WF 2012: ’n Verandering

  • 0

1

Dit was ’n baie warm Novembernag; almal was in hulle beddens. Aan die slaap. My nagrok was papnat van sweet; my brein was vol gedagtes oor die volgende dag. Ek was net 21, ek het drome gehad, passie vir my land, en die heel graagste wou ek die wêreld verander. My naam is Phetogo – dit beteken verandering. Hierdie is my storie oor hoe ek die betekenis van my naam gestand gedoen het.

“Phetogo, jou kos raak koud. Kom eet gou!” roep Ma. Iris Buchner was haar naam; sy het my op ’n drom in ’n park gevind. Moenie vra hoe ek my naam gekry het nie, maar ek weet dit was vir ’n goeie rede. “Ek kom, Ma!” antwoord ek.

Dit was Saterdag, maar nie net enige Saterdag nie. Dit was dié Saterdag! Ek was baie opgewonde, maar ook bang. Vandag was die dag dat mnr Jones ons klas na die woestynprovinsie toe neem: Oos-Kaap. Ouma Liz sê dertig jaar gelede was die Oos-Kaap vol lewe en groen lande en hoë berge, maar al die chemikalieë van die hidro-breking het die grond dor gemaak en toe begin die groen bergland ’n woestyn word. Soms dink ek hoe die land kon wees as die Oos-Kaap nog die land van berge was.

My gedagtes het opgehou toe ek my ma se motor in die pad sien wag. Ek het ’n stukkie brood met ’n perske en my notas gehad en het na die motor gedraf. Al die motors in die wêreld het na waterstof gegaan – brandstof was onwettig in Suid-Afrika, en veral in Johannesburg. Die koolstof was so erg dat 25% van Johannesburg se SBD toegemaak moet word.

Ma het voor die skoolbus stilgehou. “Gou-gou, Phetogo, die bus moet nou gaan,” sê sy. Ek klim uit die motor en ruik die vars suurstof van die vroeë Bloemfonteinse oggend. Almal klim in die bus, besig om met hulle vriende te gesels. Na twee uur was almal vas aan die slaap en daar was net stilte in die bus. Na ses uur was ons in die Oos-Kaap, die dooie bergland. Die aarde was ’n rooi kleur en dit het na ink geruik. Mnr Jones het vir almal spesiale klere en skoene gegee om ons te beskerm.

“Reg, mense! Almal, hou aan ’n vriend vas en moenie julle eie koers kies nie,” sê mnr Jones. Ek hou vas aan my vriendin Pula en ons stap almal saam. Mnr Jones het ons van die geskiedenis van die land vertel. Dit was ’n baie ongelukkige situasie – die regering kon niks vir die land doen nie. Die grootste deel van die Wildekus was net ’n droë stukkie land langs vuil soutwater.

“Reg. Almal, vat ’n bietjie grond. Hierdie woestyn is julle projek vir hierdie kwartaal. Jy moet ’n manier kry hoe ons hierdie woestyn weer vrugbaar kan maak vir volgende jaar se rehabilitasieprojek,” sê mnr Jones. “Almal sal in ’n spesifieke plek van die woestyn bly. Hierdie projek is hoe jy vir my sal bewys dat jy verdien om in die Geologie-Chemie-klas van 2042 te wees,” sê hy. Almal was verbaas! Die projek was so groot – ek het gedink dit was onmoontlik! Mnr Jones gaan in die bus om ons voorraad te kry, Pula neem die GPS en toe begin ons met die projek.

2

Ons stukkie land was langs die see. Dit was ’n vuil land vol dooie voëls en baie gate en rotse. Dit was so erg en tragies. Pula en ek begin monsters van besoedelde rotse, voëls en grond vat. Die grootste problem was al die chemikalieë in die aarde. Die eerste paar dae was warm en droog; dit was baie moeilik om te werk. Ons navorsing en inligting het ons vertel dat dit twintig jaar sal neem om die land te herstel.

Ons was ’n bietjie ongemaklik met die situasie. Pula se idee hoe ons die probleem kan oplos, was om ’n ontledingsreaksie te doen. Ek het daaraan gedink, maar dit het gevaarlik geklink. My idee was om nano-bakterieë uit te broei om die chemikalieë op ’n natuurlike manier te breek.

Die bakterieë was baie moeilik om te kweek, want dit het baie tipe metale, organiese elemente en ons moet die regte temperatuur en omgewing hê. Ons het ’n spesiale broeikas gemaak daarvoor om die temperatuur te reguleer. Die bakterieë sal twee dae neem om uit te broei. Na twee dae het ek en Pula die afmetings van die gate geneem. Die plan was om die bakterieë te vervoer met ’n pyp waarvan die temperatuur gereguleer word.

Na drie jaar was die Oos-Kaap-woestyn gesond, maar ons kon nie groente kweek nie. Die woestyn het sy eie tipe plante gehad. Die hibridiese plante kon elke dag 5 kg koolstof vat. Suid-Afrika was die nuwe antwoord vir die omgewing se probleme en ek en Pula was die heldinne van die wêreld!

Ek was baie trots op myself, maar nou is ek 80 jaar oud, amper dood. Ek dink aan die ou Woestynland en hoe ons regering se foute ons toekoms kan vorm.

My naam is Phetogo – dit beteken verandering – en hierdie verhaal vertel hoe ek die betekenis van my naam gestand gedoen het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top