Willem Top

  • 0

Ek wonder laatmiddag oor Willem. Oor wat sy van is. Want ek het hom maar kom kry as Willem Top. Van sy pa af, sien. Ook Willem. Waar die Top deel vandaan kom weet nugter. Plaasklong grootgeword in ’n plaasarbeider huis. Goeie godvresende en hardwerkende mense die Toppe. Dit het lank oortuiging gekos om vir ou Willem te oortuig om vir pension aansoek te doen. want ou Top was mank, of kruppel as jy wil. Een voet altyd so half agter die anner ene. Asof hy nie wil saamwerk nie. En tog het Ou Top elke dag voordag in sy werk gestaan. Kruppel ofte not. Ek wonder dikwels oor die nuwe generasie bakhand staanende luigat papbroeke as ek terug dink aan ou Top: Vat net een dag uit hierdie man se lewe en vat dit huistoe en loop dink ’n slag voor jy klip optel.

Willem Top Junior moes dikwels harde bene kou onder moeder: Rose Bruintjies. Statige harde vrou wat g’n nonsense van enigeen gevat het nie. En nooit ’n dag kouse gedra het nie. Ek het haar eendag uitgevra oor die kaal skoene en sy het beduie dat die kouse die skoene te knap vir gemak maak. "En djy los my skoene uit, boertjie, voor ek jou donner hier voor jou pa. Hulle is betaal met hierdie hanne van my." Ek kon ’n vlugtende ’sorry antie’ uitkry want ek het gesien Ra Mavenster het net so ’n lang kyk gegee oor ek so hals met ’n groot vrou vrae vra.

So het klein Willem Top, omdat daar op die plase net nie genoeg geleentheid was nie maar by die "geboue" loop aanklop. Begin as handlanger en stadig gevorder na ’n Brickey waar hy vandag is. Bitter min skool gegaan want die skool op die plaas het net tot standerd vyf gegaan en ou Willem het gou agtergekom dat die bus hoërskool toe verniet loop waar dit Klein Willem betref, want hulle het vir klein Willem altoos iewers tussen die beeste of tussen die boorde gekry. En Groot Willem besluit het dat hy nie verder die goewerment se geld sal mors met die bus nie. En so is klein Willem basies kleintyd uit die groot skool gehaal en verder grootgemaak met plaaswerk en soos ek sê, uiteindelik as ’n meesterbouer soort van.

Ek sê soort van want Willem het geen formele opleiding ondergaan nie. Wel beter opleiding geleer want hy het die fout gemaak, as jy dit so wil noem, om by Jose Cunha te loop werk soek as handlanger. Jose is bekend dat hy eers klap en as hy geklap het en jy is nie neer teen die grond nie dan gebruik hy maar vuiste. Kliphardegat Wambo wat doerie jare terug hierdie land verkies het bo Angola. Kan nog half Portugees praat. Willem het eendag beduie dat hy baie pakke moes vat by Jose voor hy geleer het. Ek is redelik seker as Jose wit was sou hy doerie jare al in die tronk gewees het.

Willem het bekend geword as ’n vakman op wie mens kan staatmaak. Ken altyd beter en moet altyd eers sy eie kop volg. En later regmaak. Weier om raad te vat. Want hy is so gebliksem soos hy altyd beduie. As daar werk opkom dan is die eerste woord: Loop roep vir Willem. So het ons menige huise gebou en afgegee al is daar woes vloeke heen en weer uitgedeel so met die bou saam.

Ra Mavenster was nog nie behoorlik koud nie toe Willem kom loop verneem oor die graf. Want dis mos maar soort van ons Forte: Grafte uitbou. En die graf word in die reën en in haas uitgebou en die dag na die groot okkasie beduie ek vir Willem oor die rekening en hy sê vir my: "Dit het niks met jou uit te waai nie, dis tussen my en die Ou man, los ons alleen, ons sal dit eendag uitpraat."

Bokkie (Top se vroutjie) kom vannaand slinger-slinger en baie slim hier in. Lag kaalbek vir haar eie aanmerkings. Ek vra oor waar Willem is want ek het gesien hulle kom haal hom vanoggend voor sewe al. "Wat se daai Boertjie?" Hoor ek ’n stem van buite af. "Nee, ek wonder maar net hoe jou vrou so kom en jy moet stene pak."

"Los haar af, ek en sy gaan netou lank praat"

"Gun jy my dan nie eens ’n dag vir myself nie?" Lag sy kaalmond in my rigting asof ek moet saampraat en ek kyk annerkant toe. "Dit is mos vakansie en ek en die klogoete het maar net daar op die gras by die hotel gele en hulle het gespeel op die gras...."

"Kry jou goed lat ons loop," beduie Willem. "Moet die klogoed soveel lekkergoed vreet?"

"Ek weet hoeveel djy gepay het en jy gee net hierdie bietjie af" beduie sy na die hand vol opgefrommelde R100 note.

"Weet jy van iemand wat haar van my hanne kan afvat, Boertjie?" (ek wonder nog altyd waar die Boertjie vandaan kom).

"Kom nou, Bokkie ek moet loop kosmaak, man."

Ek sien die man is regtig moeg gewerk. Dis nie sawwe werk om ’n huis klaar te bou nie.

Ek stap uit soos ek maar met meeste doen en ek sien hoe hy sukkel met die pakkies en die pocket artappels op die skouer en die klogoete wat al om sy bene is. Hy stap en draai om en stap en draai om. Roep elke keer: "Here, Bokkie kom nou aan, man, die kinders moet kos kry!"

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top