
Foto: Canva
Wit ink
Wit papier is beter geselskap
as die sinnelose gebabbel
van nuwe vriende vasgewerk op oulap.
Ek verkies die kras gegrif
van ’n pen
al het die ink lankal opgehou met dribbel.
Die dieptes van die vel voor my
skreeu om met woorde verlos te word.
Net dít maak jou vry.
Dit gaan maar sleg
as die tema die tema self is
en jy blind voel op hierdie weg.
Daar is baie om te sê,
maar die brug met die onderbewussyn
het verdwyn.
Ek vermoed dis ek
wie se stutte en kabels gebreek is
en te stukkend is om towerwoorde op te wek.
Die diepste gedig
is die een wat nie neergepen kan word nie,
ontwykende woorde van lig.

