WF 2012: ’n Tweede kans

  • 0

Biep-biep-biep. Ek dwing my wekker tot stilte en draai om en slaap weer verder.

Trieng-trieng-trieng. Ek slaan my wekker, maar hy wil dié keer nie stilbly nie. Ek druk hom weer, maar die irriterende geluid hou aan om in my kop in te kruip. Ek staan op en besef dat dit nie my wekker is wat die geluid maak nie, maar my selfoon wat aanhoudend lui. Ek moes eers my hele kamer omkeer voordat ek die flippen ding kon kry, maar ek is net-net te laat om dit te antwoord. “Dis al twaalfuur … al middag!” Ek probeer so vinnig moontlik al my goed bymekaar kry, terwyl ek besef dat my nuwe baas my natuurlik al ’n miljoen keer probeer bel het.

Met slaap in my oë en my pantoffels vergete aan my voete, tree ek die hoekkafee Chicken Licken binne. Ek vermy oogkontak met my baas, met die wete dat ek sonder ’n werk gaan sit (al weer), terwyl ek probeer verskoning maak oor hoekom ek drie ure laat is.

Goed verstrooid ry ek terug na my woonstel. “Wat het van my lewe geword?” Ek wens eintlik iemand kan hierdie retoriese vraag vir my beantwoord.

Ek plak my op die bank neer en skakel die televisie aan, terwyl ek dink hoe my lewe was: ek het al die geld in die wêreld gehad, meisies het oor my voete geval en my lewe was perfek. Toe verloor ek my pa se besigheid. As ek net van beter geweet het.

*

“Jaco!” Net toe ek by die kruidenierswinkel uitstap, hoor ek my naam. Ek draai om en sien een van my ou skoolpêlle met ’n pak klere en ’n vet sigaar in sy hand. “Jy hou darem die jare goed,” sê hy sarkasties en terselfdertyd geskok toe hy my van nader sien. Ek is nie verbaas dat hy my so aanstaar nie. My baard is maande laas geskeer.  Ek dink ek het nog tandepasta op my hemp en my hare begin in rasta-lokke verval omdat ek dit so lank laas gewas of gekam het.

Ek sluk diep en maak my keel skoon: “Ek’s op vakansie,” jok ek om my beter te laat voel. Ek lyk seker soos ’n boemelaar op straat teenoor hom.

Hy staar my net ongeloofwaardig aan. Net om die aandag van my af te trek, vra ek: “Het jy die Lotto gewen of iets, dat jy so lyk?”

“Nee, ek weet net wat my kliënte nodig het en tot watter mate hulle sal betaal om dit te kry,” lag hy. Ek weet nie wat so snaaks is nie. “Weet jy wat? Ek dink jy het ook ’n bietjie van my produkkie nodig. Sy is duur, maar die eerste een is op die huis.” Hy begin in sy silwer baadjiesak rondkrap en kom te voorskyn met ’n pil so klein soos ’n baba se pinkienael. Ek weet nie eintlik hoe klein ’n baba se pinkienael is nie, maar al wat ek kan sê, is dat dit vrek klein is.

“Drink dit vanaand as jy gaan slaap. Jy sal môre soos ’n nuwe mens voel.” Hy hou die pil na my toe uit. “Is jy mal? Ek mag miskien soos ’n straatloper lyk, maar ek drink nie sulke goed nie,” sê ek skepties terwyl ek die pil uit sy hand uit klap. Dit tref die vloer. “Dis jou eie keuse as jy so ’n perfekte geleentheid deur jou vingers wil laat glip om jou lewe weer ’n bietjie woema te gee.” Hy draai om en stap weg.

Ek kyk af na my voete. Ek besluit om maar die ronde tablet te soek en op te tel voordat een of ander kind dit miskien in die hande kry. Dan dink ek: “Wie op aarde gebruik nog die woord woema?”

*

Tuis gooi ek dadelik die pil in die asblik. Ek skud die dag se gebeure af en gaan sit by die koffietafel om deur die koerant te soeklees vir ’n nuwe werk.

Niks wil in my kop bly nie. Ek lees ’n paar werksgeleenthede oor en oor, maar my kop is soos ’n polistereenglas met ’n gat aan die onderkant. Al waaraan ek dink, is daardie pil. Dit kan seker nie skade doen om net daardie een te drink nie. En daar bestaan tog nie goed wat jou “soos ’n nuwe mens” laat voel nie.

Ek krap die tablet onder uit die asblik, nog ongeskonde, en tel tot drie voor ek dit sluk.

*

My oë skiet oop en ek voel anders. ’n Goeie anders. Die eerste gedagte wat in my kop instroom, is dat die pil meer doen as was ek ooit kon dink. Die tweede gedagte is dat ek iets aan my hare sal moet doen as ek enigsins ’n werk wil kry.

Voor die einde van die dag het ek my tersiêre studies voltooi, ’n bemarkingsonderneming wat amper ten gronde sou gaan as een van die rykste besighede ter wêreld gevestig en boonop ’n werker-van-die-jaar-sertifikaat ontvang.

My dag was nog nooit tevore só nie. My enigste bekommernis was net: waar kan ek nog van hierdie wonderpille kry?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top