WF 2015: Atlantis

  • 0

"Jammer Oom, ek hoop Oom gee nie om dat ek vra nie, maar wat het met Oom se linkerhand gebeur?"

"Loop jy altyd by kroeë in en vra vir vreemde mense persoonlike vrae?"

"Nee, ek wonder sommer maar net, want littekens het gewoonlik ’n storie agter hulle."

"Hierdie litteken het nie ’n normale storie agter hom nie.”

"Mag ek die abnormale storie hoor?"

"Het jy tyd?"

"Ja, Oom; ek wag vir die liefde van my lewe. Sy behoort oor twee uur hier te wees, haar vlug is vertraag."

"Goed dan, laat ons begin: dit het alles begin toe ek en my beste vriendin die eerste mense in die geskiedenis wou wees om op die punt van die wêreld te staan. Dit was in die middel van die Noordpool. Ons was 10 meter van ons bestemming af, en op daardie oomblik het ek besluit om haar, Lisa, te vra om met my te trou. Ons het ons eindpunt bereik en die kompas in Lisa se hand het begin tol. Ons was albei in ekstase. Ons het vir ’n paar oomblikke die skoonheid van die aurora-ligte bewonder en net toe ek my hand in my sak steek om die ring uit te haal, sien ons hoe die ligte ’n tornado om ons vorm. Die volgende oomblik hoor ons hoe die ys onder ons voete kraak en meegee.

"Op daardie oomblik het ek ondertoe gekyk en ’n groot sirkelvormige stad soos ’n roos onder my voete sien oopblom. Ons het 50 meter geval tot binne-in ’n poel in die middel van die stad. Net so vinnig as wat ons ingeval het, is ons weer uit. Die water was vuurwarm. Soos ek vir Lisa uit die water help, kyk sy vir my met haar groot blou oë en sê een woord: 'Atlantis'. Toe my oë hare verlaat, het ek besef dat ons omring was deur groot kristalmure en daaragter was die see. Atlantis was toe nooit onder die see nie, maar binne-in.

"Terwyl ek nog verskrik langs die poel gesit het, het Lisa opgestaan en in die rigting van die grootste gebou, ongeveer 100 meter van ons af, begin stap. Ek het opgestaan en haar gevolg. Toe ons die ingang van die tempel nader, is ons gekeer deur ’n groot, donker figuur, wie se gesig versteek was onder die vel van wat gelyk het soos ’n groot reptiel. Met ’n diep, donker stem het hy ons gevra wat ons name is en hoe ons daar gekom het. Ons het hom geantwoord deur na die groot gat aan die bokant van die kristalkoepel te wys.

"Hy het ons ’n vuil kyk gegee en met sy diep, rommelende stem gevra hoekom hy ons sou toelaat om daar te bly as ons nes al die ander mense is wat oor duisende jare net rykdom uit hierdie beeldskone stad wou wegdra. Hy was die wag van Atlantis vir meer as 1 000 jaar. Lisa het verstom na hom gekyk en vir hom gevra hoe hy hoegenaamd so oud kon wees. Die man het toe opgekyk en ons verduidelik dat die kristalmuur wat om die stad is, die lug suiwer wanneer dit deurbeweeg. Dit het veroorsaak dat geen besoedeling in die lug was nie en dat hy so lank kon lewe. Na sy verduideliking het hy weer met sy yskoue blou oë na ons gekyk en vir ons gesê dat ons reeds te veel gesien het. Hy het ’n groot spies onder sy kleed uitgehaal en dit op ons gerig. Met een groot brul het hy die spies na my toe gegooi. Ek het die wind wat die spies gevolg het, op my gesig gevoel terwyl dit verby my kop vlieg. Ek het vir Lisa gegryp en so vinnig as wat my voete my kon dra, gehardloop.

"Nadat ek en Lisa omtrent twee kilometer gehardloop het, het ons gaan staan. Sy het vir my vertel dat sy gelees het van Neptunus se drietandvurk wat in die middel van Atlantis geplant is. Ons het besluit dat dit ons enigste hoop was om uit die stad te kom. Ek het onthou dat daar ’n lang rots was in die middel van die poel waarin ons geval het, en besef dat die vurk nêrens anders kon wees nie. Ek en Lisa het so vinnig soos ons kon na die poel toe gehardloop en na die lang rots geswem. Ons het dit begin uitklim en ek het voor Lisa bo gekom. Ek was nou in die middel van die stad en kon alles sien. Toe Lisa bo kom, het ek uit die hoek van my oog weer die donker figuur sien staan met sy spies in sy hand. Tyd het ewe skielik gaan stilstaan en ek het die spies stadig deur die lug sien trek na ons toe. Dit het Lisa getref en haar middel deurboor. Sy het op my geval en met haar laaste asem in my oor gefluister dat sy lief was vir my. Ek was gevul met soveel woede dat ek die krag van tien mans gekry het. Ek het die vurk met albei hande gevat en kon dit effens beweeg. Met die beweging het die kristalmure begin kraak. Ek het besef dat die vurk die stad beskerm teen die oseaan en dit met oorweldigende liefde en woede uitgepluk sodat die vurk die rots verlaat en in die lug opgevlieg het. Ek het dit net-net gegryp met my linkerhand en agterna gevlieg. Soos ek in die lug opgevlieg het, het ek gesien hoe die magtige water van die oseaan die stad oorspoel."

Die klokkie by die kroegdeur lui en die jong man kyk om – sy geliefde is daar. Hy draai om om die oom te bedank, maar al wat agterbly waar hy gesit het, is ’n diamantring op die kroegtafel.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top