WF 2015: Fotosintese

  • 1

Hy was daar toe die wêreld verander het. Hy het die tekens raakgesien lank voordat hulle daarop kon reageer. Hy het geweet dat hulle te laat begin bekommer het oor die probleem en dat hulle keuse die toekoms drasties sou verander. Hy het gewéét hulle was verkeerd, maar hy kon niks daaraan gedoen het nie. En nou dra hy die gevolge.

“… weerkundiges waarsku dat die tempratuur dramaties sal styg binne die volgende tien jaar in verskeie dele van die wêreld. Plekke soos Afrika sal ernstige droogtes ervaar, terwyl die smelting van die Noord-Pool en ander ysgebiede radikale negatiewe uitwerkings sal hê op die samelewing.”

Tien jaar gaan vir hom in ’n oogwink verby. Vir hulle voel dit egter soos ’n leeftyd. Scenarios wat oor tien jaar “moontlik” eers kan plaasvind, was vir hulle nie ’n onmiddelike prioriteit nie, want daar was altyd iets groter om oor te bekommer. Die samelewing staan nie stil nie, was hulle redenasie, en dus moet ons saambeweeg. Vooruitgang is nodig vir lewe, dit weet hy al te goed, maar hoe word die spoed daarvan bepaal? Hou jy aan met hardloop wanneer tyd jou jaag?

“… die aardbewing is sekerlik die grootste een in die geskiedenis van die wêreld. Nagenoeg die helfte van die Suid-Amerikaanse populasie is uitgewis en die sterftesyfer styg stééds. Die president van die VSA reageer deur te sê dat…”

As hulle net nie so vinnig vorentoe beweeg het nie, sou alles miskien anders gewees het. Hulle was egter só behep met die konsep van tegnologiese vordering, dat hulle heeltemal vergeet het van die nagevolge. Die aardbewing was die eerste teken dat hulle te ver gegaan het, maar hulle het dit hardkoppig op Moeder Aarde blameer. Ongelukkig het hy geweet dat Moeder Aarde die minste van hulle probleme was en dat daar nog erger dinge sou plaasvind voordat hulle sou wakker skrik.

“…Australië is onder water en Indonesië se landsburgers vlug by die miljoene noord in ’n futiele poging om weg te kom van die water. Kenners voorspel dat die Tsunami binne enkele ure Afrika sal tref en dat lande soos Suid-Afrika, Tanzanië en Mosambiek onmidddellike ontruimingsprosesse in aksie moet stel. Slegs agttien maande nadat die aarbewing Suid-Amerika getref het en ons het weer ’n ramp vir die geskiedenisboeke Dames en Here…”

Na die Tsunami was die wêreld chaos. Hy het gesien hoe sterf hulle weens siektes en hongersnood teen ’n ongelooflike spoed. Oorbevolking was nie meer ’n probleem nie, maar eerder massasterftes. Hy kon die mismoedigheid op hulle gesigte sien wanneer hulle weer ’n struikelbolk ervaar het en hy kon hoor hoe hard hulle probeer het om ’n oplossing te kry. As hulle maar net vroëer daaraan aandag gegee het, sou hulle nie so ’n grootskaalse dilemma op hulle hande gehad het nie. As hulle maar net…

“ … wetenskaplikes is stomgeslaan deur die massiewe aswolk wat tans oor Europa versprei nadat drie van Ysland se aktiewe vulkane gelyktydig ontplof het. Nog nooit is daar iets soos dit gesien nie en wetenskaplikes beweer dat die wolk binne so min as drie maande die hele wêreld sal bedek indien daar nie drastiese stappe geneem word nie. Hulle is ook nog in debat oor wat presies die oplossing vir so ’n onrealistiese ramp is. Die einde van die wêreld het aangebreek tensy die…”

Die einde was naby vir almal. Hyself het gesukkel om die giftige kombers van gasse te oorleef wat alles in ’n ewige donkerte bedek het. Tog het hy geweet dat, met tyd, hulle deur die donker tye sou beweeg na ’n helderder toekoms. Hy het egter nooit verwag dat hulle daai moontlikheid sou verpletter met só ’n onmoontlike oplossing nie.

“ Dit sal nooit werk nie, Mnr. die President! Die hoeveelheid suurstof in so ’n aswolk sal nooit onttrek kan word nie!”

“Meneer, ons het só tegnologies ontwikkel in die laaste 100 jaar, dat ons heeltemal in staat is om deur middel van eenvoudige masjienerie suurstof van ander chemiese verbindings te skei. Deur die suurstof uit die wolk te verwyder sal ons dit moontlik maak dat die wolk vanself kan verdwyn.”

“Dit bly egter slegs ’n moontlikheid, want niemand is verseker dat so ’n projek suksesvol sal wees nie. Ons mag dalk net…”

“Daar is geen ander oplossings beskikbaar nie, Meneer! Dit is ’n moontlikheid wat ons doodeenvoudig móét aanvaar as ’n oplossing, anders…”

“Ons kort suurstof vir lewe Mnr. die President en…”

“Dis waarvoor daar bome is, Meneer. Ons hardloop uit tyd uit…”

Hulle masjienerie was goed ontwerp. Té goed ontwerp. Die aantal suurstof wat hulle uit die lug onttrek het, was te veel vir plante om weer te vervang. Hulle was so gefokus op vordering, dat hulle die basiese beginsels vergeet het. Plante benodig lig om te fotosinteer. Sonlig wat nie deur ’n kombers van koolsuurgasse kan deurbreek nie …

Nou staan hy en treur vir ’n wêreld gebreek en verwoes. Hy het gewéét hulle sou uitgewis word deur ’n enkele fout in hul logika. Hy het geweet hul beheptheid met tegnologiese vooruitgang sou te veel wees vir die wêreld. Hy het geweet, maar tog kon hy niks daaraan doen nie.

Hy, die laaste oorlewende van ’n tegnologiese ramp.

Hy, die laaste boom.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 1

Kommentaar

  • Vir 'n skoolleerling is dit uitstekend. Bravo! Bravo! Ons jeug het nog murg in hulle pype om oor kwessies te gesels wat die samelewing beïvloed.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top