Sy volg die blou ligte wat in die verte in die donkerte flikker. Haar treë is langer en vinniger as normaal in haar haas om by die misdaadtoneel uit te kom. Sy vryf stadig, maar hard oor haar oë en probeer ’n gaap agter haar hand wegsteek, terwyl sy haar selfoon met die ander hand teen haar oor hou.
“Dis al die derde moord hierdie week!” sê sy deur geknerste tande terwyl sy die selfoon nog stywer teen haar oor druk. “Ons sal dit nie langer kan stilhou nie. Die koerante sal hiervan uitvind.”
Sy beëindig die oproep en druk die selfoon diep in haar broeksak. ’n Paar treë voor die misdaadtoneel gaan staan sy stil en haal diep asem voor sy verder loop. Die blou ligte sny deur die donker en sy skaduwees en sy moet haar oë op skrefies trek om te sien wat voor haar aangaan.
Polisiemotors staan orals, met polisiemanne wat binne-in die motors sit of buite rondloop. Geel plastiek omring die omgewing waar die moord plaasgevind het. Sy stap nader en wys haar elektroniese polisie-identifikasiekaart vir ’n nuweling sodat sy verby die plastiek kan beweeg.
Sy stap stadig om die draai en snak na haar asem toe sy die verminkte liggaam in die stegie sien lê, agter die dromme. Vaagweg sien sy hoe die mediese robotte die liggaam ondersoek, maar haar oë verskerp dadelik toe die robotte die kombers oplig wat die liggaam bedek. Sy kan nie die trane keer wat in haar oë vorm nie.
Sy was so jonk. Sy dwing die trane terug en konsentreer op haar werk.
“Ek sien jy het al die liggaam gesien, McMara.” Sy draai vinnig om en sien haar vennoot nader stap. Van Staal is een van die beste speurders wat ’n mens kry, al het hy al ’n bietjie ouer geword. Hy het ’n bietjie gewig rondom sy middel opgetel en begin al bles raak. ’n Skielike hartseer beweeg oor Van Staal se gesig en hy fluister: “Niemand verdien dit nie.” McMara beweeg nader aan hom en vryf sy arm liggies. Sy weet hy dink aan sy eie kinders by die huis en hoe veilig hulle regtig is. Sy vryf Van Staal se arm nog een keer en loop terug na die jong meisie se lyk.
“Ons het haar geïdentifiseer as Annelie van Eden. Sy is twintig jaar oud, McMara.” Van Staal fluister amper die laaste deel. Sy kyk na hom met ’n onleesbare uitdrukking voor sy langs die lyk hurk. McMara roep een van die robotte nader en vra hom uit oor die soort wapen wat gebruik is.
Sy het langs die lyk bly sit tot die robotte wat die misdaadtoneel skoonmaak daar aankom. Sy het daar bly hurk tot hulle Annelie se lyk toemaak in die swart liggaamsak. Daarna het sy eers opgestaan en haar bene gestrek voor sy na haar vennoot geloop het. Een kyk na hulle gesigte en sy wil net skree oor die onreg in die wêreld.
“Is daar reeds ’n ander een?” vra sy, al weet sy wat die antwoord is.
“Ons het ’n anonieme oproep gekry wat gesê het dat hulle gesien het hoe iemand ’n liggaam in die rivier gooi.”
“Ons het klaar die onderwaterrobotte uitgestuur om die lyk te gaan soek,” voeg die nuweling langs Van Staal by.
“Laat weet my dan net as julle die lyk vind en ek sal daar wees.” Soos altyd, voeg sy saggies by.
“McMara, hier is ’n brief vir jou.” Sy kyk in die rigting van die stem en sien De Waal, ’n kollega van haar, aangestap kom. Sy bioniese arm, wat hy met sy gedagtes beheer, hou ’n brief uit na haar.
“Een van die robotte het dit by die misdaadtoneel gevind.”
Vrees skep ’n knop in haar keel, maar sy neem die brief met stewige hande. Die wit papier is gevlek met rooibruin kolle en sy kan net raai wat en wie s’n dit is. Sy maak die brief stadig oop en lees dit hardop: “Ek is nog nie naastenby klaar nie.”
“Sit die brief by die res van die getuienis.” Sy vou die brief stadig toe en gee dit weer terug vir De Waal.
Sy sug en groet almal voor sy na haar motor loop. Op pad soontoe sien sy ’n advertensie vir genetiese manipulasie by ongebore babas. Waar ’n mens jou baba se oogkleur, haarkleur, ensovoorts kan voorspel. McMara sug net, skud haar kop en loop verder.
Wat is besig om met ons wêreld te gebeur?

