WF 2015: Verplaas na 2050

  • 0

“Die toespraak wat dr Zebenhout oor die ontwerp van ’n tegnologiebestuurde wêreld gegee het, was baie interessant. Hoe koel sal dit wees om in so ’n wêreld te bly?”

“Super cool, ” antwoord Janelle, my vriendin. Skielik is daar ’n vreemde blou lig om die skoolsaal se draai. “Kom, dis al laat al!” skree Janelle.

“Loop solank, ek kom nou.” Ek gaan kyk wat die vreemde blou lig is. “Aah!” Ek skrik wakker, maar oral waar ek kyk, is vlieënde motors. Waar is ek? Alles lyk vreemd; dit moet seker ’n droom wees, dink ek. “Kan dit wees, kan dit wees dat ek in die toekoms kan wees?” Ek moet die skool vind, dit moet hier naby wees, dink ek. Ek staan voor ’n hoë vyfverdiepinggebou. “Is dit my skool?” Net toe ek daardie woorde sê, gaan die deure outomaties oop en ek stap binne. Oral is leerders in wit pakke op vlieënde skaatsplanke. Ek word gegroet deur ’n meisie ongeveer my ouderdom. Sy is lank en skraal en dra ’n snaakse bril. Sy het ’n blou naam voor haar kop met die leters ZA2000. “Hallo!” groet ek haar.

“Wat is jou identiteitsnommer?” vra sy my.

“Ekskuus?” vra ek verward.

“Jy weet … wat almal jou noem!” Ek sê toe dat almal my Jo-anne noem. Sy verduidelik dat hulle nie meer name het nie maar kodes voor hulle koppe. Dit is hoe die government hulle kan identifiseer as iemand verlore gaan of misdaad pleeg. Ek was baie gefassineer deur alles.

Sy het my na haar huis genooi. Dit was baie ver weg van die stad af en dit het my die grille gegee. Sy het my aan haar pa voorgestel, maar daar was iets vreemd omtrent hom. Hulle huis was vol tegnologie, die televisie, stoele en selfs die deure. Dié nag, terwyl almal slaap, het ek ’n vreemde geraas van onder af hoor kom. Ek het dit probeer ignoreer maar toe hoor ek dit weer, dit was ’n harde gil. Ek het besluit om te gaan kyk wat dit was, al was ek bang. Die gang was donker, maar daar was ’n blou lig wat aan die einde geskyn het, dieselfde een as by die skool. Net toe ek die deur wil oopstoot, het ek iemand in die hysbak hoor afkom. Ek het teruggehardloop kamer toe. Ek het die hele nag wakker gelê en gewonder wat die vreemde geluid en lig was. Die volgende oggend by ontbyt het ZA2000 en sy pa, ZA159, my meer van hulle vertel. “Dit klink of jy baie goed met wetenskap is. Jou ma moet seker baie trots op jou wees.” Skielik was almal doodstil. Ek moes iets gesê het, maar wat het ek gesê wat so ’n geheim was?

Gedurende die nag het ek dieselfde geluid as die vorige nag gehoor. Ek het afgegaan en die deur stadig oopgestoot. My bors het skielik toegetrek. Dit was soos iets uit ’n ander wêreld. Die tande skerp, hare pikswart, vel bleek en are sigbaar. Dit was ’n vrou-dier opgesluit in ’n glaskamer. Ek het nog nooit so iets gesien nie. “Wat maak jy hier?” het mnr ZA159 se stem hard uitgebars. “E-ek het ’n g-geluid g-gehoor toe kom ek af om te kyk, meneer,” het ek bangerig gesê. “W-wat is dit meneer?”

“Sy is, of eerder, was my vrou. Die wit pakke wat ons dra, is om onsself te beskerm teen die lugbesoedeling. Al die gevaarlike stowwe van fabrieke en motors het ons osoonlaag begin afbreek. My vrou het sonder haar wit pak geloop en was blootgestel. Sy en ’n hele paar mense het in hierdie bloedhonger mense verander. “So dis al ons skuld. Ja, dit is die nagevolge van ons aksies,” het hy met ’n kwaai stem gesê. Ek het so skuldig gevoel. “Is daar iets wat ek kan doen om te help?”

“Jy kan mense bewus maak dat hulle aksies ernstige nagevolge kan hê.” Toe sien ek weer die vreemde blou lig, maar hierdie keer skrik ek wakker by die skool. “Jo-anne, jou ouers wag!” skree Janelle.

Was dit alles ’n droom? Kan dit regtig ’n werklikheid word? Hierdie vrae is elke dag in my gedagte. Ek het vir Janelle alles vertel en ons het ’n program by ons skool begin om ander leerders bewus te maak van ons aksies. Ons wêreld verander. Elke dag word ons meer en meer vasgevang in tegnologie, maar ons natuurlewe word ook stuk vir stuk afgebreek!

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top