WF 2012: ’n Sekonde in tyd

  • 0

In ’n wêreld waar drome bloot ’n uitweg is, sou ek my nie kon indink watter realiteit daarin kan skuil as ek dit nie self ervaar het nie.

My wekker verklap dat dit eenuur is toe ek wakker skrik.  Ek weet nie wat dit is nie, maar iets pla my.  Ek dink dit het te doen met wat ek pas gedroom het, maar ek kan die droom nie herroep nie.  Wat dit ook al was, dit was net ’n droom, so wat maak dit saak?

Tog kan ek nie die slegte gevoel afskud toe ek later die oggend opstaan vir skool nie. Peinsend stap ek kombuis toe vir ontbyt.

“Lyk asof die kat se melk gesteel is vanoggend, hè, sus?” grinnik my broer in die verbygaan.

Ugh, ek haat dit as hy sulke grappies maak oor “die kat”.  Net omdat my naam verdomp Katryn is.  Ek’s sommer lus en gee hom ’n oorveeg.

Aangesien my nagrus kortgeknip is, besluit ek die middag om gou ’n uiltjie te knip.

Ek het jou hulp nodig ...

Ek ruk orent.  Het ek dit gedroom?  Hoekom voel dit dan so werklik?

Die res van die dag loop ek rond met ’n wolk bo-oor my kop.  Ek weet iets is verkeerd, maar my geheue verklap niks.  Waaroor het ek tog gedroom?

“Wie’s Taria?” vra my broer aan tafel.  Ek kyk met ’n frons op van my onaangeraakte aandete en vra: “Waarvan praat jy nou al weer, Ean?”

“Lui ‘Taria, Taria’ enige klokkie?” vra hy met ’n vermakerige stem. “Is sy jou nuwe kat?” knipoog hy vir my.

“Is jy laf?  Nommer een, ek stel nie in meisies belang nie, idioot, en nommer twee, ek ken nie ’n Taria nie!”

“Wel, dit het nie so geklink toe jy haar naam in jou slaap geroep het nie.  Seker jou droommeisie,” antwoord Ean spottend.

Skielik onthou ek wat ek gedroom het.  Ek het geloop in ’n gang.  Daar was deure orals, maar die een aan die einde het my soos ’n magneet getrek.  By die deur gekom, het ek net ’n oomblik gewag voor ek dit oopgemaak en ingegaan het.

Agter die deur was ... ’n ander wêreld.  Die lug was soos kristal; geen geboue in sig nie.  Die honderde massiewe bome het groot huise gevorm.  Elkeen uniek.  Maar voor ek my verder kon verwonder, het ’n meisie nadergestap.  “Ek het vir jou gewag,”  het sy in ’n kristalhelder stem gesê.  “Ek is Taria.  En ek het jou hulp nodig.”

Sy verduidelik toe aan my:  “Daar bestaan in elke mens se brein ’n alternatiewe wêreld. Ons wêreld bestaan net solank jy leef.  En as jy naby aan jou einde is, dan begin ons wêreld nader aan ’n swart kolk beweeg.  Totdat dit ons insuig.  Die probleem is, ons is op pad na ’n swart kolk ...”

“Katryn? Droom jy al weer van jou meisie?” ruk Ean my wakker uit my herlewing.

“Uhm, ek gaan kamer toe ...” sê ek en loop vinnig weg. 

Naby aan my einde?  Hoe’s dit moontlik? Ek voel dan nie eers siek nie.

Duisende gedagtes hardloop deur my kop voor ek in ’n waas verlore raak.  Ek word wakker in die gang.  Voor ek na die deur loop, haal ek eers ’n paar keer diep asem.  Ek wil amper nie verder nie, maar ek moet weet hoekom Taria sê ek is naby aan my einde.  Dalk het ek haar verkeerd verstaan.

Die deur gaan oop net voordat ek dit wil oopmaak.

“Ek het geweet jy’s op pad.  Ek kon dit aanvoel.  Sien, ek is jy in dié wêreld,”  sê Taria en lei my na ’n boom.  Ons klim op en gaan die huis binne.  Die binnekant is net so verstommend soos die buitekant.  Alles dryf in die lug.  Meubels, ligte ... kos?

Weereens verbreek Taria my gedagtegang.

“Jy moet asseblief nie weer so groot skrik nie.  Mens se drome eindig altyd op ’n hoogtepunt en ons móét iets uitwerk voor jy wakker word.”

“Hoekom sê jy ek is naby aan my einde?”  vra ek bekommerd.

“Ek het vir jou verduidelik van die swart kolk.  Maar daar is ’n manier om dit te verander ... Jy het so ’n jaar terug ’n berig gelees oor elektrone wat vinniger as die spoed van lig beweeg.  Dit het gesê dat hul in tyd teruggestuur kan word.  Ons het die teorie getoets en gevind dat dit werk.  Nie lank daarna nie kry ons toe ’n boodskap van ons futuristiese selwe.  Hulle is in tyd, op die punt van ’n swart kolk, gevries.  Maar hulle het verduidelik dat daar ’n uitweg is.”

“H ... hoe?”

“Jy gaan in ’n ongeluk wees.  ’n Kar gaan jou raakry ...  Wag, moenie skrik nie!  As jy betyds is vir skool môre ... Een sekonde kan ’n verskil maak.  Maar mense vergeet baie hulle drome.  Dis belangrik dat jy on ...”

Ek skrik vir die tweede aand in ’n ry wakker.  Vir lank lê ek en wonder oor die vreemde, drukkende gevoel wat ek het.  Uiteindelik raak ek weer aan die slaap.

Vrek, ek is laat!  Met die lang wakker gelêery, het ek my wekker geïgnoreer.  Ek trek so vinnig aan as wat ek kan en gryp net ’n appel vir ontbyt.  Ek hardloop verby my ma, raas met haar omdat sy my nie kom wakker maak het nie, maar groet haar dan tog met ’n soen.  Dan hardloop ek by die deur uit en straat af.  So ’n honderd tree voor my is ’n robot.  Dit wys groen, maar daar is geen karre op pad nie, so ek besluit om sommer oor te hardloop.

Toe ek naby kom, huiwer ek vir ’n oomblik.  ’n Rooi lig gaan by my aan. Net toe ek oor die straat wil hardloop, flits ’n beeld van Taria op.  Ek steier terug toe ek onthou.

Net betyds.

’n Kar zoem verby. Ek gaan sit op die grond, want my bene kan my nie meer regop hou nie.

Dis verby – ek gaan nie meer doodgaan nie ...  Ek het onthou!

Terwyl ek my kragte versamel, verhelder my gedagtes.

En toe skrik ek wakker.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top