Satire word gewoonlik as ʼn gedig of ander kunsvorm beskryf waar met dinge in die samelewing gehekel word. Dit kan parodie, ironie, sarkasme en karikatuur inspan. Dit handel gewoonlik oor politici, kunstenaars, die media, waardes en selfs ons president, mnr Zuma. So kan elke persoon ’n heerlike dosis lag inkry en vir ʼn oomblik vergeet van die probleme van die land.
Slimrekenaars en robotte wat die mensdom wil uitwis, is ’n idee wat in baie rolprente voorgestel word. Hierdie verskynsel was al verskeie kere die onderwerp van wetenskapfiksierolprente of die gedrukte media.
Daar is reeds waarskuwings aan mnr Zuma gerig oor wat in sy Nkandla-swembad lê. Waarskuwings dat slimrekenaars vinnig intelligent genoeg sal word om sy posisie oor te neem as president van die land. Hierdie slimrekenaars is reeds op die punt waar hulle hulself kan opgradeer. Onder die lys van wetenskaplikes wat hierdie ope brief geteken het, is Stephen Hawking en die grootbaas van SpaceX, Elon Musk. Daar word ook in hierdie ope brief gewaarsku dat hierdie slimrekenaars nie net die regering en parlement sal oorneem nie, maar ook die hele mensdom kan onderdruk.
Indien ’n rekenaar se intelligensie so hoog raak, sal dit nie net beter as ’n mens in die werkplek funksioneer nie, maar ook gou iemand se belastinggaarder wees. ’n Rekenaar wie se swaarverdiende belastinggeld deur die president gemors word, is ʼn vreeslike ding. As die slimrekenaar sou oorneem, sou dit vir seker die regering eerste oorneem. Dié slimrekenaar sal enorme besparings teweegbring, aangesien rekenaars nie ’n behoefte het aan die verversings wat tydens parlementêre komiteevergaderings voorgesit word nie. Tyd sal ook bespaar word. Met die gebruik van die wêreldwye web, sal parlementêre komitee- en internasionale vergaderings binne sekondes afgehandel word.
Multitaakverwerking sal op groot skaal teen hoë spoed en met absolute akkuraatheid afgehandel word. Alles sal net ’n stroom van data wees, van slimrekenaars wat met mekaar kommunikeer. Daar sal geen meer korrupsie of politieke geheime wees nie. Alhoewel dit alles baie goed klink vir die mens, kan daar ook nooit volle vertroue in die stelsel of Eskom geplaas word nie. Daar mag dalk versteekte inligting op die slimrekenaar wees. En bygesê, as Eskom genoeg krag aan hierdie slimrekenaars kan voorsien om hulle aan die lewe te hou. Baie mense sal nog steeds hulle vertroue in ’n ander mens plaas eerder as ’n elektroniese stelsel.
Alhoewel die instelling van hierdie kunsmatige intelligensie in ons politieke stelsel kan lei tot beter produktiwiteit, sal ons aansienlik meer vatbaar wees vir totale oorname deur die rekenaars. Aangesien ons die slimrekenaars reeds baie gesag gegee het, sal dit vir hulle baie makliker wees om mag oor die mensdom uit te oefen. In die geval van so ’n onderwerping van die mensdom, sal daar geen emosie, passie of dryfkrag wees in enigiets wat gedoen word nie. Werk mag dalk vinniger en beter gedoen word, maar dit verloor ’n sekere mate van passie en liefde vir wat jy doen. Die kunste sal ook uitsterf.
Die stede sal begin vergaan. Alle dele van die aarde wat deur mense bewoon is, sal verlate wees. ’n Mors van spasie, sonder enige vorms van lewe. Net rekenaars en programme sal heeldag in ’n kamertjie wees, besig op die internet. Die mens sal vergaan as gevolg van verveeldheid en te min hê om te doen.
Tog is daar ook weer filosowe wat glo dit sal onmoontlik wees vir enige vorm van kunsmatige intelligensie om die mensdom oor te neem. Volgens hulle kan geen slimrekenaar een van ons wees nie. Ons het eienskappe wat ons uniek maak. Ons elkeen het ’n gees. Sonder hierdie gees in die wêreld sal daar werklik niks wees nie. Geen toekoms of groei in die wêreld nie. Daar is mos tog iets waarna ons almal werk of streef? Daardie iets binne ’n mens, wat jou net nog eenkeer laat opstaan en weer laat probeer, telkens wanneer jy geval of misluk het. Dit is deel van jou menswees, iets wat geen kunsmatige intelligensie kan begryp nie.
’n Derde deel van die situasie is die gedagte aan ’n super- of robospesie. Dit word reeds in baie hedendaagse fantasieë uitgebeeld soos in die geval van Batman of Superman. Daar word die idee van ’n tipe “transhumanisme” voorgestel. Dit bestaan uit die fisiese en emosionele eienskappe van die mens, maar het ook die intelligensie en reaksietyd van ’n slimrekenaar. Dit stel ’n varser generasie van supermense voor. Saam met die integrasie van rekenaars en kunsmatige intelligensie by die mens, sal daar ook biologiese en ander verbeteringe aan die mens aangebring word – byvoorbeeld om mense minder vatbaar te maak vir siektes of infeksies.
Daar kan sonder twyfel gesê word dat die menslike liggaam kan doen met ’n dringende opgradering. Maar ek glo nié hierdie opgradering is kunsmatige intelligensie nie! Eerder harde werk en toewyding in wat jy doen. Dan sal die mens altyd bo die rekenaar uitstyg.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

