Hoe lyk Die bleek man op my hakke?

  • 2


Titel: Die bleek man op my hakke
Skrywer: Harriet Christou
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624054979

 

Koop Die bleek man op my hakke by Kalahari.com.

Dit is altyd vir my opwindend om te sien dat ’n boek gepubliseer word wat handel oor iemand se belewenis van hul geestesversteuring. Meer nog so as dit geskryf is deur ’n persoon wat dit self beleef het. En veral dan in Afrikaans. Vir té lank het ander hulle dit veroorloof om namens dié wat ’n geestesversteuring beleef, te praat en te skryf. Dis nodig dat ons die stem hoor van dié wat, op ’n manier, die beste gekwalifiseerd is om daaroor te skryf. In haar boek Die bleek man op my hakke pak Harriet Christou hierdie uitdagende taak dapper en heldhaftig aan. Dis dapper, want sy is bereid om haarself bloot te lê deur baie intieme en brose ervarings met die leser te deel. En dit is heldhaftig, want sy maak dit moontlik vir ander om dieselfde te doen.

Sy voer die leser mee op die skoppelmaai-rit wat haar lewe verteenwoordig, sodat die leser aan die einde van die lees daarvan self nie seker is wat werklikheid en wat skyn is nie. Dit gee die leser ’n smakie van ’n lewe met skisofrenie. En dit is uiteindelik die doel van boeke soos dié: om die leser iets te laat ervaar van die leefwêreld van die persoon wat aan ’n geestesversteuring ly. En dít kry sy met sukses reg.

Deurgaans spreek sy belangrike kwessies met eenvoud en helderheid aan. Kwessies wat elke persoon met ’n geestesversteuring tog só goed ken: vooroordele, die vernietigende effek van geestesversteurings op verhoudings, die saamloop van verskeie versteurings wat so dikwels deel is van die leefwêreld van dié wat met geestesversteurings saamleef, en die hanteringsmeganismes wat met dapperheid, en soms uit desperaatheid, gevind word.

Sy slaag ook daarin om die belangrike rol wat ondersteuning en die versorging van ander in die lewe van die skisofrenielyer speel, onder die aandag van die leser te bring. Só ook die deurslaggewendheid daarvan om ernstig opgeneem en gehoor te word.

En op hierdie manier voed sy as’t ware die leser op en maak haar en hom sensitief vir ’n ander wêreld. Harriet Christou help om in ons samelewing te bou aan ’n broodnodige bewustheid van en uiteindelik ook ’n verdraagsaamheid teenoor die persoon wat anders as ek is.

Sy beeld haar pad uit met geloof wat, vir baie soos sy, onlosmaaklik ineengeweef is met skisofrenie as ’n tweesnydende swaard of, in die konteks van haar verhaal, ’n lemmetjie: dit bou op, dit breek af. Mens kry die indruk dat sy haarsélf soms probeer oortuig.

Sy werp ook lig op die gebrek vanaf regeringskant om geestesgesondheid ’n prioriteit te maak en voeg só haar stem by dié van vele ander.

Die boek is nie hoogdrawend geskryf nie. Die skrywer draai ook nie doekies om nie en noem die kind by sy naam. En dis goed so. Plek-plek is die beelde en beskrywings skokkend en grusaam. Weer eens laat dit die leser in haar leefwêreld in – ’n leefwêreld wat nie aldag mooi is nie, en nie noodwendig ’n sprokieseinde het nie. Want die boek is nie ’n sprokie nie. Dis die werklikheid. Maar ten spyte daarvan sluit sy die boek af met hoop. Hoop vir haarself en hoop vir ander wat ook hul aldag met skisofrenie aanpak. En dis dan, glo ek, die ander doel van haar boek: om te bemoedig. En ek glo dat sy dit, deur haar verhaal padlangs te vertel, waarlik regkry.

Die boek mag jou insig gee, dit mag jou sensitiewer maak én dit mag jou skok. Maar hopelik sal jy nie jammer wees dat jy dit gelees het nie. Lank na jy die boek neergesit het, sal haar beelde jou nog bybly. En met rede.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Elsabé Brits

    Ongelukkig maak die gebruik van die waarlik afstootlike woord  "geestesversteuring" afbreuk aan die resensie. Hoe kan 'n mens se "gees", indien daar so iets is, versteurd wees?

     Dit impliseer ook dat die "gees" deur iets anders as biologiese en mediese ingryping behandel moet/kan word. Of dat jy jouself net emosioneel of geestelik moet regruk en dan sal jy genees word van 'n lewenslange chroniese toestand soos skisofrenie.

    Taal moet soos kultuur aanpas. En dit is tyd dat woorde soos hierdie uitgewerk word omdat dit Middeleeus is. Die woord psigiatriese siekte - is nie net medies korrek nie, maar omvat alle toestande onder een sambreel.  Of dan sielkundige gesondheid/psigiatriese gesondheid.

    Maar dit is tyd dat die "gees" gaan.

    Elsabe Brits

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top