Winterseer

  • 0

Foto: Canva

Winterseer

Swaar dra hy die winter se donkerdood
skurf en verweerd groei oral
oor ’n honderd jaar se yskoue lyf
waar die krake in swart gerypte bas skuil

’n moeë sug ontsnap saggies sonder woorde
verdiep in sy eie bewolkte denke
verblind deur malende gedagtes
dreun selfbejammering-martelaarskreun

alleen is sy gevoel
in ’n besige bebosde woud
skarrel alles wat leef en beef
om te oorleef met net te min tyd

geluidloos kom lente aan geswewe
 ’n sonskyndag wat wemel van lewe
tussen die gedruis van klanke
ongemerk en stil

en sou hy net ag wil gee
sy gevoel in die gewoel verskuif
’n blik op die oomblik wil merk
ontvou uit die donker nuwe grasgroen lewe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top