Wolwedans ril nog steeds

  • 0

“As ’n hadida oor ’n huis vlieg en sy angsroep oor die vallei skeur, sê hulle dat iemand gaan sterf. Dit is dan wanneer die wolf uit sy skuilplek kruip om die roep te beantwoord …”

Indien jy die voorafgaande woorde herken het en uit jou kop kan sê, dan was jy ’n aanhanger van die radiodrama wat in die tagtigerjare en onlangs weer op die radio uitgesaai is. Wolwedans in die skemer was ook in die tagtigerjare ’n baie gewilde TV-reeks en is in 2011 as rolprent verfilm. Die romanweergawe van die verhaal het ook in 2012 verskyn.

Wolwedans in die skemer vertel die verhaal van Sonja Daneel wat as nuwe ontvangsdame by Hotel Njala begin werk. Op pad na die hotel is sy in ’n motorongeluk omdat ’n wolf in die pad verskyn het. Wanneer sy wakker word, lei sy aan geheueverlies. Sy besef egter dat sy ’n verbintenis met die hotel het.

Leon van Nierop is die skrywer van die oorspronklike radio- en TV-drama en het ook die draaiboekweergawe vir die film en die 2012-radiodrama en roman geskryf. Hy het die oorspronklike storie vermoderniseer, maar dieselfde basiese verhaallyn van Sonja Daneel wat haar geheue in ’n motorongeluk verloor en by Hotel Njala as ontvangsdame werk, behou.

Van Nierop het daarin geslaag om aan die verhaal ’n moderne klank te gee al is die karakters dieselfde en bly Hazyview nog steeds die ruimte waar dié moordriller afspeel. Hy plaas die gebeure in die eietydse Suid-Afrika met verwysings na die baie misdaad wat in die Hazyview-omgewing voorkom en wat die gebied teister; spesifiek die vakansie-oorde wat glo geteiken word. Daar is verder verwysings na wildstropery, “inside-jobs”, wapenregistrasies.

Die ruimte van die Laeveld en meer spesifiek Hazyview is uiters belangrik in die roman. Van Nierop het daarin geslaag om hierdie ruimte uitstekend uit te beeld. Sy  ruimtebeskrywings is so waar en eg dat die leser hom-/haarself in daardie broeiende hitte kan inleef: “Parasiete klou aan boomstamme vas, die wortels ontbloot teen die moederboom se stam, wit wortels en grypende armpies peul uit elke skeur in die stam. Iets skarrel tussen die groot blare rond. Wit maanblomme hang swaar langs haar oor die paadjie.”

Mens sweet saam met die karakters in daardie hitte en voel soos Sonja vasgevang in die neerdrukkende hitte en plantegroei: “Die kiaatbome staan soos spookgedoentes aan weerskante en die maan hang groot en roerloos agter die bome.”

Die ruimte word lewendig en realisties vir die leser met die beskrywings van die verskeie vakansie-oorde, die toeristeverkoopplekke, die tipiese toeristebesoekplekke soos God’s Window, Pelgrimsrust en die Berlin-waterval. Hier is geen verromantisering van die omgewing nie en ondersteun dit die tema van die roman uitstekend. Die leser is gedurig bewus van die ruimte. Hierdie goeie ruimte-uitbeelding is waarskynlik een van die positiewe aspekte van die roman.

Die verhaallyn bevat ook verskeie liefdesintriges: Sonja raak verlief op Ryno, die aantreklike toergids; Adele en Armand is in verhouding, maar Adele en Ryno raak betrokke by mekaar; Maggie, Adele se suster, is heimlik verlief op Ryno; Coenraad en Bertha lyk of daar iets tussen hulle kan ontwikkel, maar hy is gefassineer met Sonja. Miskien is die karakters te stereotipies: Ryno is die tipiese aantreklike, losbol toergids waarop al wat ’n meisie is verlief raak, Sonja is die tipiese onskuldige heldin wat gered moet word, Adele is die tipiese eienaarsfiguur wat mense op ’n afstand hou, en so meer.

Maar tog slaag Van Nierop daarin om die geheime van en in elke karakter te verdoesel en kom die leser agter dat elkeen maar sy of haar eie speletjie speel. Dalk is dit net Maggie wie se speletjie eintlik die belangrikste een is, wat die duidelikste weggesteek word as ’n sogenaamde minder belangrike karakter. Daar is onderliggende spanning tussen die karakters, veral tussen die Joubert-gesin. Hierdie spanning word eers aan die einde aan die leser geopenbaar en dra by tot die spanningselement in die roman. Dit is wat maak dat die leser aanhou lees.

Onderliggend tot die moordriller is die Rooikappie-en-Wolfstorie. Die eerste woorde van die roman is “Die wolf” en op die laaste bladsy verskyn die wolf weer: “Toe hulle opkyk, is die wolf weg.” Hierdie wolf-motief is ’n belangrike motief wat deurgaans voorkom. In die mitologieë simboliseer die wolf gevaar, die destruktiewe, die antisosiale, die mens se donker wilde kant wat getem moet word. Al hierdie simboliese betekenisse kom in die roman voor. Reeds aan die begin van die roman word die wolf en sy verbintenis met Sonja en die hotel aan die leser duidelik gemaak. Die wolf verskyn telkens aan Sonja en dra by tot die spanningsvlak in die roman.

Daar is verder ’n direkte verband tussen die wolf en die moordenaar en hierdie verband word aan die einde aan die leser geopenbaar. Sonja sien ook die “Rooikappie”-figuur en dis hierdie Rooikappie, wat nie die onskuldige sprokieskarakter is nie, wat die hotel begin treiter. Dié Rooikappie verteenwoordig anders as die sprokieskarakter die bose, dood en onheil. Deur die gebruik van hierdie bekende en oeroue sprokiesverhaal in ’n nuwe verband, slaag Van Nierop daarin om die bonatuurlike element in die roman vars te hou.

Vir die leser wat vertroud is met die radiodrama (die oue en die nuwe een), die TV-reeks en die film bied die roman nuwe insigte tot die storie. Die basiese verhaallyn bly dieselfde maar elke genre bied iets anders tot die verhaal. Die roman bied beter toegang tot karakterisering as van die ander mediums. Van Nierop kon daarin slaag om werklik in die karakters, en veral Sonja, se koppe in te kom. Dit stimuleer verder die leser om die karakters self te skep en om die ruimtebelewing self te ervaar.

Wolwedans in die skemer is ’n roman wat boei en die leser tot aan die einde vasgevang hou. Dit is gerus ’n boek wat gelees kan word.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top