WF 2015: My ander self

  • 0

In ’n donker kamer, in ’n onbekende omgewing, lê Jhaan bewusteloos. Daar is ’n gevoel van angs in die lug.

Jhaan maak sy oë oop, maar al wat hy sien, is ’n helder, wit lig wat in sy gesig skyn. Op ’n afstand hoor hy vreemde geluide. Hy probeer beweeg, maar hy voel dat hy vasgebind op ’n tafel lê. Hy begin skree en rondskop. Voor hom sien hy vreemde figure wat vinnig verby hom beweeg. Voor hy weer vir hulp kan roep, voel hy hoe die vloer onder hom uit beweeg. Hy val hard op ’n soliede vloer. Na ’n paar minute is hy weer by sy volle positiewe. Hy staan stadig van die vloer af op. Voor hom sien hy drie rooi deure. Op die vloer reg voor sy voete lê ’n nota met die woorde “Kies een deur” daarop. Jhaan stap na die middelste deur sonder dat hy weet wat aan die ander kant vir hom wag.

Hy stap hy by die deur in en bevind hom skielik in ’n huis. Hy loop deur die huis en gaan staan voor ’n groot muur. Op die muur is verskillende foto’s van mense. Met verbasing kyk hy weer en weer na die foto’s. Hy sien homself in al die foto’s. Hy probeer sin maak van wat aangaan, maar word in die rede geval deur ’n stem wat uit ’n ander vertrek kom. Jhaan loop stadig in die rigting vanwaar die stem kom. Hy sien ’n blondekopvrou wat besig is om roereier te maak en twee kinders wat besig is om TV te kyk. Die vrou kyk na Jhaan. “Môre, liefling, jy moet wikkel anders gaan jy laat wees vir jou afspraak.” Hy kyk met groot oë na die vrou wat voor hom staan. Voordat hy haar kan antwoord, spring ’n klein dogtertjie in sy arms. “Môre, pa,” sê sy en gee hom ’n soen op die wang. Sy stap terug na die sitkamer. Die blonde vrou trek Jhaan se klere reg: “Komaan, skat, jy moet ry.”

Jhaan loop na die vertoonkas wat in die sitkamer staan. Op die kas sien hy ’n sertifikaat. Op die sertifikaat is in goue letters gedruk “Toekenning aan Jhaan Gous, prokureur”. Jhaan staan verstom met sy kop in sy hande. Uit die kombuis hoor hy hoe die vrou hom roep. Onbewustelik antwoord hy: “Ek is op pad, Chantelle.” Hy raak vir ’n oomblik stil en probeer uitwerk hoe hy die vrou se naam ken. Hy neem sy tas en stap stadig na die voordeur. Hy gee die vrou ’n soen en stap by die deur uit.

Hy loop stadig na die voertuig wat voor die huis geparkeer staan. Hy klim in en ry van die huis af weg. Hy hou stil by ’n gebou met sy naam daarop. Huiwerig loop by die gebou binne. Hy groet elke persoon wat hy raakloop op die naam. Hy loop by ’n kantoor in en gaan sit. Hy maak sy oë vir ’n oomblik toe en skielik onthou hy alles. Hy onthou sy vrou, Chantell, en sy twee dogtertjies, Katrien en Annelie. Hy onthou selfs sy troudag. Hy hardloop by die kantoordeur uit. Voor hom sien hy ’n groep mense wat met groot, blink oë na hom staar. Eenstemmig begin hulle sy naam uitroep: “Jhaan, Jhaan, Jhaan!” Hy voel hoe koue sweet oor sy hele liggaam uitbars. Voordat hy na die kantoor kan terughardloop, sak ’n donker wolk oor hom. Hy voel hoe iemand of iets se arms hom vasbind en hoe ’n reusehand om sy mond vou. Van vrees word hy bewusteloos.

Na ’n paar ure staar hy weer in ’n helder wit lig vas. Hy voel hoe hy weer vasgebind op ’n tafel lê. ’n Vreemde figuur buig oor hom en roep sy naam uit. Hy probeer antwoord, maar kry nie ’n woord uit nie. Skielik voel hy hoe die toue om sy arms en bene losgemaak word en hoe hy van die tafel in ’n rystoel geplaas word. Stadig word hy by ’n lang gang afgestoot. Hy probeer beweeg maar sy lyf is verlam. Hy word tot binne in ’n donker kamer gestoot. Hy lig sy kop en staar voor hom uit.

In die donker sien hy twee figure wat voor hom staan. Die lig gaan aan. ’n Koue rilling beweeg deur sy liggaam. ’n Lang, maer lyf met ’n groot kop met een oog. ’n … Marsman. ’n Uitheemse, lewende figuur. Hy probeer skree, maar kry nie ’n geluid uit nie. Die Marsman kyk na hom en sê met ’n dik stem: “Ons het jou nie meer nodig nie. Jy kan teruggaan na jou aarde toe.” Die Marsman beweeg nader aan Jhaan en spuit hom met ’n verdowingsmiddel in. Jhaan verloor sy bewussyn.

Die volgende oomblik skrik hy in ’n bed wakker. Hy is heel verlig en sê vir homself: “Dit was net ’n droom!”. Hy staan op en gaan spoel sy gesig af. Hy kyk in die spieël. Hy merk ’n druppeltjie bloed op sy skouer en sê: “Of was dit?”

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top