WF 2015: Roem van die ruimte

  • 0

Liewe leser, jy ken my dalk nie, jy hoef ook nie, maar hierdie is ’n wilde verhaal wat moet uitkom. Nou, ek is ’n gr. 11-leerder met ’n groot belangstelling: die ruimte en spaceships. Ek wou nog altyd eendag soos ou Armstrong ruimte toe gaan en my oomblik van roem hê. Maar, wat is die kans dat ’n leerder van ’n klein plaasskooltjie ooit die ruimte sal besoek? Ek raai jy dink: “Nie ’n kans nie!” Ja, so het ek ook gedink, totdat ek van ’n sekere kompetisie gehoor het.

SASA se kompetisie – wat? Hoe kon jy nog nie van SASA gehoor het nie? Dis dan ons Suid-Afrikaanse NASA. Nou in elk geval, met die kompetisie moes ons iets oor ons gunstelingplaneet skryf (Saturnus natuurlik, ringe is kwaai!) en ek was die gelukkige ou. Nou, SASA staan diep in die Karoo, so dit was ’n ver rit. Maar met `n freedom taxi baie gemaklik, en ek het aan die slaap geraak op pad. Gelukkig het ek betyds wakker geword, anders het ek nou foto’s van Nigerië vir julle gestuur. Daar aangekom, is ek hartlik verwelkom deur die hoof van Planetery, dr Jabu, ook die toerleier. Hy het my gewaarsku: “Wat jy ook al doen, moenie in die spaceship klim nie!” Ek het geknik.

Hy het gesê ek kan so ’n bietjie rondkyk terwyl hy iets ruimterigs doen. Ek het rondgekyk. Niks te interessants nie, behalwe die spaceship. Nou, die spaceship het soos ’n vet vuurpyl gelyk met ons land se vlag daarop geverf. Die skip was binne vol knoppies en liggies met ’n groot stuurwiel. Soos ’n klein kindjie was ek dadelik beïndruk en begin woes die stuurwiel links, regs, links, regs, U-turn, donut en sommer net vorentoe draai. Ek was nog so besig om te speel toe hoor ek dr Jabu praat met ’n man in ’n ruimtepak. “Ek dink jy sal gepas wees vir die vlug na Mars, daardie dêmmitse Amerikaners kan robotte stuur, maar ons stuur die man.” Ek wil nog kyk wie die ruimtevaarder is, maar my mou haak aan die stuurwiel en ek val. Gelukkig kan ek myself optrek … optrek aan die “Skiet na Mars-knoppie”.

Skielik hoor ek ’n gesuis en geblaas en toe met ’n vaart op, op deur die dak! Toe ek afkyk, sien ek dat SASA se dakstruktuur sleg lyk. Jabu vee stof van sy hare af. Die arme ruimtevaarder lyk asof daar ’n betonblok op sy kop geval het en wieg stadig rond. Ook sien ek – ag nee, regtig man, ek is half in die buitenste ruim en nou verwag julle `n verduideliking? Tog hoor ek die siel oor die interkom, hy praat gelukkig Zoeloe, want ek is bang om te hoor wat hy sê: “Vat die stuur!” Ek het genoeg ruimterekenaarspeletjies gespeel om ’n mens blind te maak en ek gryp die stuur styf vas.

Ek doen `n paar akrobaties onverantwoordbare bewegings, met een groot probleem: ek is besig om blitsig dronk in my kop te raak en as ek nie gou verby die ruimteklippe blits nie, gaan ek `n kat skiet. Seker ’n gemmerkat, want ek het ietwat te veel van Ma se gemmerkoekies geëet. Na een draai is ek uit, en ook daardie koekies. Mars lê in sig, ek is op pad. Maar die skip begin mor. Petrol is min! “Jabu! Die petrol is op!” skree ek. “Ons kon nie die tenks volmaak nie,” sê Jabu. “Hoekom?” vra ek vies. “Het jy enige idee wat die brandstofpryse is? ”Op daardie noot land ek op Mars.

Ek trek die ruimtepak aan. So ’n bietjie styf, maar dit werk. Tyd om uit te klim en te verken. Maar genade, dis net sand, klippe en dooie robotjies, hoe vervelig! Oukei. “Een klein tree vir my. Een reuse-sprong vir my ego,” en ek plant die SA-vlag. Ek hoor ’n snaakse geluid agter my skip, soos ’n gegorrel sonder water. Ek hardloop om, en wat sien ek daar?

’n Stad met snaakse wesentjies, ’n bietjie kleiner as mense. Hulle het vet bolywe en maer beentjies. Hulle is pers. Die rooi planeet se inwoners is pers. Hulle is verskriklik lomp, sal maklik enetjie kan terugvat sodat ek famous kan wees. Ek hardloop na my skip en radio Jabu; hy kan die president kontak, hierdie is groot! Probleem is, jy kan nie ’n alien met jou hande vang nie. Ek vat duct tape, ’n sak en tou. Ek kies ’n vet een en tackle hom soos ’n Springbok nie kan tackle nie. Ek sleep hom na die skip en ons is terug aarde toe. Die petrolprobleem het ek vinnig opgelos, want Caltex het ’n tak op Mars, goedkoop petrol.

Eindelik is ek terug op my planeet. Die president, die pers, aanhangers en Jabu verwelkom my hartlik. Almal wag dat ek die alien uitbring. Die kameras is op my. Genoeg! Dis tyd vir my oomblik van roem. Ek stoot die alien by die skip se deur uit, maar hy lyk sleg, hy wieg-wieg so. Toe sal die dêmmitse alien wragtig net daar omkap. Ek hardloop na hom en skud hom goed. “Bleddie alien, word wakker!” Nee, man ... vrek. So is my roem ook vrek, saam met daardie pers alien.

Maar dit was ’n maand gelede en nou is ek terug in die skool. In my vrye tyd werk ek vir SASA. Ek is ook die enigste mens met my eie ruimteskip. Dit staan in my agterplaas, reg vir ’n avontuur.

Dalk gaan ek volgende keer Saturnus toe. Wie weet?

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top