Skote.
Een. Twee.
’n Oomblik stilte.
Toe die gille.
Hoe beskryf jy die gegil van ’n ma wat al haar kinders gelyk verloor?
Hemelse Vader, wees ons genadig.
Ester kom staan langs my, wieg om Zané stil te hou. “Hoor jy iets, Liezl?”
Ek skud my kop. Agter my bespreek Riaan-hulle die probleem van kos. Ek voel die loop van my pistool en glimlag amper, bly ek hoef nie hard te dink soos van die ander nie. Netnou sien ek weer gesigte. Niall met sy blou-blou oë. My niggies en nefies – die tweeling, die peuters. Dood omdat hulle nie gou genoeg kon wegkom van die regeringmonster nie.
Die wêreld is nou oorvol, het hulle gesê. Van nou af mag niemand babas hê nie.
Die ergste was nog op pad. Hulle het besluit om al die kinders onder agtien dood te maak om die wêreld gouer leër te kry. Om te wys hulle is ernstig oor die nuwe wet. Die wêreldbevolking is toe in twee groepe verdeel: dié wat kinders skiet en dié wat hulle wegsteek.
Ek kyk na Ester, my suster: kind op die een heup, pistool op die ander. Asseblief, Here, spaar Zané se lewe. Asseblief.
Die grootste, oudste huis in Sedgefield het ’n netwerk tonnels en kamers onder die kelder. Deur God se genade was ons die enigstes wat daarvan geweet het. Dis ons hoofkwartier, waar ons kinders wegsteek.
Ek onthou toe Niall my in een van die kamers gekry het. Ek het oor die Bybel op my skoot gehuil terwyl Zané en twee ander kinders gelê en slaap het.
“Dis soos toe Herodus al die babaseuntjies laat doodmaak het – net erger. Wat gaan van ons word?”
Niall het langs my kom sit. Met een hand myne gevat, met die ander die Bybel. ’n Ruk geblaai, toe die boek vir my gewys.
Hierdie wêreld is nie ons huis nie.
Ek klou soos ’n neet aan daardie vers, hoor dit elke dag in my kop in Niall se Ierse aksent. ’n Maand gelede het Niall gehelp om drie kinders hierheen te smokkel. Die soldate het hulle gekry voor ons kon.
Hemelse Vader, wees ons genadig.
Skielik onthou ek iets. Ek loop na Riaan, wag tot hy klaar gepraat het. “Jakob het gesê hy wil by ons aansluit.”
Grafstil.
Riaan kyk my aan asof ek twee koppe het. “Jakob? Hoe weet hý van óns?”
“Almal weet daar’s ’n rebelle-organisasie in Sedgefield, dommie. Hy weet nie dis óns nie; hy’t my net gesê hy wil graag by die ondergrond aansluit en gevra of ek enigiets van hulle weet.”
Hy gryp my aan die skouers. “En toe verklap jy alles ...”
Ek wil hom klap. “Nee! Ek’t gesê ek weet nie wie die rebelle is nie, en hy moet iemand anders vra!”
“Kry end.” Ester. “Hoe dink julle gaan ons vrede in die wêreld bring as ons nie eens met mekaar in vrede kan leef nie?”
Riaan los.
Ek neem ’n tree terug. “Ek dink jy moet hom ’n kans gee, Riaan.”
“Nee. Ek ken vir Jakob, Liezl. Ek ken hom te goed.”
Ek byt my lip. “Ek weet ons kan nie te versigtig wees nie, maar ... maar kan ons nie genadig wees nie?”
“Ten koste van hoeveel ander lewens?” Hy kyk my in die oë. Syne is grys. Soos klip. “Ek wil dit nie waag nie, Liezl.”
“Wat sien jy in hom, sus?” vra Ester sag. “Hoekom wil jy hom ’n kans gee?”
Ek besef nou eers die eintlike rede. Hy laat my aan Niall dink. “Ek weet eerlik waar nie,” mompel ek, vies oor hoe pateties ek geraak het.
Riaan sit ’n hand op my skouer. “Probeer hom vermy van ...”
’n Skoot klap by die ingang.
Riaan gryp sy geweer. “Liezl, kom!”
Een van ons ander wagte is klaar in die gang af. Hy verdwyn om ’n draai met Riaan agterna. Ek hoor nog ’n skoot. Toe niks.
Ek kom om die draai. Jakob lê op die grond. Bloed sypel uit sy bors.
“Hy’t ons afgeluister,” sê Riaan kortaf. “Sou baie hê om vir die soldate te vertel as ons hom nie bygekom het nie.” Hy sug swaar, vryf oor die agterkant van sy nek. “Kom, ons het nog sake om af te handel.”
Hy en die ander wag verdwyn om die draai. Ek bly. Ek kan nie my oë van die lyk afhaal nie.
Húlle skiet om gemak te red. Óns skiet om lewens te red.
Hemelse Vader, wees ons genadig.
Almal van ons.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie