Wil ons ooit helde wees?

  • 2

In die werklikheid vermy ons gewoonlik misdadigers, skurke, buitestanders of mense wat talle negatiewe eienskappe soos selfsug, dweepsug, bekrompenheid, gebrek aan standvastigheid, vasberadenheid of selfs moed vertoon.

Dit is egter nie die geval wanneer ons lees nie. In fiksie is ons dikwels gefassineer deur misdadigers, buitestanders en swakkelinge – veral as daardie “monsters” menslike eienskappe vertoon, moreel kompleks is en sodoende die grense tussen “held” en “skurk” laat vervaag. Ook is dit moontlik om in die literatuur skurke, swakkelinge en moreel-komplekse figure te verbind: in die figuur van die antiheld, wat net so dikwels soos die figuur van die held in letterkunde – maar ook in films, musiek, TV-programme en talle ander vorme van populêre media – voorkom.

Wie of wat is die antiheld?

Dikwels is hy (kom ons maak hom maar ’n “hy”) ’n buitestander wat anders as die samelewing, groep of gesin waarin hy hom bevind, dink en optree. Ook vertoon hy eienskappe wat nie noodwendig met heroïsme verbind word nie: kwaadwilligheid, selfsug, sarkasme, gewelddadigheid, materialisme, gewetenloosheid,  moedeloosheid, onsekerheid en wroeging is alles karaktereienskappe wat bekende fiktiewe antihelde besit. Dink maar aan Alex in A Clockwork Orange, Severus Snape in die Harry Potter-reeks, Alexander Portnoy in Portnoy’s Complaint van Philip Roth, Jay Gatsby in The Great Gatsby van F Scott Fitzgerald, Scarlet O’Hara in Gone with the wind van Margaret Mitchell, Holden Caulfield in Catcher in the Rye van JD Salinger, Huckleberry Finn, Tom Ripley en Robin Hood. Henry in Sewe dae by die Silbersteins van Etienne Leroux, en Diederik in Die son struikel van Dolf van Niekerk is ook voorbeelde van buitestanders in die Afrikaanse letterkunde met voldoende innerlike konflik en redeloosheid om van hulle antihelde te maak. 

Nou is die vraag egter: het kriminele figure in letterkunde morele regverdiging vir hulle dade nodig? En hoe assosieer mens met ’n karakter wat mens in die realiteit dikwels vermy? ’n Figuur soos Robin Hood steel van die rykes vir die belang van die armes en swakkeres. In die konteks van vandag val hierdie noodsaaklikheid van morele regverdiging egter weg. Die leser hoef nie noodwendig met alles van die karakter saam te stem om hom/haar met hom te vereenselwig nie. Die leser kan ook met die antiheld assosieer deurdat sy (kom ons maak haar ’n “sy”) analogieë vorm met daardie dele van die antiheld se persoonlikheid wat sy wil behou (byvoorbeeld sy humor, slimheid, kreatiwiteit, intelligensie, oorspronklikheid, fisiese skoonheid of interessantheid) en daardie dele wat sy afkeur, ignoreer. Die feit dat die karakter byvoorbeeld mense doodmaak, seermaak of besteel, die agterbakse planne wat hy beraam, sy leuens en bedrog, word deur die leser misgekyk sodat sy met daardie karakter kan identifiseer. Die leser vereenselwig haar dus nie volledig met die antiheld nie, maar daar neem nietemin ’n oordrag plaas van daardie eienskappe van die antiheld waarmee sy haar kan verenig.

Wat is die funksie van die antiheld in fiksie?

Mens sou kon sê dat die antiheld aan ’n verhaal ’n spannende element gee. Dit is die komponent wat die verhaal méér as net ’n eendimensionele verhaal van “helde” en “skurke” maak. Ook sou mens kon sê is die buitestander ’n romantiese “monster” wat in sy stryd om erkenning dominante strukture van superioriteit/minderwaardigheid uitdaag. Juis hierdie figure se gebrek aan erkenning, dikwels met marginaliteit geassosieer, maak hulle voorbeeldige figure in die stryd teen die status quo. Kultuur of tekste is die ruimte waar hierdie konflik of stryd op simboliese vlak afspeel.

Maar moet die leser haar noodwendig met die karakter assosieer? Natuurlik bestaan daar ook die moontlikheid van dissosiasie. Fiksionele tekste en die antihelde wat daarin voorkom, kan ook uitdaag, irriteer of afstootlik wees. Die antiheld kan ons aanhits om ons opinies of blik te verander en ons emosionele geneenthede gedurende die leesproses te verskuif. Want wil ons regtig helde wees?

Laat gerus weet wat julle dink en tot volgende week

Rentia

  • 2

Kommentaar

  • Hallo Rentia

    Is die letterkundige gehalte van die fiksie nie grootliks  gekoppel aan waar op die skaal van realiteite
    die skrywer die mengsel van vereenselwiging en dissosiasie plaas nie en hoe oortuigend sodanige plasing van die mengsel  ooreenstem met lesers se waardestelsels?

    Vriendelike groete

    Henk Seymore
    4 September 2013

  • Rentia Bartlett-Möhl

    Hallo Henk,

    Ja mens kan dit seker so stel ja. Dit is net vir my interessant om uit te probeer vind wat dit is wat ons aan sekere karakters in fiksie aantrek en wat ons daarvan afstoot. Probeer ons ons eie lewe verbind aan die verhaal? Assosieer ons onsself met karakter(s) of juis nie? Wat is die gaping tussen ons lewe en die teks/ verhaal? Word stories geleef of word dit vertel? Ek dink daar is geen finale antwoorde op daardie vrae nie, maar dit bly vir my fassinerend.

    Dankie vir jou kommentaar.
    Rentia

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top