Wintervakansie

  • 0

Die winter is darem ‘n intense tyd. Nie eintlik in terme van die hoeveelheid goed om te doen nie, maar die hoeveelheid tyd om te dink. In ons huishouding se geval, wanneer die Kaapse winter sy kop uitsteek, neem die spoed en volume van doen aansienlik af. Die genadiglike gebrek aan die skottel se kanale, maak die tyd vir kalmte nog meer.

Die ander aand raak die geselskap die onderwerp van die wintervakansie aan. Iets wat baie van ons dorpie se burgers geniet. Daar is die streep voertuie wat die pad Laeveld toe neem om na die wildediere te gaan kyk. Ander pak weer die viertrekwa en kies koers na die skoonlug van “Suid-Wes” en die meer waaghalsiges gaan verken die agterpaaie van Botswana. Die gekultiveerde burger gaan kuier op die stoepe van die Knysna Waterfront en geniet die oesterfees. Ander meer geldelik bedeelde groepies sal die Europese somer gaan geniet. Dus, soveel windrigtings, soveel bestemmings. Met die luister na almal se reisplanne wat deur oorvertel gesirkuleer word, ontwaak daar net soveel drome en smagte by die res van ons. Ons sal egter met jan-tuisbly-se-karretjie se rondry tevrede moet wees.

Na die gesprek, dink mens onwillekeurig aan jou eie onvermoë om dieselfde vir jou gesin te doen. Mens dink aan die “wat van”-scenario. Die skuldgevoel wat ‘n gesin se vakansieverwaarlosing meebring, begin weer aan die gemoed knaag. Soos die gedagtes rol en tuimel, besef mens genadiglik dat die “wat van” meer goed as sleg kan wees.

Wat daarvan as ons nie vanjaar die wintersvakansie, of enige ander, uitspattig kan beleef nie? Wat daarvan as ander mense voel dit is belangrik dat die hele dorp hul vakansie se doen-en-late weet? Wat daarvan indien mens die vakansiepaaie uit jou geheuekis gaan haal, die foto’s afstof en die lekkerte daarvan terugroep?

Ons het so gewoond geraak om die slegte van gister te begrawe onder die uitsien na môre, dat die goeie van gister saam begrawe word. Hier waar ek voor ‘n kaggelvuur sit, met die mooiste vroutjie op die bank langsaan, met die warmte van ‘n liefdevolle huis, kan ek bekostig om my kis van goeie herinnering oop te maak. Om die lekkerte van ‘n vakansie by Knysna met ‘n ses-weke-oue seuntjie te herroep. Om die lekkerte van vakansie op Hentiesbaai te herroep. Om die kaggelaande en sonskyndae in die Sederberge te herleef. Om die koue water van Strandfontein te voel en die uitsig van die mooiste sonsondergang vir die honderdste keer af te neem. Om die stil en rumoerige tye van die Weskus te ken. Om deur al die kiekies van mens se geheue te blaai en te sukkel om die glimlag op jou gesig te keer.

Ons elkeen het so ‘n pak vakansiefoto’s êrens. Party se pakke is voller as ander en die albums beter saamgestel, maar op die een of ander manier is dit daar. Die aangenaamste deel van hierdie “vakansie” is om nie te wag tot die gedagte daaraan genoodsaak word nie, maar om gereeld uit dankbaarheid die geheuekis oop te maak en te sien dat die drome en smagte, reeds waar geword het.

Hennie Fritz

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top