Die bus is bedompig. Warm asems suis heen en weer in die voertuig en die klank van “nuwe lewe” brand in die kele van dié wat nie weet nie. Die begeertes na rykdom kan gesien word in die glasagtige, gespanne oë van dié wat hoop.
Daar is dertig van ons, van wie twaalf uitverkorenes is, soos die dissipels van ouds, twaalf wyse manne wat moet dien as getuies.
Ek het die vreesaanjaende e-pos van die wetenskaplikes omtrent ’n week terug ontvang. Die rekenaar is nou bevlek met my vrees, want ek was een van dié wat saam moes gaan. Hierdie nuusbrokkie het gehandel oor die eienskappe van bakterieë (die ontstaan, groei en verspreiding) en die invloede daarvan. Verder was daar ’n opsomming van die omstandighede by gebiede wat onlangs deur ’n vuurspuwende draak geteister is. ’n Lys van moontlike rampgebiede is ook gegee. Ek het die onwetendes gewaarsku, maar blykbaar was dit inligting, nie ’n vermaning nie, en die volgende dag het ons vertrek.
Ons bestemming is die vulkaniese berg Cedora, wat onlangs uit ’n lang multi-seisoenale hibernasie ontwaak het. Almal op die bus wil die vars, groen gras ruik en die steentjies versamel wat deur miljoene jare se metamorfose vervaardig is en soos suurwurms deur die aarde uitgespoeg is saam met die vloeibare. Almal op die bus was gereed om die vrugbare grond swanger te maak en te bewerk, almal behalwe die twaalf wat geluister het.
Cedora is ’n skepping waarmee nie gepeuter moet word nie. Die onstabiele rotsformasies op die oppervlak van die draak is ’n te swak fondasie vir die krag en energie wat die ontwakende draak voortbring. Verder het die lang hibernasie na die vorige uitbarsting wat vele organismes begrawe het, gesorg vir ideale omstandighede in die ontbindende lyke vir ’n sekere bakterie om te ontwikkel. Ongelukkig vir humaniste het net twaalf geluister na die nieprofetiese waarskuwing, en die res van die mynwerkers wat die tradisie van "slegs dié met ’n kop so hard soos diamant sal een kan opspoor" het besluit om dit te beproef, ondanks die vermanings en rotsvaste bewyse.
Ná die eerste werksdag van ons nuwe lewe het die eerste onwetende geval. ’n Rots van dertig ton wat skielik in lug verander het, is skuldig bevind aan moord. Sy lyk, wat in aanraking gekom het met die bakterieë, het dadelik die vleisvreter se nuwe tuiste geword.
Hy was ’n goeie mynwerker en vele ander wou sy stukkies saamgeperste sonlig hê. Drie dae ná ’n besoek aan sy oop graf het die eerste siekes gekom. Subtiele simptome soos effense koors, rooi oë en seer ledemate was die begin. Verspreiding het vinnig plaasgevind. Om iemand se hand te skud, kon ’n sieke in die tronk laat beland vir strafbare manslag – as iemand omgegee het.
Die eindresultaat was nie so subtiel nie ...
Ná ’n week het nuwe lewe in ’n nuwe dood ontwikkel. Een vir een het die onwetendes geval. Een vir een het hul liggame oopgebars soos oorryp tamaties in die son. Een vir een moes die uitverkorenes kyk hoe dít wat oorgebly het van hul medemens in die oop aarde geslinger word, net om die volgende dag te sien hoe die Davids self die klippies word.
Cedora was vrugbaar. Vir vrugte en groente. Cedora se lyke en omstandighede was vrugbaar genoeg vir hierdie vleisvreterbakterieë. Elke klam aanraking het hulle laat versprei soos daardie swart Spiderman-pak. Die Cedora-vleisvreter het sy slagoffers met ’n brandende koors verteer en hul organe laat ontplof van die intense druk van binne. Die rooi oë van die slagoffers was vensters waardeur mens die skade binne kon sien. Die bloed, die rooi, warm bloed wat geen aarsisteem meer het nie. Elke slagoffer word ’n insek, ’n nievertebrate, net soos die profete, wat as wetenskaplikes vermom is, voorspel het.
Die bus is nie meer so bedompig nie. Al wat in die kele van die uitverkorenes brand, is die oorgesuiwerde lug uit die suurstofmaskers, en al wat gevoel word, is die temperatuurreguleerder van die beskermende pakke wat die uitverkorenes dra. Die oorblywende onwetendes ry ook saam, maar is stil. Sommiges lyk soos verslaafdes aan dagga.
Minder as tien jaar later koop ek ’n koerant. Die hoofopskrif lui: “Nog ’n dorp sterf uit.” In die berig lees ek weer die storie wat ek reeds so goed ken. ’n Bakteriële infeksie, bekend as die Vleisvreter van Cedora, het nog ’n dorp as slagoffer geëis. Die ontstaan van die infeksie is onbekend, en die gevolge vreemder as fiksie. Die Vleisvreter tas vele sentrums van die menslike liggaam aan en lei tot oorwerkte organe, asook die disintegrering van die bloedvloeistelsel, hart en longe. Dit teer op die hoofare, are en haarvate. Disfunksionering in die menslike liggaam saam met die gasse veroorsaak deur die infeksies van die organe lei tot ’n skielike biochemiese ontploffing wat die slagoffer se lyf aan flarde ruk. Geen genesing of toetse is tot op datum gevind nie. Na raming is reeds meer as ’n kwart van die bevolking aangetas, maar geen ware peiling kan gedoen word nie as gevolg van die snelle toename in statistiek.
Ons is twaalf wat weet, twaalf aan wie die kennis toevertrou is. Twaalf mandjies vol broodkrummels wat die joernaliste moet voed.
Niemand kan die einde voorspel nie. Die meeste mense vermy steeds die onderwerp, al het ’n gedeelte van die werklikheid ons reeds getref. Wie gaan oorbly, sal niemand weet nie. Die eerste rampgebied was Cedora. Die begin van die einde van die wêreld het aangebreek, en daar is nie vuur of ys betrokke nie.

