book Reading Behaviour of Adult South Africans. Sanlamhof: South African Book Development Council.
The Family Literacy Project. 2012. About us. Beskikbaar by http://www.familyliteracyproject.co.za (30 Oktober 2013 geraadpleeg.
Zinn, Sandy, A Boekhost, J Henri, L Marquardt, H Lourense. 2011. Debate on Schools Libraries in South Africa. Claremont: Harold Wolpe Memorial Trust.
Leti Kleyn is ooptoegangsbestuurder in navorsingskommunikasie by die Merensky-biblioteek, Universiteit van Pretoria.
Klik hier vir nog inligting.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


