
Paul Mashatile (Photo by UNCTAD - Session IV - Equality of opportunity versus equality of outcome, CC BY-SA 2.0.)
...
Enigeen wat al met Mashatile te doen gekry het, sal kan getuig dat hy ’n innemende, intelligente, gekultiveerde en ingeligte persoon is – wat bepaald ’n massiewe verbetering op Mabuza sal wees.
...
Hy staan op die punt om ’n hartklop weg van die hoogste sport in die Suid-Afrikaanse politiek te wees as hy adjunkpresident van die land word, maar pres Cyril Ramaphosa lyk maar taamlik traag om hom aan te stel. Hy is Paul Mashatile (61), wat in Desember verlede jaar tot adjunkpresident van die ANC verkies is, en hy was die afgelope paar jaar taamlik uit die openbare oog.
Traagheid is natuurlik ’n eienskap waarmee Ramaphosa nie onbekend is nie. Maar die mees onlangse beweerde stukkie onbeholpenheid in die presidensie, met adjunkpresident David Mabuza wat blykbaar bedank het, of dalk nie (maar niemand is seker nie, want Ramaphosa is banger vir mediakonferensies as die duiwel vir ’n slypsteen – hoekom dan tog?), is nogmaals aanduidend van ’n verwarde, oninspirerende, slap president en presidensie.
Ramaphosa se getalm om Mashatile ’n hartklop (of ’n opsy staan!) weg van die presidensie te plaas, laat veral die tonge klap omdat die Phala Phala-petalje met sy bewerings van belastingontduiking, polisiebedenklikhede oor grense heen en verskeie ander naarhede straks tot vervolging van die plaaseienaar sal lei – wat sal beteken CR moet terugstaan en die adjunk moet die roer van Skip Suid-Afrika gryp.
Nou wonder mense of Mashatile regtig ’n Cyril-man is. Sy politieke lewensverhaal is aan die een kant so konvensioneel as wat iemand se opgang in die ANC-politiek maar kan wees, maar aan die ander kant was Mashatile nog altyd polities ’n onafhanklike denker en ’n buiteperd om wie bewerings van omstredenheid – bewese en onbewese – maar gedurig warrel.
Paul Shipokasa Mashatile is in 1961 in Pretoria gebore. Sy pa was ’n lekeprediker en sy ma ’n huisbediende. Sy politieke loopbaan het in 1982 in die Johannesburgse township Alexandra begin, met hom as studente-aktivis. Hy woon in 1983 die stigting van die United Democratic Front (UDF) in Mitchells Plain by, en dien van 1985 tot 1991 as sekretaris van die UDF in die destydse Suid-Transvaal, waar hy ten nouste saam met die latere president. Kgalema Motlanthe. werk, en waar dié twee ’n blywende vriendskap smee.
In 1994 word Mashatile verkies tot die wetgewer van die destydse PWV-provinsie, wat kort daarna tot Gauteng herdoop is. Van 1996 tot 2008 dien hy in ’n wye verskeidenheid portefeuljes as LUR, waar hy ’n hegte band met twee van die destydse Gautengse premiers, Tokyo Sexwale en Mbhazima (Sam) Shilowa, ontwikkel.
Met die ander destydse faksie van die Gautengse ANC (wat die egpaar Mathole en Angie Motshekga en die later so berugte Nomvula Mokonyane ingesluit het) kom hy glad nie oor die weg nie, en hy delf twee keer die onderspit teen Motshekga (die huidige minister van basiese onderwys) in wedlope om die adjunkvoorsitterskap (dis die provinsiale onderleier) van die Gautengse ANC.
Maar in 2007 klop Mashatile vir Mokonyane en word hy Gautengse ANC-voorsitter (provinsiale leier) – ’n pos wat hy tot in 2017 sou beklee. In die groot wedloop tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma om die ANC-leierskap in 2007 ondersteun Mashatile nie een van die twee groot bulle nie. Hy wys sy onafhanklike streep (en sy lojaliteit) met sy steun vir die gedoemde leierspoging van Sexwale. Trouens, een ding van Paul Mashatile wat so vas soos ’n klipsteen staan, is dat hy absoluut nooit vir Zuma ondersteun het nie. As Gautengse ANC-leier was hy deurgaans ’n doring in Zuma se vlees – openlik en onbevrees.
