WF 2012: Narkose

  • 0

14 Augustus 2038

Dinge het verander. Ek het dit eerste gesien in die glimlagte. Snaakse, blanko glimlagte op die mense se gesigte. Niemand probeer dit eers wegsteek nie. Êrens is iets groots fout. Dinge is nie meer dieselfde nie. Eintlik voel dit asof álmal dieselfde is. Partykeer kyk ek na die mense naaste aan my, en dit voel asof ek net een mens sien. Ek weet dit klink simpel, maar ek kan dit nie anders verduidelik nie. Ek het met my sussie daaroor gepraat. Sy voel dieselfde. My ma baklei nie eens meer nie – sy’t net heeltyd hierdie verlore uitdrukking op haar gesig. Ek’t nou die dag so ’n klein snytjie onder haar hare gesien. Dit was vreemd, want toe ek haar daaroor uitvra, het dit gelyk asof sy iets wou sê, maar toe daarteen besluit  – asof sy nie kon onthou nie.

16 Augustus 2038

Ek’s bang. Shelly is siek. Hulle het haar nou-nou kom haal. Sy het op en af gespring en uitgefreak toe ek naby haar kom. Hulle het gesê dis rabies, asof ek dit glo. Ma sê dit gaan ’n paar dae vat voor sy gesond is, maar ek glo haar nie. Ek glo hulle nie. Shelly het geweet wat aangaan. Sy wou iets daaraan doen – ek weet dit. Ons sou vanaand daaroor gepraat het. Sy het my laat belowe om normaal op te tree, want sy was bang hulle sou haar wegvat. Ek kry die gevoel dat iemand heeltyd na my kyk, maar ek doen wat Shelly gesê het: Ek tree normaal op. Ek’s bang, want Shelly kom nie weer terug nie.

Jy weet daai gevoel wat mens kry na narkose? Daai snaakse, baie deurmekaar gevoel? Ek ook nie, maar hulle sê die gevoel wat ek nou beleef, voel so. Die vergeetgeit ook – hulle sê dis ook deel van die narkosegevoel. Hulle sê ek het geval toe ek my dagboek probeer optel het uit die vloerbord onder my bed. Iets nag heeltyd aan my gewete. Iets belangriks.

Ek wens ek kan onthou. My dagboek is weg.”Te veel bloed gewees,” was wat my ma gesê het. Ons kom nou beter oor die weg – dit voel rêrig of ons nou meer saamstem oor goed. Ek mis vir Shelly. Sy’s dood. Die dokters hier het dit gister vir my gesê. Blykbaar was die rabies erger as wat almal gedink het. Ten minste het hulle goed na haar gekyk. Die regering doen net wat goed is vir ons mense.

“Lientjie.” My kop voel te dof om enigsins te antwoord. Ek wil aan die slaap raak, Shel, antwoord ek in my onderbewussyn. Shel? Ek maak my oë verskrik oop. Dis net Shelly wat my Lientjie noem. En Shelly is dood. Maar sy is nie. Haar swart hare is afgeëts teen die wit muur van die hospitaalkamer en haar groen oë lyk heeltemal té lewendig om dood te wees. “Wat doen jy hier?” vra ek, maar my keel is droog. Dit klink asof ek diergeluide maak. Ek maak keel skoon. Shelly huil en dit voel weird, want ek dink ek wil ook huil, maar ek kan nie. Dit vóél nie asof ek moet huil nie.

Eintlik voel ek niks nie. “Lientjie, ek’s so bly om jou te sien – jy sal nie glo wat als gebeur het nie ...” Shelly babbel. Ek kan dit sien; sy doen dit as sy stres. “Jy’s dood.” My stem klink dood. So dood soos Shelly veronderstel is om te wees. Ek hou Shelly se gesig dop. Eers lyk dit asof ek haar met my woorde geslaan het, dan lyk sy ongelooflik hartseer, en tóé raak sy kwaad. Haar groen oë blits. Die vlammetjies is amper sigbaar. Vinniger as wat dit vir my moontlik lyk, pluk sy my nader aan haar. Dit voel nie soos die Shelly wat my vasgehou het toe Pappa dronk huis toe gekom het nie. Haar koue hande soek wild onder my hare. Dan voel dit asof ’n weerligstraal my brein raakgeslaan het. Alles raak swart en Shelly skree asof die weerlig haar óók geslaan het. “Nee! Ek het so hard probeer; ek het alles gedoen ...” Ek wou nog die woorde “Hou op babbel” sê, toe die deur hard oopklap. Die man het erg gelyk en daar was sulke rooi goed op sy klere – bloed, onthou ek skielik. “Shelly, kom!” Ewe skielik is als deurmekaar. Wie is hy? Wat doen hy met haar? Nie een van hulle kan my vrae hoor nie. “Leja, ek’s lief vir jou. Lees hierdie. Ek kom terug vir jou!” En net so was sy weg.

Die boek wat Shelly gelos het, is my dagboek. Eers het dit vir my vreemd gelyk, en onpersoonlik, maar ek het dit begin lees, want Shelly lewe en ek begin als onthou.

Ek weet nou wat die regering gedoen het. Aan my, aan Shelly, aan almal. Daai snytjie onder Ma se hare, onder my eie goue blonde hare, is hoe hulle die mikro-chip ingeplant het. Hoe hulle ons almal “dieselfde” gemaak het. Shelly het rabies gefake sodat sy kon wegkom daarvan. Hulle wil ons almal beheer daarmee. Myne werk nie so goed nie – ek het die waarheid dan in my eie woorde gelees in my dagboek. Ek het geweet iéts was verkeerd. Hulle wou my laat vergeet, wou my soos een van die blindes maak – my eie vrye wil wegvat. Hulle wou my laat glo als wat hulle doen, is reg en goed. Dit is nie. Ek’s nie meer bang nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top