WF 2012: Robotte

  • 0

Mense droom al van die vroegste tye af van robotte. Hoekom? Sodat ’n masjien herhalende, vervelige, gevaarlike en uitputtende take vir hulle kan verrig. In die twintigste eeu is hierdie droom bewaarheid – en nou word robotte al  langer as vyftig jaar in baie fabrieke en op ander plekke gebruik.

Dit is ’n blou Maandag. Ek sit met ’n padda in my keel en kry toe nog met iemand met lang vingers te doen. Maar boontjie kry sy loontjie. Hy wou nog hakskene wys, maar ons het hom gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Hy sal ’n nuwe blaadjie moet omslaan en net soos Ferreira sy goed moet vat en trek. Alle grappies is van nou af op ’n stokkie, sowaar as padda manel dra!

Of anders gestel: Alles loop op hierdie Maandagoggend verkeerd. Ek is grieperig en iemand wou ons nog boonop besteel. Die boef wat ons op heterdaad betrap het, is in hegtenis geneem voor hy kon laat spaander en hy sal vir sy wandade betaal. Die tronk is sy voorland. En ons sal (sover moontlik) seker maak dat hy nie ander beroof nie.

Net daar en dan het ek besluit: Robotte is al betroubare manier om die werk gedoen te kry en van toe af het ek al hoe meer navorsing gedoen en inligting rakende robotte verwerk.

’n Robot is ’n masjien wat ’n rekenaar bevat, maar dit moet ook kan reageer op inligting wat uit die omgewing kom. Robotte bestaan al van toeka se tyd af tot nou …

Hoewel beweeglike masjinerie al in die negentiende eeu bestaan het, kon geprogrammeerde robotte eers gemaak word na die uitvinding van transistors en geïntegreerde stroombane in die jare vyftig en sestig.

Omstreeks 1980 het die gebruik van robotte vinnig begin toeneem. Teen die middel van die 1980’s het baie mense in hulle belanggestel as gevolg van flieks soos Star Wars – maar die talle robotte wat destyds verkoop is, is deur fabrieke, eerder as huise, oorgeneem. Die afgelope dekade het al meer nywerhede hulle begin inspan.

Interessante feite wat ek tydens my navorsing teëgekom het, was dat die woord robot afgelei is van die Tsjeggiese woord robota, wat “sleurwerk” beteken. Meer as die helfte van die robotte wat in die wêreld gebruik word, werk in fabrieke waar motors gemaak word. Die wrak van die passasierskip Titanic lê amper ’n eeu lank 4 km onder die see se oppervlak. Dis heeltemal te diep om deur duikers bereik te word, maar in 1986 is ’n robot afgestuur om dit te verken.

Net soos in flieks kan robotte beweeg en het hulle wat wetenskaplikes “kunsmatige intelligensie” noem – hulle het ’n rekenaar as brein. Robotte “dink” op verskillende maniere. Die oudste en algemeenste is op reëls gegrond: As hulle ’n sekere ding teëkom, is hulle geprogrammeer om op ’n bepaalde manier te reageer. Navorsers werk ook aan die ontwikkeling van neutrale netwerke, wat in ’n sekere mate met die menslike brein ooreenstem. ’n Neutrale net kan uit ondervinding “leer”. Dit gee voorspellings van moontlikhede eerder as besliste antwoorde – ’n verskynsel wat “vae denke” genoem word.

’n Nuwe ontwikkeling staan as ’n stimulusreaksie-meganisme bekend. Dit beteken eintlik net dat die robot op bepaalde maniere op ’n prikkel (soos lig) reageer. Ontwerpers kan ’n verskeidenheid van sulke meganismes in een robot inbou en só ingewikkelde gedrag skep. Robotte het ook “sintuie”: Hulle kan inligting oor hul omgewing bekom deur meganismes wat sensors genoem word.

Wanneer dit by vervelige of gevaarlike werk kom, hou robotte baie meer voordele as mense in. Hulle word nie moeg nie, raak nie verveeld of ontevrede met hul werk nie, hoef nie te eet of te slaap nie, hoef nie betaal te word nie, steel nie en word ook nie siek nie. Om dié rede doen hulle meestal werk wat mense nie graag wil doen nie, soos om oor en oor dieselfde take te verrig. Dus kan ek sê robotte is nuttig vir die mens.

Terwyl ek nog so meegesleur raak deur die navorsing rakende robotte, dink ek: “Waarom die ontstaan van robotte, behalwe nou vir die reeks voordele wat dit alles bied? Hoekom sou mense robotte ontwerp het?”

Dit blyk dat die mens se ingesteldheid verkeerd is. Soveel jongmense loop vandag met ’n aggressiewe houding rond en voel die wêreld skuld hulle iets. My antwoord is: Gaan huis toe, sny die gras, was die vensters, leer om te kook, bou ’n vlot, kry ’n werk, besoek die siekes, leer jou skoolwerk, en as jy daarmee klaar is, lees ’n boek. Jou ouers skuld jou nie ontspanningsgeriewe nie en jou ouers skuld jou nie pret nie. Die wêreld skuld jou nie ’n bestaan nie – jy skuld die wêreld iets … Jy skuld die wêreld jou tyd, energie en talent sodat niemand in oorlog gewikkel, siek of eensaam sal wees nie. Met ander woorde, hou op kerm oor dinge, kom uit jou droomwêreld en ontwikkel ’n ruggraat, nie ’n wenslys nie. Begin optree soos ’n verantwoordelike mens. Jy is belangrik en word benodig.

Dit is te laat om rond te sit en te wag op iemand (of sal ek sê ’n robot) om eendag iets te doen. Eendag is nóú en die iemand is jy!

Niemand weet nog hoe slim robotte sal raak nie. Party mense is bang hulle raak dalk so slim dat hulle ons heeltemal sal vervang. Een ding is wel seker: Daar sal nog baie gebruike vir dié toestelle gevind word …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top