Toe Shilowa in 2008 as Gautengse premier terugstaan, het Mashatile kortstondig premier geword, maar soos almal weet, dra Zuma verbete aan sy wrokke, en hy het toegesien dat Mokonyane Gauteng se premier word, met rampspoedige gevolge vir die provinsie. Mashatile het eers ’n agterbanker geword in die Nasionale Vergadering – ongehoord vir ’n provinsiale ANC-voorsitter – en is toe darem van 2010 tot 2014 deur Zuma in die kabinet opgeneem in die onwaarskynlike rol van minister van kuns en kultuur.
Nogtans het Mashatile in 2012 weer sy onafhanklike streep gewys toe hy sy ou kameraad, Motlanthe, teen Zuma gesteun het by die ANC se nasionale konferensie in Bloemfontein. Hy was die Motlanthe-faksie se kandidaat vir die pos van tesourier-generaal, en het teen Zweli Mkhize verloor. Mashatile het as Gautengse ANC-voorsitter een van Zuma se mees uitgesproke kritici gebly. Hiervoor het hy duur betaal. Zuma het hom in 2014 uit die kabinet gelaat en dit was weer agterbanke toe vir Mashatile.
Dit het by die 2017-konferensie van die ANC verander. Mashatile was nogmaals ’n voorstryder teen Zuma, en was hierdie keer naelskraap aan die wenkant in die wedloop om die posisie van tesourier-generaal, waar hy gewen het teen Maite Nkoana-Mashabane – iemand wat veral bekend is om haar aanspraak dat sy ’n gat in haar kop het. Dit word dan ook algemeen geglo.
Aan die begin van verlede jaar is die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, weens hofverskynings oor korrupsie genoop om opsy te staan uit sy amp. Met Magashule se adjunk, Jessie Duarte, ernstig ongesteld (sy is ses maande later oorlede) het Mashatile boonop albei van hulle se take ook op hom geneem.
By Desember verlede jaar se ANC-konferensie in Johannesburg het Mashatile ’n gemaklike oorwinning behaal in die stryd om adjunkpresident te word. Van die sewe verkose top amptenare wat die ANC-afgevaardigdes aangewys het, was Mashatile die enigste wat nie gemaklik by die Zuma-faksie of die Ramaphosa-faksie ingedeel kon word nie. Hy is selfstandig.
Daar is skadu’s in Mashatile se politieke geskiedenis. Noem sy naam, en ervare politieke waarnemers mompel kort voor lank “Alex Mafia”. Dit verwys na ’n groep Gautengse ANC-politici, van wie Mashatile die prominentste is, met hul wortels in Alexandra. Die bewering van selfverryking, korrupsie en wangedrag deur hierdie groep is egter, vir wat dit werd is, deurtastend ondersoek deur die befaamde oudregter Jules Browde, en hy kon geen gronde daarvoor vind nie.
Meer kommerwekkend is die besliste finansiële ongerymdhede met die betaling van ANC-personeel tydens Mashatile se ampstyd as tesourier-generaal, en die chaos met akkreditasie tydens die afgelope Desember se nasionale konferensie, waarvoor sy sekretaris-generaal-kantoor grootliks die skuld moet kry.
Aan die positiewe kant is daar hoë lof vir Mashatile se insette as LUR tydens die konstruksie van die Gautrein-projek, wat steeds ’n juweel in Suid-Afrika se redelik gedaan kroon is. Enigeen wat al met Mashatile te doen gekry het, sal kan getuig dat hy ’n innemende, intelligente, gekultiveerde en ingeligte persoon is – wat bepaald ’n massiewe verbetering op Mabuza sal wees.
Hy is ’n wewenaar met vier kinders, wie se vrou hom in 2020 ontval het.
Mashatile, wat enkele dae gelede weer as parlementslid ingehuldig is, nadat hy vyf jaar voltyds in die ANC-hoofkantoor gewerk het, sal wys wees as hy die vertraging voor Ramaphosa se uiteindelike kabinetskommeling sou gebruik om sy kop skoon en reg te kry. Hoër diens roep; dalk selfs die hoogste diens as sy trae meerdere miskien opsy moet staan oor die vreemde gebeure wentelend om ’n sitkamerbank vol geld op ’n plaas in Limpopo, nè?


Kommentaar
Dankie. Dit was baie leersaam.
Dankie, wonderlik, informatief, nog.