WF 2012: Voortbestaan vs vooruitgang

  • 0

“Die eerste skree, die eerste lag, die eerste treë, die eerste tand – om ’n pienkvoet in jou midde te hê, is ontsettend opwindend en baie genotvol. Vir ’n moeder soos ek is dit dít wat my deur die lewe kry.”

Só begin ek my nuutste berig vir die moedersrubriek van Februarie 2050. Terwyl ek dink aan wat ek verder wil skryf, sien ek dat Karlien, my dogtertjie, effens onrustig agter my beweeg. Dan sien ek dat sy net slaap.

As ’n oorbeskermende ma is dit vir my fantasties om heeldag my kind te kan dophou, lewensgroot, terwyl ek in my kantoor sit. Ek kan haar elke oomblik van die dag sien en as ek wil, kan ek met haar praat – dan kan sy my ook sien. Ek kan seker maak dat alles in die haak is en dat my kosbaarste besitting die beste behandeling kry wat sy moontlik by haar oppasser kan kry.

Terwyl ek dink aan wat my volgende woorde gaan wees, probeer ek my sonder hierdie 3D seinstelstel wat dit vir my moontlik maak om haar so te sê werklik in my teenwoordigheid te hê, indink. Hoe het die ma’s van 100 jaar terug dit oorleef? Die millenniumbabas se ouers? Hoe het hulle dit reggekry om dag na dag skaamteloos hulle beroepsdrome na te jaag met die wete dat hulle kind nie ’n moederlike oog op hom of haar het nie? Was dit nie vir hulle hartverskeurend om na ’n lang dag by die werk by die oppasser aan te kom en te hoor dat hul hart se punt vandag sy eerste treë gegee het terwyl hulle nie daar was nie?

Terwyl hierdie gedagtes agter mekaar in my kop aantree, sien ek skielik die TV-skerm in die voorportaal raak. Dit is op CNN. Nóg ’n spesie het uitgesterf, al die dertiende een hierdie jaar. My hart kan nie anders as om te bloei vir die arme diere wat een vir een deur die mens vernietig word nie, maar meestal bloei my hart vir my kind, wat nooit gaan weet hoe ’n seeperdjie in die werklike lewe gelyk het nie. Sy gaan nooit weet hoe ’n jan pierrewiet regtig sing nie en pikkewyne sal altyd maar net ’n fantasie vir haar bly.

Elke era het seker maar sy voordele, of hoe? Mense is ontwerp om aan te pas by die omstandighede wat om hulle heers en daarom was dit moontlik om te lewe sonder 3D seinstelsels. Daarom gaan ons nou moet leef sonder hierdie pragspesie – omdat ons doodeenvoudig nie anders kan nie.

Hoe kry ons dit reg om ons oor die jare te verryk deur die natuur te skend en dan, ironies genoeg, met dieselfde poging ons eie kinders te pootjie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top