WF 2015: Liefde vol draadwerk

  • 0

Liefde vol draadwerk

Dit is vreemd hoe dinge werk. Partykeer werk dit en partykeer nie; partykeer weet ’n mens nie of dit gewerk het nie.

Christiaan Threepio sit eendag oudergewoonte op ’n soele somersoggend in die eetkamer van sy werkgewer en poleer sy swart skoene, soos hy maar altyd doen wanneer hy oor die diepere dinge besin.

So teen sesuur se kant ontwaak hy op die deuntjie van sonbesies wat suis en die sagte geruk-ruk van kalwers wat hul eetlus op klam-gedoude oggendgras probeer stil ná `n verfrissende nagrus. Selde op ’n Maandagmôre het die daeraad al só breed vir hom geglimlag, min wetende wat die dag vir hom sou inhou.

Christiaan is ingedagte, besig om die tafel te dek. Hy skrik toe twee hande hom onverwags styf vasdruk. Hy herken die aarbeiparfuumreuk wat die vertrek vul: Dit is Bettie Bates.

“Sjuut, man, jou pa gaan jou hoor!”

“Ag, Christiaan, moenie so stres nie, man! Hy kan ons niks maak nie! Hy het in elk geval ’n briefie op die yskasdeur gelos. Hy is al vroeg weg winkels toe.” Sy raak skielik vies. “Hy het seker weer die een of ander tegnologiese toestel gaan koop.”

Christiaan gryp haar hand en trek haar nader. Bettie Bates wriemel en giggel.

“Ai, Christiaan, al hierdie rondsluipery maak my so gedaan. Ek weet nie meer of ek kom of gaan nie! Hoekom kan ons nie net wegloop nie? Jy is die geel in my gemmer, die grond in my boontjiebotter, my hart se punt, my liefling, Christiaantjie!”

“Biep-biep-boep-boep. Wees geduldig, my takboklammetjie. Meester Bates mag dalk nie die beste pa of baas wees nie, maar hy gee darem vir ons ’n dak oor ons koppe.”

“Hierts, jou wilde ding!” Bettie kyk met groot oë na Christiaan en vra dan bekommerd: “Hoekom is jy altyd so koud? Jy sit al heeloggend in die son maar bly yskoud. `n Mens kon sweer ek vry ’n yskas!”

Bettie en Christiaan is so besig om te kafoefel dat hulle nie besef het dat meester Bates al by die huis is en besig is om hulle dop te hou nie. Hulle hoor net hoe iemand keel skoonmaak en dan kyk hulle geskok op. Bettie is nou ook yskoud. Hulle sien meester Bates se gesig.

“Wat op dees aarde is hier aan die gang?” bulder hy.

Christiaan is vreesbevange. Daar glip ’n onverwagse “biep-biep-boep-boep” by sy mond uit. “Uhm ... ek-ek kan verduidelik, meester Bates.”

Bettie se oomblik van geskokte verleentheid maak plek vir ’n astrante houding, asof sy al lank op hierdie geleentheid wag.

“Weet Pappa, hier is beslis iets aan die gang. As Pappa nie so besig was met al hierdie toestelle nie, dan sou Pappa al lankal agtergekom het dat ek en Christiaan verlief is.”

“Bettie Bates, jy kan nie sulke onsin praat nie! Is jy van jou sinne beroof?” Meester Bates vee verwoed die sweet van sy voorkop af. “Christiaan, verskoon my dogter. Ek weet nie wat haar besiel om jou naam so te beswadder nie.”

Christiaan se ysteradamsappel ruk vir ’n oomblik op en af. “Meester Bates, dis waar. Ek weet ek is net ’n dienskneg en is haar liefde nie waardig nie, maar ek is verlief op u dogter. Sy is die skroefie wat my stroombaan voltooi. My enjin ‘biep’ vinniger as ek haar sien. My geheuekaart vibreer en my ligte reflekteer!”

Meester Bates fluister verdwaas: “My Bettie Bates, verlief op ’n robot!”

Christiaan se blikore tuit. Sy oë skiet verwarde laserstrale. Hy biep-boep: “Onsin! Ek weet wat ek is. My naam is Christiaan Threepio. My familie is oorspronklik van Italië af. Ek is een skakel in ’n lang en prestige-belaaide stamboom van diensknegte en ek is verlief op Bettie Bates!”

Meester Bates se woorde pers deur sy lippe: “Christiaan Threepio, jy eet niks nie, jy drink niks nie en jy poef niks nie. So wat sê dit vir jou, Christiaan Threepio?”

“Nee!” skree die snikkende Bettie Bates.

Christiaan Threepio gaan sit op ’n soele somersmiddag in die eetkamer van sy werkgewer en poleer sy swart skoene, soos hy maar altyd doen as hy oor die diepere dinge besin. Hy het pas uitgevind sy ingewande is van drade gemaak en sy sproete is net vir die skyn. Soos ’n worshond wat homself vir die eerste keer in die spieël sien, voel hy effens uitgerafel. Maar as hy aan haar stoute, groen oë en haar sagte soentjies dink, draai die skroefies in sy binneste.

Op dieselfde soele somersmiddag gaan sit Bettie Bates in die eetkamer van haar ouerhuis en lees Fifty Shades of Grey, soos sy maar altyd doen as sy oor die diepere dinge besin. Sy het pas uitgevind haar liefling, Christiaan Threepio, se stembande is by Brights Hardeware gekoop en sy toonnaels kan nie groei nie.

Soos ’n vlinder wat vir die eerste keer besef dat hy met sy voete ruik, is sy effens uitgerafel. Maar tog, as sy dink aan sy blikkerige boudjies en die liefdevolle woorde wat hy in haar oor “biep-boep”, roer dit iets in haar binneste.

Dit is voorwaar vreemd hoe dinge werk. Partykeer werk dit en partykeer nie; partykeer weet ’n mens nie of dit gewerk het ... of nie.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top