Wolf, wolf eerlik, ongenaakbaar en lewensveranderend

  • 2

Wolf, wolf
Eben Venter
Tafelberg, 2013
ISBN: 9780624054993 (sagteband)
ISBN: 9780624055006 (e-boek)
Bladsye: 372

 

Koop Wolf, wolf by Kalahari.com.

 

 

 

 

“[T]here are far too many fathers now existing.” – Gertrude Stein

Wat gebeur as mens nie op simbolies-psigiese vlak met die Naam/Reg van die Vader (Lacan se nom / non du père) (kan) afreken nie? Op 28 November 1928 skryf Virginia Woolf die volgende: “Father’s birthday. He would have been ... 96, yes, today; & could have been 96, like other people one has known; but mercifully was not. His life would have entirely ended mine.” Die storie van die hoofkarakter in Wolf, wolf, Mattheüs Duiker, is onteenseglik ’n antwoord op bovermelde vraag én ’n tragiese eggo van Woolf se woorde.

Rykman Benjamin Duiker lê op sterwe aan kanker in sy huis in een van Kaapstad se gegoede suidelike voorstede. Sy seun, Mattheüs (Matt), sorg vir hom: ’n soort verpleër-slaaf. Die prominente interteks wat deur hierdie gegewe geaktiveer word, is natuurlik Marlene Van Niekerk se Agaat. Maar Wolf, wolf is weliswaar nié ’n Agaat “for gay people” nie. Die problematisering van patriargie hier is eerder ’n soort aanvulling, of belig ’n ander konteks/dimensie. Dit bly egter ’n oop vraag tot welke mate ’n mens sou kon sê dat Agaat die ruimte vir hierdie soort problematisering van patriargie in ons letterkunde óópgeskryf het. Dit daar gelaat.

Matt se suster, Sissie, woon saam met man en kinders op die droogtegeteisterde familieplaas buite Laingsburg en die narratief maak dit duidelik dat sy lank gelede reeds vir Benjamin simbolies om die lewe gebring het - en dus geen verpligting voel om hom op sy sterwensbed te kom help versorg nie. Dit is Matt wat genoop voel. Vader se siekte en stadige wegkwyning dwing Matt om sy verhouding met Benjamin opnuut te konfronteer. Benjamin, daarenteen, kan om die dood nie aanvaar dat sy seun ’n verhouding met ’n ander man (Jack, ’n onderwyser) het nie (onderdrukte jaloesie, dalk?). Tot op die laaste – ten spyte van soete woordjies oor nonsens in ’n ou Philips-bandopnemer vir sy seun geprewel – laat die patriarg sy vervolging en wreedheid geld – genadeloos, ondankbaar. ’n Fokop, soos Jack dit later aan Matt stel. Benjamin Duiker het my onwillekeurig laat dink aan Hannah Arendt se beoordeling van die Nazi-burokraat Adolf Eichmann as die uiterste verpersoonliking van wat sy “die banaliteit van boosheid” genoem het. Alles wat uit dié karakter se mond kom, is die een ondraaglik liefies-goedige cliché na die ander. Arendt het hierdie soort spraak beskou as ’n bewys van denkeloosheid: die algehele onvermoë om jou in die omstandighede van ’n ander te kan verbeel en om vanuit daardie ander persoon se oogpunt te kan dink.

En die probleem met Matt / Matt se probleem is dat hy hierdie pa wíl liefhê, ten spyte van alles. Die onopgeloste verhouding met Benjamin deurspek elke enkele aspek van Matt se bestaan en impakteer veral op sy verhoudinge met ander – mees prominent op die romantiese verhouding met Jack. Matt is verslaaf aan gay-internetpornografie. Hy beleef dit as ’n soort ontvlugting van die reële ondraaglikhede in sy lewe. Maar die pornografie-obsessie is maar ’n simbool van die dieper traumatiserende verslawing aan die selfvernietigende verhouding met Benjamin. In Lacan se terme is die pornografie ’n objet petit a: die objektiewe/materiële Ding wat vir die subjek konstitutief onsuksesvol instaan vir die onmoontlike vervulling van begeerte/gebrek. Die obsessiewe verhouding met / verpligtheid teenoor die vader en die pornografieverslawing veroorsaak spanning in die verhouding met Jack – ’n karakter wat self psigiese probleme ondervind. En selfs na Benjamin se dood regeer hy steeds uit die graf, bly hy maar bepalend in Matt se lewe. Die roman belig (soos ander titels in ons gay-letterkunde) juis hóé onmoontlik dit is vir die gay persoon om werklik te lééf binne die ongenadige parameters van wat Judith Butler die “heteronormatiewe matriks” gedoop het.

