WF 2015: Vrede en vreugde, net in Vanrhynsdorp!

  • 0

Lede van die Grootraad, wat op die planeet Mars ’n bestaan maak, besluit met ’n meesterplan om die oorlewingsmoontlikhede op ander planete te toets. Die hoofpyn is, wie sal hulle kies om op die planeet Aarde ’n bestaan te maak?

Hulle laat staan toe die skare mense in ’n ry van twintig. Ai! Maar dit is darem swaar om die perfekte kandidaat direk te roep. Na ’n gestamp van koppe en ’n gewoel van waters, besluit hulle op ou Lennie. Hulle glo dat hardgebakte Lennie die perfekte kandidaat is om hierdie moeilike taak aan te pak sonder om kop uit te trek. Maar nou is dit kies en keur en dit is hot en haar! Ou Lennie worstel met homself, want hoe begin hy en hoe maak ’n mens om hierdie wedloop te volbring? Later val dit hom tog by om nugter oor alles te dink en hy besluit toe om na verskeie plattelandse gebiede te gaan. Al wat hy weet, is dat hy drie maande het om drie gebiede te besoek.

Hy hou hom met gewigtige take besig in die dorpie Rondomskrik. Hy beskryf hierdie verlate plekkie eenvoudig as ’n eensame, verdorde veldjie waar almal op mekaar se tone trap. Die plekkie is so klein soos ’n mossie. En die oorbevolkte mense raak by die dag meer en meer. Die huise staan so opmekaar, mens kan skaars asemhaal. Al wat ou Lennie vra: “Hoe hou die mense dit hier? Geen mens kan hier oorleef nie!’’

Hy maak toe sy tweede draai by die dorpie Welkom. Dit is en voel eenvoudig soos ’n plaas. ’n Verlate plekkie met ’n handvol mense. Koel, kalm en rustig, maar geen bron van energie, elektrisiteit en watergeriewe nie. Dit is die lewensprosesse van ’n woestyn! Ou Lennie is nie seker of hy een-en-dertig dae op hierdie verlate plekkie sal oorleef nie. Dit is so stil, jy kan selfs hoor hoe die muise planne beraam om smullekker kaas in die hande te kry. Maar hy maak tog vir hom ’n nessie tussen ’n nors tannie en oom se huisies waar hulle nie eens naand of môre sê nie. Taak een vir week nommer een is om die plante en diere fyn te bestudeer. Hy kry dit reg om al die name van die plante te leer ken, maar kan nie die taal van die diere bemeester nie. Want wie wil nou elke môre gepik word deur drie hoenders? Ou Lennie het net genoeg gehad en kan nie wag dat die laaste paar weke verbygaan nie.

Ou Lennie vind hierdie taak toe nie so opwindend soos wat hy hom voorheen verbeel het dit sou wees nie. Hy wonder of dit nog die moeite werd is om aan te hou met hierdie mislukte wedloop. Hy is so moedeloos en kragteloos en voel om eenvoudig net tou op te gooi. Maar hy wil ook nie die lede van die Grootraad teleurstel nie, want dit is glad nie hoe hulle hom leer ken het nie. Ou hardgebakte en toegewyde Lennie sal maar aanhou en aanhou …

Hy glo al wat hy nou nodig het, is ’n avontuurlus oor sy bestaan. Terwyl hy sy weg vind na die laaste dorpie, is dit soos ’n musikant wat liedjies en gedigte in sy kop speel. Die musieknote lui so: “Projek nommer een, om die taal van die diere vir ’n sekonde te leen. Projek nommer twee, die blootstelling aan die oorlewingsmetode so naby aan jou stowwerige voete. Ja, dit alles sal jy vind as jy met die klippies ’n stappie vat!” Hierdie gediggie gee hom sommer ’n huppel in sy stap. ’n Deurbraak in sy piepklein stemmetjie en ’n sonstraal op sy vierkantige gesiggie. Met hierdie gedig skep hy moed en is dadelik avontuurlustig om die laaste maand ten volle aan te pak. Vol energie en positiwiteit!

Hy stoot die laaste hek van sy wedloop oop. Hy stoot dit weer agter hom toe en stap voetjie vir voetjie die rustige dorpie Vanrhynsdorp binne. Soos hy stap, stamp hy sy groottoon teen die laaste klippie, wat hom aan dieselfde gedig herinner. Hierdie klippie is so besonders dat sy hande so jeuk om dit op te tel. Hy kyk dit goed en noukeurig deur en kom tot die gevolgtrekking dat dit as navorsing kan dien vir die lede van die Grootraad. Omdat dit so mooi rond is, kan hy dit eenvoudig nie deur sy seepgladde hande laat glip nie! Hy neem dit en plaas dit versigtig in een van sy leë blink sakkies. Dit is egter nie al nie. ’n Groot sonneblom tussen rooi rose staar na hom. So asof dit net vir hom staan en wag. Die geel blaartjies glimlag so breed soos ’n sonstraal na hom, daarom kan hy nie anders om die worteltjie versigtig uit die vrugbare grond te trek nie. Die reuk is iets besonders en hy kan dit eenvoudig net nie weerstaan nie. Hy plaas dit toe ook versigtig in ’n ander leë sakkie. Daar en dan besluit hy om te gaan rus in die groen weivelde. Tussen skape wat blêr en lammertjies wat soos vreugdevolle kinders in ’n speelpark rondtrippel. Daar lê en bewonder hy die sagte en asemrowende natuur.

Die natuur is vir hom so mooi om te aanskou dat hy besluit om sy verkyker uit te haal. Hy plaas dit op sy uitgetrekte oë, maar wat sien hy? Hy sien gelyke en veilige paaie waar kinders as ’n eenheid met ’n reënboogkleurige bal buite speel. Hy sien oupas en oumas opwindende geselsies maak op die voorstoep, elkeen met ’n koppie tee en ’n pierinkie beskuit in die hand. Hy sien ontwikkelde trekkers wat soos gelyke branders oor die oeste beweeg. Hy sien goedheid en liefde op elke persoon se glinsterende gesiggie. Hy sien liggame net op soek na liefde, vrede, hoop, geduld, versoening, nederigheid en selfbeheersing.

Al hierdie dinge gee hom een groot, breë glimlag oor die oorlewingsmoontlikhede op die planeet aarde!

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top