My lyf bewe toe ek saam met 100 ander mans die staalgebou van Terminasiesone 7 binnegaan. Minder as drie uur gelede het ek my ontruimingsbrief ontvang.
Emosies hardloop wild deur my kop. Ek voel ’n knop wat diep in die wande van my maag ontwikkel … Ek het geweet dié dag gaan kom. Die aarde se bevolking het met meer as 50% gegroei nadat die Amerikaanse unie van wetenskaplikes die laaste siekte, naamlik vigs, genees het. Daarna was dit vanselfsprekend dat daar prosedures van verwydering moes plaasvind. Terminasie was die beste opsie. Elke maand kry 200 mense briewe met hulle terminasiedatum. Myne is vroeg. Te vroeg.
Ons beweeg deur ’n nou gang terwyl ons met boeie styf aan mekaar vasgemaak is. Ons begeleier, XX13, is heeltyd besig om ons te kalmeer met sy amper realistiese rekenaarstem. Robotte is van die vriendelikste mensgemaakte wesens van ons generasie, maar tog is daar iets anders aan dié robot …
Ons loop ’n kamer binne waar ek dadelik weet iets is verkeerd. Daar is rye met enorme kapsules met jellieagtige stowwe wat menslike liggame omring. Soos hulle ons deur die rye lei, sien ons dat die liggame aan die laaste duisend jare se presidente behoort. Aan die einde van die kamer sien ek ’n donker figuur met ’n masker op. Met robotagtige bewegings lig hy die masker en almal besef dat dit ’n Serenisiaan, ’n baie intelligente wese van die planeet Serenus, is. Vreesbevange begin almal oor mekaar hardloop en val om weer by die ander kant uit te kom, terwyl XX13 en die Serenisiaan in vreemde tale op ons skree.
My hart klop vining en val-val kom ek by die deur aan die ander kant uit. Ek besef skielik dat daar ’n groot, sterk man langs my is wat nie meer sy boeie aanhet nie. Hy ruk die deur oop en trek my saam.
“Hardloop! Hulle is nie vinnig nie!” sê hy skielik met ’n diep stem vir my.
Met alles wat ek het, begin ek agter hom aan hardloop. Uit alle rigtings spring daar klein, blou monsters voor ons in. Hulle het groot, skerp tande, vier slange vir arms en groot, arendagtige kloue. Die sterk man begin dadelik die wesens uitmekaar skeur terwyl ek met verbasing staan en staar.
“Wie is jy?” is al wat ek kan uitkry.
“Speurder Gerhard Steenkamp. Aangename kennis.” antwoord hy.
“Wat doen ons hier? Wie en wat is hierdie goed waarteen jy so veg?” vra ek met ’n geïrriteerde stem.
“Onthou jy die groot hongersnood in 2050? Daar was geen produksie nie, omdat die state deur die Krezan ingeval is. Hulle kom van ’n buitenste sterrestelsel en is besig om die Melkwegstelsel oor te neem. Volgens satelliete het hulle al vyf sterrestelsels onder hulle beheer.”
“Waarheen gaan al die mense wat hulle elke maand gevange neem?”
“Hulle sien mense as die intelligentste spesie wat bestaan. Omdat hulle slegs goed is in rekenaartegnologie, het hulle die menslike brein ook nodig om detail te bepaal. Kom, ons moet vinnig maak,” sê hy en ruk my in ’n donker gang in. “Nog ’n rede vir hulle inval is energie. Hulle het dit nodig om al hierdie sterrestelsels met mekaar te verbind en een groot weermag te begin.”
Dis tjoepstil in die donker gang. Elke nou en dan hoor ons ’n gegil van mense wat probeer wegkom. In die verte sien ons ’n groen liggie brand. Met ’n drafstap beweeg speurder Steenkamp na die liggie. Hy druk ’n vreemde kode in ’n dun mikroskyfie met nommers op en ek sien hoe ’n groot masjien voor my oopgaan. Hy druk toe ’n skakelaar en skielik raak alles stil. In die verte hoor ons voetstappe wat ritmies al hoe nader kom. Paniekbevange gryp ek die speurder se arm vas en beweeg agter hom in.
“Hoekom het jy dit gedoen?” vra ek saggies.
“Dit is die skakelaar wat al die energie van die gebou beheer. Nou moet ons nog net die bron van hul energie vir die ander sterrestelsels vind. Dis in die onderste tonnels. Moenie die Krezan in hulle oë kyk nie. Hulle trek só al die inligting uit jou brein uit en jy sal soos ’n zombie word,” waarsku hy my terwyl die voetstappe harder word.
Ons begin weer vinnig beweeg. Dit raak al hoe donkerder. Skielik steek die speurder vas en buk af om iets oop te maak. Hy laat my eerste afklim en kom versigtig agterna. Ons beweeg by die derde tonnel in en in die hoekie sien ons weer ’n liggie wat brand. Vinnig beweeg hy na die kodebordjie toe. Tot my verbasing sukkel hy met die kode en ek besef skielik dat ek hom kan help.
“Ek werk daagliks met kodestelsels. Kan ek dalk vinnig kyk?” vra ek.
Ek kyk aandagtig na die die skyfie en sien dat hulle die kode geblokkeer het deur die rooi en blou draad met mekaar te verbind. Vinnig koppel ek die twee regte drade aan mekaar, hy tik die kode in en die deur swaai oop!
Toe ons die reuse Krezanmonster sien, is dit reeds te laat ... Al wat ek sien, is die heldergeel lig in sy oë. Die speurder se mond val oop en hy steier magteloos teen die muur vas. Ek besef daar gaan niks meer in sy brein aan nie en dat spoed al is wat ek nou oor het om verby hierdie mag te kom. Ek skiet verby die monster by die deur in. Dis yskoud binne. Die antwoord is in hierdie vertrek!
My hele lyf bewe. Ek is die enigste een wat planeet Aarde kan red ...

