’n Lewe sonder enige probleme. ’n Lewe waar enige struikelblok so maklik soos ’n rosyntjie tussen suiker gesien kan word. Is dit werklik ’n lewe? Siektes sal iets van die verlede wees. Ons wêreld sal bestaan uit perskes sonder pitte, visse sonder grate, mense wat nooit siek word nie en aarbeie wat ons tot môre aan die eet kan hou. Siektes kan in ’n oogwink deur ’n laserstraal verwyder word. Genetiese modifikasie en bestraling word deesdae aanbid as lewensredders, maar hoe goed is dit werklik vir ons?
Ek moet vandag weer dokter toe gaan vir my bestraling-afspraak. Hy het gesê dit sal die laaste keer wees voordat ek vertrek, maar hy het ook gesê ons gaan die kanker oorwin. Ons beplan hierdie reis reeds vir die afgelope jaar en ’n half en niks gaan my keer om oormôre die eerste Suid-Afrikaanse vrou te wees wat maan toe gaan nie. MB Reet van Australië en TS Pieterse van Bloemfontein, twee baie ervare wetenskaplikes, gaan my vergesel.
Ek staan vier voet voor die ingang van die ruimtetuig en kyk op. Die punt lyk asof dit tot bo in die hemel strek. So asof ons kan klim tot waar ons moet wees, as ons net ’n leer gehad het wat lank genoeg is. Ek en my twee vennote ontmoet mekaar binne die ruimtetuig, in die spasie waar ons vir die volgende week of meer saam sal moet lewe. Ons weet so baie van mekaar af omdat ons mekaar se inligting in die lêers moes bestudeer, maar ons gesprekke bly soos dié van twee ou tannies wat tydens ’n bingospel toevallig langs mekaar beland het en niks het om oor te praat nie. Dit is nie lank voor die laaste drie sekondes ons bereik en ’n wolk rook al is wat van ons agterlaat op die aarde nie.
Ek onthou daardie oomblik toe ons van ons beplande roete af gewentel het nog so goed … daardie oomblik toe ek gesien het hoe dinge verkeerd verloop, maar niks kon doen om dit te verander nie. Ek het nog nooit weer na daardie dag dit gewaag om iets as vanselfsprekend te aanvaar nie. Dit was amptelik. Ons is deur ’n meteoriet uit ons wentelbaan geskop en was besig om verder weg van die maan af te dryf, sonder rigting, enige beheer of swaartekrag.
Wat kan mens sê? Ek wou my vennote beter leer ken en dit is beslis wat ek gekry het. Niemand van ons het geweet hoe lank ons hier bo gaan vassit nie. Ons was wel seker dat ons kos besig was om op te raak. Ons het ook geweet dat ons moes aanhou oefen en aan die gang moes bly sodat ons bene en spiere nie verswak as gevolg van die afwesigheid van swaartekrag waaraan ons blootgestel was nie.
Die dae het vinnig weke geword en ons kontak met planeet Aarde is vertraag as gevolg van die botsing met die meteoriet. Ons het maar vir die beste gehoop – dat hulle sou kon uitmaak wat ons daagliks vir hulle probeer deurgee het. Ek, Mary Reet en Tinus Pieterse was verbaas hoe goed ’n mens ’n persoon kan leer ken as jy vir twee weke saam met hulle in ’n ruimtetuig vassit. ’n Week later het ek egter begin bekommerd raak oor hierdie twee. Mary se woorde het al hoe snaakser begin klink en haar Australiese aksent het nie die situasie verbeter nie. Tinus was meestal in die bed en wanneer hy wakker was, was hy besig om in sy onderbroek op die ingeboude fietse, wat ons spiere in oefening moes hou, te oefen. Ek het later besef ek was die enigste persoon oor in die ruimtetuig met ’n nugter geheue en helder denke. Hulle het hulle koppe verloor.
’n Paar dae na Tinus se laaste onderbroek-Argus het ek hom toegedraai gevind, soos ’n kokon, in sy komberse. Dit het gelyk asof hy homself probeer versmoor het. Mary het gelyk asof sy ook enige oomblik moed gaan verloor. Ek moet haar daagliks keer om nie uit hongerte die plastiekmelkbottels te eet nie. Dit was vir my net ’n seëning dat ek nie deur die omstandighede geaffekteer is nie. Mary se asem het met elke sug al hoe minder geword.
Skielik het ’n sterk aantrekkingskrag ons na sy kant toe gedwing. Dit was ’n krag wat ek gedink het ons vir altyd van geskei sal wees. ’n Ander ruimtetuig het ons in sy wentelbaan aangetrek en was besig om ons saam met hom terug aarde toe te sleep. Ek het Mary uit blydskap omhels, maar sy het nie teruggedruk nie …
“Omring deur vlieënde karkasse” was al wat my sielkundige vir twee weke na die ongeluk uit my mond kon kry. Ek het aan skok gely. Ek wou nie met enigiemand daaroor praat nie en het geweier om ooit weer op ’n fiets te klim of my voete van die grond af te verwyder, vir watter rede ook al.
Daar is later vasgestel dat dit my bestraling was wat my lewe gered het. My breinselle en immuunstelsel het weerstand opgebou teen siektes en radiasie wat Mary en Tinus se stelsels nie kon hanteer nie. 80% van astronome gaan dood as gevolg van kanker wat deur radiasie veroorsaak word. My kanker het my lewe gered. Kontrasterend? Dalk, maar definitief nie ’n geval waar bestraling nadelig was vir die mens nie.