Biep-biep, biep-biep, weergalm die geluid van die kombuistrein deur Johan se koue metaalsitkamer tot in sy slaapkamer. Hy draai op sy rug. ’n Vuurwarm ontbyt word netjies voor hom ingeskuif. Sy koffie word deur die metaalarm geskink – een suiker, min melk, soos altyd – en met die druk van ’n groen knoppie biep-biep die trein weer terug kombuis toe.
Johan reik na sy projeksiebril op sy bedkassie en sit dit oor sy oë. Skielik is sy kop vol van vandag se nuus. Dié bril is die tegnologie van die Moderne Revolusie-party: ’n bril wat inligting op jou retina projekteer en papierwerk in direkte gedagtes omskep. Hy dink aan al die nuushooftrekke (wat slegs oor die opkomende 2054-verkiesing handel) en dan blitsig aan sy nuwe e-posse, ’n opsomming van wat die dag se werk vir hom inhou.
“Goeiemôre.” Anja groet haar man met ’n soen op die wang en beduie na die reuse-televisieskerm teen die muur. Die haastige stem van ’n vrou met blonde hare gesels en debatteer oor die huidige gevegte tussen die Moderne Revolusie-ondersteuners en die ondersteuners van die Gemeenskapsparty. Sy praat voort oor volgende week se hofsaak: “Die Gemeenskapsparty is sterk van mening dat die Moderne Revolusie onetiese metodes gebruik om stemme in hul guns te wen. Navorsing word tans ingestel en ’n finale besluit oor die oortreding van advertensiewette tydens verkiesings sal volgende week geneem word.”
Anja kyk in haar man se rigting. Johan is die regter in hierdie hofsaak: Die toekoms van hul land lê in sy hande.
Met ’n diep sug val Johan terug in sy stoel. Hy sit sy hand om die kontrole op sy armleuning en stuur homself tot teen die groot glasvenster van sy kantoor. Dis ’n winderige dag en bruin stofwolke dans in die strate rond. Mense is skaars – die swewende treine is leeg en die sypaadjies leweloos. Orals is tekens van opstande: Silwer woonstelblokke is nou kleurvol beplak met verkiesingsplakkate, ’n winkel wat die Gemeenskapsparty ondersteun, se vensters is met klippe uitgegooi.
Johan lag saggies. Die Moderne Revolusie onderskat die publiek se intelligensie; die mense sien onmiddellik deur hul propaganda om die Gemeenskapsparty as kompetisie te elimineer. Daar is geen twyfel aan die besluit wat hy in die hofsaak gaan maak nie. Sy selfoon lui en hy keer terug na sy lessenaar. “Johan wat praat; hoe kan ek help?”
Volgens roetine was dit presies halfelf toe Johan in die bed klim. Hy is ’n man van orde – ’n vaste plan en ’n sterk mening, soos Anja hom altyd opsom. Johan sit weer sy projeksiebril op totdat al die nuwe verkiesingsnuus sy gedagtes binnegedring het. Hy maak sy oë toe en verdwyn in ’n droom. Voor hom is ’n lewensgrootte Moderne Revolusie-plakkaat wat lui: “Stem vir ons – skep ’n eenheid in denke.”
Johan en Anja sit weer en kyk na die blondine op die televisieskerm. “Vervolgens sal die voorsitter van elke party ’n beurt kry om hul doel te bespreek.” Die leier van die Gemeenskapsparty verskyn – ’n ouer man met diep plooie. Anja glimlag. Sy weet hoe baie Johan hierdie man respekteer – hy het nog altyd na hom opgesien.
“… en so sal ons probleme omskep in idees en oplossings vir ’n beter, regverdige, mensgedrewe land.”
Johan frons.
Die Moderne Revolusie-leier stap tot agter die mikrofoon. Ten spyte van sy netjiese pak en blink skoene is daar iets onoortuigends in sy grysblou oë.
“… ’n land waar daar vrede is, omdat almal dieselfde dink en glo.” Hy glimlag skelm en toe verander die skerm weer terug na die blondine.
’n Glimlag vorm om Johan se mondhoeke. “Die man weet waarvan hy praat,” mompel hy soos hy opstaan. Anja kyk hom verbaas agterna.
’n Paar minute later verskyn Johan weer in die sitkamer, met sy projeksiebril op sy oë en ’n geweer in sy sak. Hy staar vir ’n ruk – sommer net na niks – en toe verdwyn hy weer by die voordeur uit.
“Wat het jy gedoen?” val Anja hom aan die oomblik toe hy tuis is ná die hofsaak. “Wat bedoel jy?” vra Johan onskuldig. Anja laat haar nie vir een oomblik terughou nie. “Wat ek bedoel,” begin sy, “is dat jy die Gemeenskapsparty se hoof geskiet het voor die hele land – dis moord! Hoe kon jy die Moderne Revolusie aanwys as die wenner van die hofsaak? Dit beteken dat die Gemeenskapsparty, wat ons al vir tien jaar ondersteun en ons land al vir tien jaar suksesvol lei, gediskwalifiseer word uit die verkiesing.”
Johan lag net. “Dink aan die toekoms van ons land, my lief. Het jy die man se toespraak gehoor? Moderne Revolusie stuur ons in die regte rigting.”
Anja laat sak haar kop in haar hande. “Harde klanke spreek geen woorde nie, Johan. Ons land is in die hande van ’n skelm. Jy is blind vir wat reg voor jou is … Die man se projeksiebril plaas gedagtes in jou kop!” Sy kyk weer op, maar toe is Johan weg.
Dis al laat in die nag. Die opwinding van die hofsaak-uitspraak het al bedaar en die stad het gaan slaap. Johan sit alleen by die kombuistafel. Sy vingers gly oor die bladsye van sy dagboek &ndash idees en menings wat hy lank gelede neergeskryf het. Die bedrog van die Moderne Revolusie, die geveg van die Gemeenskapsparty. Mense wat gewaarborg is om slawe te word in die hande van die Moderne Revolusie.
“Wat het ek gedoen?”
Sy hand beweeg oor sy gesig en raak saggies aan die projeksiebril op sy kop.

