Doef!
My kop tref die baksteenmuur met ’n slag. Ek steier terug en sak met ’n kreun neer terwyl sterretjies voor my visie dans. Die ruimtewese pyl op my af.
Dis verby met my.
***
Vyf uur gelede …
Ek en my ma sit aan tafel, die enigste oorblywende meubelstuk in die vervalle eenkamerwoonstel waar ons tans skuil. Die tafel sal waarskynlik as die winter aanbreek ook vuurmaakhout word – nes al die ander meubels.
Ek loer onderlangs na my ma. Haar hare is yl en olierig. Die sakke onder haar oë is al so lank daar, ek kan haar nie daarsonder indink nie. Die lewe het amper ondraaglik geword nadat die ruimtewesens vyf jaar gelede ons planeet ingeval het. Ek was skaars twaalf.
Miljoene het omgekom in die oorlog wat daarna tussen ons en húlle uitgebreek het. My pa was een van die miljoene.
Sedertien is dit net ek en my ma. Sy was egter nog nooit dieselfde vandat hy weggegaan het nie. My pa het my destyds laat belowe ek sal na haar omsien; dus, vir die afgelope vyf jaar het ek ons aan die lewe gehou. Ek versamel die kos, kry skuilplekke en beskerm haar.
My maag grom skielik van die hongerte. Die geluid laat my ma ontwaak uit haar droomtoestand en sy loop na die enigste kas wat nog deurtjies het. Sy kom terug met ’n pakkie droë beskuit wat sy ingedagte op die tafel neersit.
Daar is slegs drie oor.
Ek neem een en prop die ander twee in haar hand. Nog voor sy kan protesteer, is ek reeds by die voordeur uit. Ek gooi die rugsak wat ek in die verbygaan gegryp het, oor my skouer en byt ’n stuk van die beskuit af – dis kliphard en smaak na niks.
Terwyl ek by die bouvallige woonstelblok se trappe afhardloop, probeer ek hard om nie my humeur te verloor nie.
Sy kon ten minste vroeër gesê het dat ons kosvoorrade min is. Sy kon … Moet ek alles self doen?
Ek bal my vuiste en skop ’n asblik in frustrasie. Die rooi gloed voor my verdwyn geleidelik soos ek kalmeer. Dit was ’n besonder moeilike week; ek het twee weke laas behoorlik geëet en nou moet ek boonop nuwe voorrade gaan opspoor.
Niemand het egter ooit gesê dat oorlewing maklik sou wees nie.
Ek haal diep asem en begin straat-af draf terwyl ek myself stilweg verwens dat ek nie gedink het voor ek gedoen het nie. Al daardie geraas het moontlik een van húlle gelok. Ek maak myself vinnig uit die voete. Die beeld van my ma se uitgeteerde, benerige hande toe ek vanoggend die beskuit daarin geprop het, flits nog helder voor my oë.
***
Die rugsak se inhoud – blikkieskos, beskuit en ’n pak verkrummelde skyfies wat ek onder ’n kafee se toonbank uitgegrawe het – skommel gerusstellend op my rug soos ek terugdraf. Vandag se soektog was verbasend suksesvol. Ek draai links by ’n verlate stegie in en draf ingedagte verder.
Die volgende oomblik spring ’n figuur onverwags uit die skaduwees en versper my pad. My hart begin onbedaarlik klop. My spiere trek saam, reg vir veg of vlug. Ek evalueer die man vlugtig.
Hy kan een van twee dinge wees: ’n mede-oorlewende wat agter my rugsak se inhoud aan is, of een van húlle. Die probleem is, die ruimtewesens lyk nes ons. Daar is egter drie maniere om hulle uit te ken: hulle oë gloei snags, hulle het geen vingerafdrukke nie en hulle bloed is pers.
Al hierdie gedagtes skiet deur my brein in die sekonde voor hy my bespring. Ek duik net betyds weg en gryp in die ontwyking ’n stukkende baksteen wat op die grond lê. Ek slinger dit in sy rigting en ’n aaklige kraakgeluid weergalm in die stegie toe dit sy arm tref. ’n Dun straaltjie bloed begin by die wond op sy voorarm uitloop – pers bloed.
Skok hou my bene vir ’n oomblik vasgepen en dit gee die ruimtewese genoeg kans om weer aan te val. Hy bestorm my met ’n eienaardige gil en stamp die wind uit my longe toe sy uitgestrekte arms met my bors kontak maak.
Doef!
My kop tref die baksteenmuur met ’n slag. Ek steier terug en sak met ’n kreun neer terwyl sterretjies voor my visie dans. Die ruimtewese pyl reguit op my af.
Dis verby met my. Of is dit?
Ek onthou skielik van die versteekte mes in my stewel en my vingers soek naarstiglik daarna. Die ruimtewese is skaars ’n meter van my af en ek kan die aardige gloed in sy oë sien. My vingers sluit uiteindelik om die hef van die mes.
Sy lyf tref my op dieselfde oomblik as wat ek die wapen in sy rigting draai. ’n Onaardse skeurgeluid vul my ore en ek voel hoe die lem sy bors deurboor. ’n Warm nattigheid begin onmiddellik deur my klere syfer. Hy blaas roggelend sy laaste asem uit en dan is dit doodstil.
Ek spartel verwoed om onder sy swaar liggaam uit te kom en steier orent. My kneukels is spierwit soos ek die mes vasklem in my hand.
My hande bewe liggies.
My hemp is besmeer met pers bloed.
Ek het nou net my eerste ruimtewese doodgemaak.
Ek wonder meteens of my pa ook so angsbevange soos ek gevoel het toe hy teen sý eerste ruimtewese moes veg in die oorlog. Ek bêre die mes versigtig in my skoen, skuif my rugsak reg en begin huiswaarts draf.
As die ruimtewesens so naby aan die woonstel rondsluip, sal ons beslis moet trek – vir die derde keer in die afgelope twee maande. Môre op die laatste, indien nie later vandag nie, redeneer ek met myself terwyl ek hardloop.
Die lewe op aarde is beslis nie meer maanskyn en rose nie, maar niemand het ooit gesê oorlewing sou maklik wees nie.
Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie