Wie was Recht Malan?

  • 5

Geagte Redakteur

Wie was Recht Malan?

Die internet swyg oor hierdie vraag, maar lei my darem na LitNet!

Op LitNet lees ek oor die Recht Malanprys, maar kry ek nog steeds geen inligting oor die man nie. Sou iemand my kortliks kon inlig?

In my oom Gideon Roos se memoires, wat ek tans redigeer, verwys hy na Recht Malan as “die groot onbekende Afrikaner” – en nog steeds, lyk dit my, bly Malan onbekend.

Ek sal enige inligting baie waardeer.

Met dank

Lynette Paterson

  • 5

Kommentaar

  • Barend Van der Merwe

    Hy was 'n joernalis. Later grootbaas van Nasionale Pers (Naspers). Gebore 1901 oorlede 1981.

  • Lynette Paterson

    Baie dankie vir inligting oor Recht Malan. Ek kom toe ook intussen af op die volgende oor hom, in die koerantman Schalk Pienaar se boek, Getuie van Groot Tye (pp.30-31): HR (Recht) Malan, assistent-redakteur van Die Burger, daarna bestuurkant-toe bevorder, waar hy uiteindelik besturende-direkteur en later voorsitter van die direksie geword het. Pienaar sê verder oor hom: "Recht Malan sou ek noem die grootste onbekende Afrikaner. Na buite toe het hy bitter min van homself laat sien of hoor. Hy het Nasionale Pers geëet, geleef en geslaap. 'n Koel kop in elke storm. Wesenlik 'n eensame man, wat alleen sal staan teen duisende as sy oortuiging hom so lei." 'n Waardige prys, die Recht Malan-prys!

  • Heinrich Matthee

    Ja, die internet is oor etlike historiese sake 'n beperkte bron. Jaap Steyn se biografie van MER bevat baie verwysings na Recht Malan. Sy pa was MER se predikant op Swellendam, hyself haar skolier. Later het hy haar bv. na Langenhoven se begrafnis geneem. MER het hom beskryf as "'n regskape mens, oordeelkundig en baie intelligent; en groothartig daarby." (JC Steyn, Die honderd jaar van MER, bl 453). Voorspoed met die soektog.

  • Recht Malan was die seun van Ds Dawie Malan wat predikant op Swellendam was en op 30 jaar oorlede is. Recht en sy ouer broer, Vrede, is beide na die Boere-oorlog gebore.
    Dominee Dawie was 'n jonger broer van FS Malan, redakteur van Ons Land, wat gedurende die Boere-oorlog in die tronk in Tokai was.
    FS Malan en sy broer Charlie Malan het beide in die Smuts-kabinet gedien, hulle broer DG Malan was aan die Kweekskool op Stellenbosch verbonde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top