Oor die wolf-gegewe net die volgende: Wolf, wolf hoe laat is dit? is ’n speletjie wat menige van ons onthou uit ons kinderdae. Die skape loop agter die wolf aan of staan rondom hom en vra in ’n koor hoe laat dit is. Hy kan enige uur uitroep, maar as hy uitroep “Etenstyd!” moet die skape spring. Jack en Matt speel Wolf, wolf op gevaarlike plekke – dwarsdeur die roman. Maar bowenal is die “Wolf, wolf”-tema ’n sleutel. Want hierdie boek sê deurlopend dat dit “etenstyd” is – dat dit te laat is om enigiets te red, dat patriargie in al sy monderinge uiteindelik slegs vernietiging in die hand kan werk. In hierdie opsig het die nihilisme – ’n tema waarmee lesers van Venter reeds goed bekend is – my laat dink aan Michel Houellebecq se Les Particules elementaires (vertaal as Atomised). Soos in Atomised is die boodskap van die begin af dat dinge nie goed/mooi gaan eindig nie; dat ’n groot, sterk Houtkapper (die benaming is psigoanalities tekenend) nie inderhaas die deur gaan afbreek en Rooikappie op die nippertjie uit Wolf se kake gaan red nie. Rooikappie (Matt, Jack, Sissie, die hartverskeurende oom Hannes, die hele spul) is van meet af aan in die kake van die Wolf. Daar is géén uitweg nie. Die verloop is voorafbepaal.

Oor die politieke dimensie van Wolf, wolf is ek ambivalent en sal my dus nie daaroor uitlaat nie. Die leser moet maar self besluit tot watter mate ons hier met ’n voortsetting van die Joseph Conrad-narratief in Horrelpoot te make het en of dit afdoen aan of bydra tot die verskrikking wat hierdie roman op etiese vlak in die hand werk. Maar selfs al sou ek as leser in nadenking besluit om die politieke aspek negatief te beoordeel of om nie daarmee saam te stem nie, sal die eerlikheid, die ontsetting, die ongenadigheid en ja, die ongenaakbaarheid, van Wolf, wolf my bybly as ’n boek wat my lewe verander het.

 

Lees Izak de Vries se LitNet Akademies-resensie-essay van Wolf, wolf.
Lees Marius Crous se resensie van Wolf, wolf.
 

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie vir jou resensie, Jaco. Ek het dit geniet!

    Ek het gou twee navorsingsvrae vir jou. Jy skryf: "Die roman belig (soos ander titels in ons gay-letterkunde) juis hóé onmoontlik dit is vir die gay persoon om werklik te lééf binne die ongenadige parameters van wat Judith Butler die 'heteronormatiewe matriks' gedoop het."

    - Watter Butler-teks beskryf/behandel hierdie matriks die duidelikste?
    - Ek skram weg van woorde soos 'kanon', maar wat is - volgens jou die top vyf Afrikaanse 'moet-lees' gay boeke?

    Groete!

    Morné Malan

  • Jaco Barnard-Naudé

    Hallo Morné

    Die Butler-teks is Gender Trouble: feminism and the subversion of identity (1990) Routledge: New York.
     
    Wat die ander vraag aanbetref:
     
    Koos Prinsloo se kortverhale (almal van hulle, soos gebundel deur Human & Rousseau)
    Eben Venter se Wolf, wolf
    Johann De Lange se Vreemder as fiksie
    Joan Hambidge se Judaskus
    Danie Botha se Soft Rock Klub
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top