Ek het nog altyd anders gevoel. Dit is asof ek iets anders in die lewe raaksien en eenvoudige dinge miskyk.
Kort nadat ek sewe jaar oud geword het, is ek met outisme gediagnoseer. My ouers het geglo ek ly aan outisme, aangesien ek alles wat mense vir my sê, ernstig opneem en nooit speletjies met ander kinders gespeel het nie, en ek het elke aand voor ek gaan slaap, ’n ritueel gevolg. Elke aand op die kop elf minute oor elf sal ek buitentoe loop en na die sterre staar voordat ek terugsluip en in die bed klim.
My ouers verstaan my nie. Dit voel of niemand in die wêreld my verstaan nie. Daar is soveel gedagtes wat deur my kop flits, maar ek het net geen behoefte om dit verbaal weer te gee en met iemand te deel nie. Ek het dom gevoel nadat ek met outisme gediagnoseer is.
Ek kon nooit verstaan dat mense stellings sal maak en dit nie werklik bedoel nie. Besef mense nie hoe kort en kosbaar die lewe is nie? Verstaan mense nie dat daar soveel is om nog te leer nie? Waarom sal mense hulle tyd en asems mors om iets “net vir die grap” te sê?
Ek kon nooit speletjies verdra nie. Wat is die nut daarin om ’n virtuele wêreld te skep as dit nie kan realiseer nie? Ek het eerder my tyd daaraan bestee om oor die onbekende elemente in ons heelal te dink.
Op my vierde verjaarsdag het ek tot elf oor elf buite gesit terwyl my pa van kuiergaste afskeid geneem het. Dit was daardie aand wat ek agtergekom het hoe anders die hemelruim dáárdie spesifieke tyd van die nag lyk. Amper asof daar ’n boodskap is wat hunker om deur te skyn, maar die bevolking is net te besig en te onkundig om dit agter te kom. Ná daardie aand het ek elke aand stiptelik elf minute oor elf versigtig buitentoe gesluip om die sterre te bestudeer.
Die kinders in my klas spot my altyd wanneer ek vir die juffrou verduidelik dat ek “te besig” was om die huiswerk te doen, aangesien ek aan geen buitemuurse aktiwiteite deelneem nie. Dit was egter altyd die waarheid. Ek het nie tyd gehad vir huiswerk doen nie. Ek het ook nie die nut daarin gesien wanneer jy omtrent alles wat jy in die skool leer, na universiteit reeds vergeet het nie. Ek bestee my tyd aan iets meer waardevol. Elke kans wat ek kry, doen ek navorsing oor die buitenste ruimte.
Die lug in Namibië is dor en warm. My ouers is mal daaroor om in die snikheet Desembermaand in Grootfontein te gaan vakansie hou. Elfuur begin ek wegloop van die kampterrein af. Ek wil nie hê ander mense moet my dophou wanneer ek my ritueel slaafs volg nie.
Ek besluit om so ver moontlik van die kampterrein af weg te loop. Ek sal eers stop wanneer dit elf minute oor elf is. Ek loop vinnig en die tyd beweeg stadig. Na elf minute is ek ver weg van enige mense. Ek is in ’n landery met hoë plantasies. Die sterre is helderder as wat ek dit al ooit gesien het.
Ek kyk na die sterre en beweeg my kop. Ek probeer jare se astrologie- navorsing toepas op wat ek sien. Dan vang die maan my oog. Die skaduwee op die maan raak groter. Ek snak na my asem en val op die droë grond tussen die digte plante neer. Die skaduwee van die maan val op die landery soos vingers wat voor ’n flitslig gehou word.
Dit is asof ek droom. Die skaduwees verander in enorme, blink wesens. Die kreature het geensins enige ooreenkomste met die menslike anatomie nie. Hulle het nie hande, oë of selfs ’n kop nie. Ek kry gedagtes in my kop, maar dit is nie myne nie. Die wesens is só ontwikkel dat ek nie nodig gehad het om my mond oop te maak nie. Ons verstaan mekaar deur denke.
Vir die eerste keer in my lewe voel ek asof iets my verstaan. Vir die eerste keer het ek só ’n dringende behoefte om met iets te kommunikeer. Ek droom. Ek weet ek droom, maal herhaaldelik in my kop. Die een glansende wese hoor my twyfelende gedagtes. Hy skud homself en ’n groot gedeelte van sy blink liggaam val langs my neer en verhard soos dit met stof bedek word. ’n Konkrete bewys dat ek nie droom nie.
Ek het vir die eerste keer werklik spesiaal gevoel toe die wesens aan my kommunikeer dat ek die enigste persoon is aan wie hulle nog ooit verskyn het. Ek is blykbaar die enigste persoon sover wat my nie ophou met aardse dinge nie. Ek het genoeg insig en breinkrag om hulle te kan verstaan. Ek sal nie ’n logiese verklaring vir hulle verskyning probeer vind nie. Ek sien hulle vir wat hulle is.
Ek het nooit enigiemand van daardie aand vertel nie. Ek sou dan seker met skisofrenie ook gediagnoseer word.
Dit was eers ná twintig jaar wat ’n boer op ’n deel van die ruimtewese se liggaam afgekom het. ’n Wetenskaplike het dit as ’n ou meteoriet verklaar. Dit was daardie dag wat ek besef het dat die res van die wêreld dom is, nie ek nie.

