Baie keer word gevra wie die Afrikaner is en gewoonlik deur moedswilliges wat ’n politieke agenda het. Wie is dan ’n Afrikaner? Vir eers moet ons weet daar is ’n verskil tussen ’n Afrikaner en ’n Afrikaanssprekende.
Afrikaanssprekendes is almal wat Afrikaans praat en uit verskeie groepe kom. Die Afrikaner daarteenoor is ’n inheemse volk van Afrika met ’n eie unieke kultuur, geskiedenis, tradisies en erfenis. Verder het die Afrikaner ook sy eie Boererepublieke gehad en vier ook Geloftedag op 16 Desember wat hom baie uniek maak. Nie alle Afrikaanssprekendes is dus Afrikaners nie en netso is nie alle witmense Afrikaners nie.
Die Afrikaner het baie bygedra tot die opbou van hierdie land en behoort groot erkenning daarvoor te kry, maar al wat die Afrikaner kry is dwarsklappe en word gedurig die skuld vir alles gegee deur diegene wat nie verantwoordelikheid wil vat vir hul eie mislukkings nie, maar altyd op soek is na ’n sondebok. Feit van die saak is dat die Afrikaner nie gaan verdwyn nie, maar hier is om te bly. Ons as Afrikaners weet dus wie ons is en moet trots wees daarop. Ek is ’n trotse Afrikaner en nie skaam om dit te sê nie. Wat sê u, die leser?
Frik Lotz


Kommentaar
Nes jy daar sê Frik.
Frik, al die vraag gevra, na ABO, wie is die Anglikaner, wie die Boer en wie die Afrikaner?
Ek het beide my oumas uit ABO geken, maar nie die oorspronklike oupas nie. Hul was vroeg dood, agv swaarkry in ABO. My oumas het tot in 1960's en 1970's gelewe. Destyds was ek skaam vir die twee ou tannies, deesdae besef ek die waarde van my herkoms.
So, ek weet wie ek is en gee min om wie die volgende ou dink hoe hy of sy hulself wil definieër. Ek maak ook geen geheim van my herkoms nie.
Hans. ek neem aan met ABO bedoel jy die Tweede Engelse oorlog. Aan my ma se kant het ek my oupa en ouma geken - my oupa was 'n penkop en my ouma 'n dogter van 14 in die konsentrasiekamp. Ek het met my ouma gesels (sy's oorlede hier 1980 rond), sy wou nie eintlik praat nie maar ek was so ses toe my oupa oorlede is. Aan my pa se kant het ek ook my oupa wat in die oorlog was geken maar ek was so vier toe hy oorlede is. My skoonouma was ook in 'n konsentrasiekamp maar ek reken sy was 'n dogtertjie van so vier daardie tyd (dis 'n bestiering dat sy dit gemaak het). Ek is so spyt ek het nie meer met my ouma(s) oor daardie tyd gesels nie.
Wel gedaan, Frik Lotz. Ek stemvolmondig met jou saam.
"Afrikaner, formerly Boer, inhabitant of South Africa descended from the original Dutch, Flemish, and Huguenot settlers of the 17th century. Comprising approximately 60% of the white population in South Africa, Afrikaners were originally farmers but have now become mainly urbanized. Their language is Afrikaans" (Collins World Encyclopedia, 2003, p 14). Hiervolgens is diegene wat na die buiteland uitgewyk het nie meer Afrikaners nie. Myns insiens van groter belang is dat diegene wat hulle aktief vir verengelsing beywer, bv aan die Universiteit Stellenbosch, nie Afrikaners is nie.
Beste Frik Lotz,
So dit lyk my 'n Afrikaner is iemand wie se moedertaal Afrikaans is, hy moet 'n witmens wees, en gebore in Suid-Afrika. Natuurlik is daar allerhande ander eienskappe ook. Hy moet 'n gelowige wees, glo in die Bybel, en liefs lidmaat wees van een van die susterskerke, hy moet koffie drink en beskuit eet, en hou van melktert, bobotie en biltong, en, amper vergeet ek van mieliepap en koeksisters. Hy moet patrioties lief wees vir sy taal en vaderland, Suid-Afrika, en nog Geloftedag vier. Sy voorouers moes tot die Voortrekkernasie behoort het, wat eens die twee Boererepublieke besit het. Het ek nou iets uitgelaat? O, ja! Hy moet van Rugby hou en sokker verafsku, en hy moet graag vleis braai. Hy moet natuurlik ook droom oor die dae toe die Broederbond en die Nasionale Party die septer geswaai het, en hy in 'n land van melk en heuning gelewe het.
