Destyds, met die aanvang van die Nuwe! Verbeterde! SA (erkenning aan Anton Barnard) het ek gereken hier kom nou ’n ding: Die Engelse universiteite gaan nou oorstroom word deur swartes; hulle sal wegbly van die Afrikaanse universiteite want sedert ’76 leer hulle nie eers meer Afrikaans op skool nie, hulle verpes mos Afrikaans. Ek het gedink ons Afrikaners gaan die hele petalje met ’n kry-vir-julle-houding gadeslaan en rustig voortgaan met ons heerlike studentelewe op ons skoon kampusse en in ons skoon koshuise. Lekker man, lekker.
Dit werk toe nie so nie. Swart studente daag in hordes by Afrikaanse universiteite op en eis om in Engels onderrig te word, nie Tswana nie, nie Zoeloe of Xhosa of enige van die ander swart tale nie maar Engels.
Wat het hulle so iets laat doen? Hulle het dit nie in die grondwet gekry nie want nêrens daarin is bepaal dat jy as X-talige na ‘n Y-talige universiteit toe kan gaan en eis om in taal Z onderrig te word nie. Daar is ook niks van dat jy, as P-talige, kan kla dat taal Q jou uitsluit en dus wil jy hê hulle moet jou in taal R onderrig nie.
Alhoewel al elf tale volgens die grondwet op gelyke voet is kan ’n klomp Afrikaanse, Zoeloe- en Tsongastudente nie by Wits opdaag en eis om in Pedi onderrig te word nie, net so absurd is dit as ’n klomp Tswana-, Sotho- en Xhosa-studente by Tukkies/Kovsies/Potch/Stellenbosch opdaag en eis om in Engels onderrig te word en tog is laasgenoemde aan die orde van die dag.
So, wie het hulle opgesteek? Kan net die Engelse universiteite wees. Nou nie dat ek sê die proffies en lektore het die townships ingevaar en met alle voornemende studente daar vergader nie, maar op een of ander manier het hulle dit bewimpel. En van lankal af al; hierdie NSA se geboorte is al lank op die boeke en die oorhaal tot virtuele selfmoord geskied nie oornag nie – hulle moes bondgenote kry (oortuig, dreig, armdraai, kopsmokkel, smeek, om die bos lei) onder die Afrikaanse universiteite se doserende personeel en administrasie.
En dit gebeur toe so, swart studente stroom die Afrikaanse universiteite binne en dinge werk toe nie meer so lekker nie; huisvergaderings moet Engels wees, anderster musiek vul die koshuisgange en die lesings self word vertameletjieteer met tolke en tweetalige aanbiedings en wie wie wat nog.
Ek het voorheen hieroor gepraat op SêNet, ‘n jaar of twee-drie gelede en een van die Matieproffies vertel my toe ’n universiteit is ’n besigheid, hulle moet studente werf. Die Engels maak nou dat hulle meer studente kry en meer studente beteken meer geld vir die universiteit. Ek sê toe vir hom dit maak nie sin nie want hierdie studente, ’n groot klomp van hulle, betaal doodeenvoudig nie en het studiebeurse en lenings nodig, alles ’n finansiële las op die universiteit. Hy het nie hierop geantwoord nie.
Dit was die grondliggende doel van die oopgooi van die deure; om die finansiële las te deel met die Engelse universiteite. Daar word dikwels aangevoer dat universiteite grootliks deur staatshulp aan die gang gehou word en, sou die Afrikaanse universiteite nie ook Engels as onderrigtaal instel nie, hierdie hulp weggeneem sou word. Dit is onsin, dit is ’n verskoning. Die grondwet waarborg taalregte en dit is die reg van ’n Afrikaanse student om in Afrikaans onderrig te word. Daar is nie ’n manier wat die grondwet byvoorbeeld ‘n Pedi-dosent kan verplig om ’n kind in Zoeloe te leer net omdat die kind dit wil hê nie, so ook nie ‘n Afrikaanse dosent om nou skielik in Engels te begin klas gee nie.
Die Afrikaanse universiteite se magte die syn is gevang met ’n slap riem en ons, die res van die Afrikaners, kyk gelate toe. Ons is dus aanspreeklik, want weer eens het die Engelse ons uitoorlê. Hulle lag in hulle mou vir ons gebakte pere.
Jan Rap


Kommentaar
Jan Rap, jy spreek effe die waarheid. Die meeste Afrikaners gaan net gelate toekyk en niks doen nie. Miskien gee hulle maar net nie regtig om nie, want ons almal weet tog ons is minderwaardig en die Engelse is brutaler ... ek bedoel, beter. Wat jou aanmerking oor die Matieproffie wat meen dat universiteite besighede is betref: siedaar, die ondier! Die ondier genaamd neo-liberalisme - net dit wat geld maak het 'n bestaansreg.
Dis nes jy daar sê Curt.