Ek verwys weer na die debat wat Vrydag op RSG uitgesaai is.
Een van die inbellers het te kenne gegee daar word ’n klomp onsin gepraat en hy gaan nie verder luister nie; hy gaan gras sny. Die algemene gevoel onder die gassprekers was dat dit nie die manier is om op te tree nie; ek het so half die gevoel gekry hulle voel dis lyf wegsteek, kop in die sand druk soort van storie.
Nie lank daarna nie, verwysend na juis die naam van die debat, beweer ’n inbeller dat dit Afrikaans slegter daaraan toe is onder Bruin bestuur en verwys na die agteruitgang van Afrikaans by Maties en Kovsies. Die enigste reaksie hierop was Diana Ferrus se aanmerking oor "bagasie"; almal moet poog om van bagasie ontslae te raak en hier kom voeg hierdie ou nou nog bagasie toe.
Is dít nie kop in die sand druk nie? Volgens my waarneming het hierdie ou ’n korrekte waarneming gemaak en ek en hy mag verkeerd wees maar niemand het ons van die teendeel probeer oortuig nie, of ’n rede gegee hoekom dit ’n vals persepsie kon wees nie. Ek, en gevolglik baie ander luisteraars, word dus met die gedagte gelaat dat hierdie inbeller die spyker op die kop geslaan het.
Ek moet sê, ek dink as daar iemand op die paneel was wat heelwaarskynlik saam met hierdie inbeller kon stem is dit Dr Titus; hy’t immers op ’n kol genoem dat hy nie saam met Dr Alexander stem oor dat ons nie vyandig teenoor Engels moet wees nie want volgens eersgenoemde is Engels besig om erg onder die Bruin gemeenskap toe te neem.
Miskien sou die amper dr-dame (Odendaal?) ook saamgestem het maar dit sou nie ’polities korrek’ gewees het nie; die wittes was oor die algemeen, soos in die daaglikse lewe, paaiend en skoorvoetend waar die bruines (miskien met uitsondering van Titus) beskuldigend en aggressief was.
Dinge is so erg dat dit lyk asof die Afrikaners, elke keer voor hulle beswaar maak teen die geboelie van Afrikaans, eers hulle bona fides moet bewys deur as’t ware die bruines se goedkeuring te vra en ook ’n besigheidsplan in te dien van hoe hulle die 8 ander landstale gaan stoot. Dis onsin, die "wit groep" soos Magdaleen hulle noem het niks om voor verskoning te vra nie. Dit is tyd dat die bruin groep ten opsigte van ons taal (ons almal se taal!) hulle slagofferhouding staak en hand uit die mou steek.
Ter afsluiting moet ek Lynette Francis komplimenteer; sover het ek nog nie een keer gesien dat sy haar humeur verloor of ongeskik raak nie, selfs al word sy partykeer erg in die hare gevlieg.
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap,
Nou praat jy man? — sommer namens my ook.
Panda
Maar Afrikaans is mos en word gekaap deur die "wit groep" as wapen in die stryd teen verlies aan politieke en sosiale mag. Die bevoordeling van Afrikaans as staatstaal was 'n embleem van Afrikaner oorheersing in die vorige bestel. Die keuse van hoër middelklas Afrikaner uitspraak en woordgebruik as standaard Afrikaans kom tog neer op besitneming daarvan.
As 'n mens wil praat van inklusiwiteit of diversiteit dan moet die idee van 'n standaard laat vaar word en moet daardie diversiteit gehoor word.