Maar wat nou van my? Ek is al daai dinge behalwe dat Engels my moedertaal is, en boonop is ek ook nog 'n ateïs ook. (Ek kan beide nie verhelp nie. Ek was nie by om my geboorte te bepaal nie, en ek kan om die dood nie glo aan die bonatuurlike nie.) Nou is ek nie 'n Afrikaner nie, maar net 'n Afrikaanssprekende.
En wat nou van my ouers se huishulp? Sy en haar man is Bruinmense, praat baie goeie Afrikaans (nie Kaaps nie), is lidmate van die NG-Kerk, is lief vir bobotie en geelrosyntjierys, biltong, braaivleis, boerewors en mieliepap, stem vir die Vryheidsfront, en is mal oor die Springbokke en die Proteas. Hulle kinders is in 'n Afrikaanse skool, en as ek en my vrou vir my ouers kuier, spreek hulle ons aan as Oom en Tannie. My ouers is Ouma en Oupa. Is hulle Afrikaners of nie?
Groete,
Angus
Angus, met alle respek, jy ruk nou die dam onder die eend uit met jou tipe kommentaar.
Ateïs. Sjoe, ek sluk swaar.
Beste Angus
Waar kom jy tog daaraan dat alles wat jy as tipies Afrikaner ag (biltong, rugby, braaivleis ens) die Afrikaner nou sou definieer volgens Frik Lotz? Hy het dit nooit gesê nie; dis jou afleiding.
Wat jou ouers se huishulpe betref wat jy nou nie weet of hulle Afrikaners is nie; daar's 'n maklike manier om uit te vind: vra hulle.
As jyself enige vertwyfeling het oor wie of wat 'n Afrikaner is gee ek vir jou 'n oplossing: Dit is daardie deel van die Afrikaanssprekende gemeenskap wat NIE voordeel trek uit regstellende aksie nie. Jy kan ook vir Jason Lloyd of Franklin Sonn vra; ek het al gesien hulle praat van Afrikaners.
Groetnis
Jan Rap
Beste Frik Lotz,
Nou sal die eend maar droogvoets op harde moederaarde moet swem.
Groete,
Angus
Jan Rap. Baie goeie kommentaar deur jou aangaande Angus. Baie dankie!
Beste Jan,
Dan sal jy moet inlig hoe ʼn mens ʼn tipiese Afrikaner kan uitken.
Volgens jou lyk dit my ek is veilig. Ek beskou myself as Afrikaanssprekend, en het geen voordeel getrek uit enige regstellende aksie nie. Om die waarheid te sê, ek ly erg daaronder.
Ek het my pa gebel en hy sê sy huishulpe sê hulle is Afrikaners. Natuurlik het hulle voordeel getrek uit regstellende aksie. Twee van die kinders gaan oor twee jaar verder studeer op Stellenbosch. Hoe nou gemaak?
Groete,
Angus
Hulle sal gou-gou reggehelp word op Kakiebosch.
Beste Angus - puntjie van orde; nie volgens my nie maar volgens die regering en gesiene bruines soos Jason Lloyd en Franklin Sonn. Die regering weet wie Afrikaners is want, met regstellende aksie, word Afrikaners uitgesluit. Hulle het dus een of ander kriterium. Jason Lloyd weet ook goed want hy het al pertinent (en taamlik driftig) gesê dat hy NIE 'n Afrikaner is nie - volgens hom dus is hy en sy mense nie Afrikaners nie. Jou ouers se huishulpe moet maar hulle identiteit met hom bespreek.
Sover dit my aangaan, as hierdie huishulpe sê hulle is Afrikaners dan is hulle - hulle kinders sal na Afrikaanse skole toe gaan, sal heelwaarskynlik Afrikaanse name hê (jy weet, soos Piet, Marie, Koos, Jan, Wilmien, Gert en nie Denver, Jenny-Leigh, Leigh-Ann ens nie), sal ook heelwaarskynlik, indien hulle kerkgangers is, aan 'n kerk behoort waar Afrikaanse Psalms en Gesange gesing word. Maar ek kan jou waarborg, die kanse is skraal; hulle wou seker maar net in die goeie boekies van hulle werkgewer wees.
