
Foto: Canva
Witborsduif
As jy die tang vasgehou het, soos ek, en die borsbeen oopbreek
en die vere bedruip het met bloed,
die holte uitgedompel en ontsmet;
val die woorde nog waarvoor jy sou boet?
Val die woorde nog in die roet,
jou hande sag en soet
witborsduif beboet bebloed;
as jy die borsbeen oopgebreek het en my hande grof en taai is.
Witborsduif beboet in bloed,
jou woorde binne hom,
holtes toegesteek, vere terug gedrapeer;
witborsduif neem jou Icarus-vlug, neem hom ná die lig.
Vere wit en pronk
vlerke vonk
uitgestrek;
as die gedig wil pyn, nes jy, gee hom aan ’n witborsduif.

