WF 2012: ’n Wêreld van projeksies

  • 0

Dis Maandag 2012. Ek is vreeslik moeg. My alarm het al drie keer afgegaan, maar ek kry myself nie uit die bed uit nie. Ek weet dis my eie skuld! Ek wou mos tot vanoggend  vieruur op die rekenaar speel. Sien, ek het ’n nuwe super-awesome game gekry. Dit is die mees populêre game wat die wêreld in ’n lang, lang tyd gesien het. Ek moes smeek om dit vir my te kon koop. Almal het dit en ek wil ook “in” wees en daaroor kan praat. Nou het ek dit uiteindelik gekry en  nou … nou is ek verslaaf daaraan.

Die game se naam is Die Projeksiewêreld. Om in te teken, moet jy jou vinger met ’n spesiale naald prik om ’n bietjie van jou bloed op ’n spesiale vingerbordjie, wat jy saam met die speletjie koop, te drup. Die speletjie werk met jou eie DNA. Jy skep vir jouself ’n karakter; jy skep die mens wat jy graag eintlik sou wou wees. Dan gee jy jou karakter ’n naam en jy trek hom aan met die klere van jou keuse. Jy kies ook vir hom sewe stelle klere, een vir elke dag. Jy besluit watter kleur sy hare is en as dit ’n vrou is, ook hoe sy gegrimeer moet word. Dan registreer jy jou karakter. Hy of sy kry ’n ID wat die speletjie self ontwerp en word dan as ’n projeksie in die werklikheid vrygelaat. Net jy weet dat jy hom gemaak het. Die ander mense mag nie weet nie – dit is waar dit lekker raak. Van nou af beheer jy die karakter! My karakter se naam is Zain Mitchelack. Hy is 26 en ry ’n sportmotor. Ek het vir Zain sy eie Facebook-blad geskep. Elke projeksie besit sy of haar eie Facebook-blad. Die bloed van my vinger wat ek op die bordjie gedrup het, gee aan Zain al die menslike eienskappe wat hy nodig het, soos om te kan eet en slaap, asem te haal en te kan beweeg.

Die speletjie is al twee maande op die rakke, dus loop daar al twee maande lank sulke projeksies langs ons in die strate en in die winkels rond, maar ons weet van niks, want hulle lyk soos doodnormale lewende wesens. Maar in werklikheid is hulle projeksies wat behéér word deur regte lewende wesens. Almal van ons is vasgevang in die baie, baie realistiese, maar tog valse wêreld van die speletjie.

Ongeveer ses maande nadat die eerste projeksie gemaak is, het dr Lexie Owens ’n virus in die einste projeksie gevind. Hy het aanvanklik nie besef dat die siek “persoon” ’n projeksie is nie. Dr Owens het Zola (die eerste projeksie was ’n vrou) ondersoek en hy het baie groot geskrik. Hy kon geen pols of bloeddruk vind nie. Eers het hy gedink dis dalk deel van die virus, maar daarna het hy besef dit is ’n projeksiekarakter van daardie bekende speletjie.

Hy het besef dat Zola nie vanself gesond kan word nie, maar dat die virus ’n rekenaarvirus is wat ’n baie groot uitwerking op haar het. Hy het Zola onder kwarantyn geplaas en daarna het hy speurder Van Deventer genader om te help. Hy moes Zola se maker opspoor, maar dit was ’n onmoontlike taak, omdat die makers van die projeksies te alle tye onpartydig bly. Die virus het deur al die projeksies versprei. Dr Owens het dit hoogs aansteeklik gevind, maar hy het nie geweet dat dit die projeksies se makers of enige ander mense kan aansteek nie. Nadat daar drie mense by Zola was met presies dieselfde simptome daarna, het hy besef dat dit deur die virus van die projeksies oorgedra word. Die mense wat siek geword het, het almal baie hoë koors en is natgesweet, hulle tonge is spierwit en hulle het baie erge lyfseer. Dr Owens het die drie pasiënte ook onder kwarantyn geplaas en hy het Zola se simptome met die mense s’n vergelyk.

Daar het daagliks ongeveer vier tot vyf mense siek geword en hulle is ook onder kwarantyn geplaas. Daar was teen die tyd al byna 75 projeksies onder kwarantyn en hulle het die een na die ander “doodgegaan” deur soos mis voor die son  te verdwyn. Die virus het hulle gevreet. Die mense, aan die ander kant, het nie doodgegaan nie, maar hulle het baie verander. Hoe langer hulle onder kwarantyn was, hoe senieler het hulle geraak. Hulle het swaar asemgehaal en het ook teen die mure probeer uitklim.

Dr Owens het ’n manier gevind om homself teen die siekte te beskerm. Hy het hom elke oggend met entstof ingespuit. Dit was sy doel om ’n middel te kry teen die PC-virus, soos hy dit genoem het.

Vandag is dit Maandag 2014, twee jaar later. Dr Owens het vandag presies vier maande gelede ’n oplossing gevind vir die geïnfekteerde mense. Dit is ’n baie, baie unieke entstof. Die grootste bestanddeel in hierdie entstof is die bloed van elke projeksie se maker – die bloed wat op die spesiale bordjie van die speletjie gedrup is.

Die skurk wat die virus in daardie een rekenaar geplant het, is gevang en hy is deur dr Owens en speurder Van Deventer in Zola se projeksie-liggaam en lewe vasgevang vir die res van sy lewe. Dit is sy straf vir die wêreldwye pandemie wat hy veroorsaak het.

Daar is in daardie twee jaar presies 13 450 900 mense dood. Projeksies is van 2014 af verban en alle rekenaarspeletjies word eers ondersoek deur die speurders.

Ek, as julle gewonder het … Ek is Rowan-Lee Smith en ek is die meesterbrein agter Die Projeksiewêreld!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top