WF 2012: Nagmerrie

  • 0

Die gedreun het stadig maar seker oor die geraas van die slagveld hoorbaar begin word. Dit het eers ver weg geklink, maar binne oomblikke was dit reg bo die manskappe se koppe. Vanuit die rook van ’n ontploffing het die vreemde tuig gematerialiseer. Onder ander omstandighede sou die vervoerskip se kurwende lyne, helder pers kleur en algehele eienaardigheid Dirk geïnteresseer het, maar op daardie tydstip het dit slegs sy bloed laat stol. Sy manne was al dae lank besig om die ruimtewesens se aanhoudende aanvalle af te weer en die uitputting het op hulle gesigte en in hulle bewegings begin wys. Dit is al dae vandat hulle enige slaap ingekry het en hulle’t skaars genoeg kos om hulle aan die lewe te hou. Hulle sal nie meer lank kan uithou nie, veral nie met die vreemde tuig se nuwe versterkings en vuurkrag nie. Onmiddellik roep Dirk sy manskappe bymekaar om na die laaste verdedigingspunt toe terug te val: die hoofgebou van die Verenigde Nasies Ruimte-owerheid. Terwyl hy nog op sy uitkykpunt staan en bevele blaf oor sy helm se ingeboude kommunikasiestelsel, hoor hy skielik ’n knal onder hom en die hele gebou waarop hy staan, begin inmekaarstort. Toe word dit net swart.

Dit het begin as ’n doodnormale dag in Pretoria. Die 500 miljoen inwoners van die ultra-metropolitaan het opgestaan en reggemaak vir die dag, salig onbewus daarvan dat hulle lewens nooit weer dieselfde sou wees nie. Met ’n oorverdowende knal en ’n helder wit lig het ’n massiewe, vreemde ruimteskip bo die stad tot stilstand gekom. Dit het gevoel asof tyd vir die inwoners stilstaan toe hulle die skip vir die eerste keer gewaar. Vir wat soos ’n ewigheid voel het daar niks gebeur nie en toe begin die luike van die skip oopskuif en honderde kleiner landingstuie swerm daaruit. Die landingstuie het die ruimtewesens regoor die stad afgelaai. Hulle was omtrent drie meter lank, solied gebou en baie vinnig en rats. Hulle was van kop tot tone geklee in wapenuitrustings van verskillende kleure met vreemde merke en ligtedaarop. Van die wesens het lemme gehad wat van kragvelde gemaak is, sommige gewere wat lasers teen hoë tempo’s uitskiet en ander langwerpige masjiene met vlymskerp kristalle wat sekondes nadat dit uitgeskiet is, ontplof. Sonder huiwering het hulle begin om die stad te verwoes en die inwoners uit te wis.

Kaptein Dirk Deelman was al klaar in Pretoria gestasioneer saam met die 120 soldate onder sy bevel. Hulle is onmiddellik ontbied om die stad teen die invallers te verdedig ... Dit was twee weke gelede.

Toe Dirk Deelman weer bykom, bevind hy hom in die voorportaal van die Verenigde Nasies Ruimte-owerheid se hoofkwartiere. Een van die nuwelinge in sy groep is besig om hom agter die toonbank in te sleep terwyl die 11 oorblywendetroepe met hand en tand veg om die aankomende ruimtewesens af te weer. Om sy manne so braaf te sien veg, het sy hart met trots gevul, maar terselfdertyd het dit gevoel asof iemand hom met ’n mes in sy hart steek toe hy dink aan almal wat nie die slagting oorleef het nie. Hy bedank toe die nuweling, probeer om op wankelrige bene op te staan, trek sy pistol uit sy harnas uit en begin weer langs sy manne veg om die gebou te verdedig todat die lugmag hulle daar kan ontruim. Maar maak nie saak hoe hard hulle veg nie, hulle kan nie die aanvallende massa ruimtewesens afweer nie. Na ’n uur is daar net nege manne oor, onder wie Deelman, nadat een van die ruimtewesens tussen sy linies ingeglip en sy manne met gloeiende lemme bygekom het.

Dit het een hele magasyn van ’n aanvalsgeweer geneem om die bloeddorstige gedrog in sy spore te stop. Na nog twee uur het Deelman, die nuweling wat hom gered het en nog ’n soldaat wat hy op ’n tyd ’n lafaard genoem het, na die dak van die gebou toe teruggeval. Hy begin nou spyt voel dat hy die soldaat so vinnig geoordeel het. Hier, 126 verdiepings bo die strate wat vol verlate motors staan, kan Deelman reg rondom hom die stad sien. Groot dele van Pretoria is al klaar aan die brand en plek-plek sien hy ontploffings en nog van die pers landingskepe wat nog ruimtewesens aflaai om die laaste bietjie weerstand wat die mensdom bied, te oorrompel. Vir ’n oomblik tref dit hom as ironies dat daar omtrent soveel verdiepings in die gebou is as die troepe wat hy al verloor het. “Wonder of hierdie dalk my vloer is,” mompel hy vir homself. Op daardie oomblik bars die ruimtewesens uit die hysbak en begin die drie oorlewendes aanval. Al Deelman se gewere is al sonder ammunisie en dus pluk hy maar sy mesuit en begin op die wesens afstorm. Toe hy in Pretoria aangekom het, het hy ’n gesofistikeerde pantserpak gedra. Dit het sy hele lyf toegemaak en beskerming gebied teen skrapnel en gifstowwe en was propvol hulpmiddels en benodigdhede, soos kommunikasiestelsels, medikasie en selfs lugverkoeling. Nou is daar omtrent niks van die pak oor nie – hy het selfs sy helm weggegooi nadat ’n koeël die masker aan skerwe geskiet het.  Weerloos storm hy maar op die wesens af. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe ’n laserstraal die soldaat tref sodat hy agteroor van die dak aftuimel. Nog steeds hardloop Deelman aan, die wesens nou ook besig om nader aan hom te beweeg op die oop dak. Hy gee nie meer om wat gebeur nie – hy wil net hê hierdie nagmerrie moet eindig. Nader en nader storm hy aan die ruimtewesens, nader en nader aan sy einde. Dan hoor hy skielik weer ’n gedreun, anders hierdie keer, maar steeds oorverdowend. Hy hoor nog die nuweling wat iets roep, maar luister nie. Steeds nael hy nader … Skielik hoor hy die geskreeu van ’n hoëspoedmasjiengeweer en tot sy verbasing val al die ruimtewesens voor hom neer. Die gedreun wat hy gehoor het, was toe al die tyd ’n militêre straler van die SA Lugmag. Binne oomblikke het die straler se enjins opwaarts gedraai en die vliegtuig land grasieus op die dak langs die twee soldate. Deelman het dit skaars tot in die vliegtuig gemaak toe sy bene ingee en die nuweling hom tot by sy sitplek dra toe die straler teen die spoed van klank na Kaapstad vlieg. “Dankie tog, dit is verby,” sug die soldaat. “Nee,” antwoord Deelman met ’n sagte stem. “Die oorlog het skaars begin.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top