Groetnis
Jan Rap
Afrikanerskap is in die eerrste plek 'n hartsaak. Wat van al die aangenome gekleurde kinders wat nou in Afrikanerhuise groot word en eendag op Afrikanerskap kan aanspraak maak?
Flip, hulle sal seker maar eendag Afrikaners wees (tensy regstellende aksie vir ewig gaan voortduur; dan sal die regering bepaal of hulle is of nie). Maar, terloops, is daar werklik baie van hulle? Is daar dan 'n skaarste aan wit kinders wat aangeneem kan word?
Beste Jan,
Die maatstawwe waarmee jy Afrikanerskap meet, skakel darem baie uit wat seker ook Afrikaners wil wees. Name en ek veronderstel vanne ook, moet Afrikaans wees. As iemand se van MacDonald, Page, Murray , McFarlane , O’Grady, en nog baie ander is, kan jy maar Afrikaner op jou pensie skryf en met jou hemp doodvee. Dit geld ook vir name soos John Vorster, James Barry Munnik Hertzog, Andrew Murray, ea. Dit sluit ook alle Gereformeerdes uit, want hulle sing net Psalms in die kerk. Dit sal ook natuurlik die heppiekleppies verhoed om Afrikaners te wees, en so ook die ateïste wat glad nie kerk toe gaan nie.
Groete,
Angus
Gestel u is 'n eenoog-wese van die buitenste ruimte en besoek as spioen Moeder Aarde. Gestel u moet aan u Meester van die Buitenste Ruimte die volgende terug rapporteer:
1) Hoe definieer die mens wetenskaplik die begrippe "bruin" en "liefde"?
2) Hoe definieer die mens 'n Jood, 'n Palestyn, 'n Israeli en 'n Judeër van Juda?
3) Wat is 'n witmens, 'n bruinmens en 'n swartmens wetende daar glo geen spierwit en pikgitswart mense op Moeder Aarde nie?
4) Hoe sal jy as eenoog-wese die identiteite van die Afrikaner, Afrikaanssprekende en Afrikaanses eenduidig definieer sonder om wollerige vae Suid-Afrikaanse politieke wharra wharra niksseggende taal te gebruik?
5) Wat is die waarskynlikheid dat die mensdom oor 'n miljoen jaar almal koperkleurig sal wees?
Ek dog ons is al verby die 1990's....
Beste Angus
Jy maak jou nou skuldig aan wat my een Engelse vriend my van beskuldig - overthink.
Ek ken 'n John Joseph Grace wat 'n Boer is (of Afrikaner as jy dan nou wil). My eie oupa aan ma se kant was 'n Boer met die van van Pringle, was 'n penkop in die Tweede Engelse Oorlog . Daar was MacDonalds saam met my op skool, en Ramsay's, en Smiths, Boeremense. Ek weet van 'n Afrikaanse McLachlan en 'n Downey. My houtwerkonnie was McAlpine en hy was 'n Boer (of Afrikaner). Destyds toe die prdeikante nog huisbesoek gedoen het was die ouderling 'n Stuart, 'n Boer. Verder ken ek ook Gagiano's, Ferreira's, ens, heelparty mense Italiaanse en Portugese vanne wat Afrikaners is. Ek ken selfs 'n Afrikaner met 'n Poolse van.
So wat vanne en name betref kan ek jou nie help nie. Die beste raad wat ek vir jou het as jy wil weet of iemand 'n Afrikaner is vra hom. 'n Alternatief is om die regering te vra wat hulle kriterium is. Ook, natuurlik, kan jy vir Jason Lloyd of Franklin Sonn vra, ek het al gehoor hulle verwys na 'Afrikaners' as synde mense van 'n ander groep as hulle.
Groetnis.
Breyten Breytenbach, Kakiebosch? Heel toepaslik.
In ABO was onderskeid gemaak tussen Boere, vanaf plase en Takhare (Afrikaners), vanuit dorpe! Ek glo dat ons nou in ’n era van Anglikaners leef, veral in Kakiebosch. Met Anglikaners wat Engels praat en na Australië, Kanada, Nieu-Seeland, VSA en Londen emmigreer.