WF 2012: ’n Duisend Saddam Hoeseins?

  • 0

Die aankondiging was opspraakwekkend, maar nie heeltemal onverwags nie. Dit lyk of wetenskaplikes op die punt staan om moderne tegnologie te gebruik om ’n uitgestorwe diersoort te laat herlewe.

Kloning. Die onnatuurlike vermenigvuldiging van identiese organismes deur middel van proefbuis-tegnologie. Dit is lankal nie meer ’n nuwe konsep in die wetenskaplike wêreld nie en die Suid-Afrikaanse Wet op Menslike Weefsel verbied natuurlik die kloning van mense.

Pleks van dinosourusse van miljoene jare gelede te kloon, wil geleerdes dit probeer doen met diere wat in die afgelope eeue of selfs net ’n aantal dekades gelede uitgesterf het.

Daar is naamlik ’n tyd gelede in Australië bekend gemaak dat "werkende" DNS onttrek is van ’n Tasmaanse tierwelpie wat in ’n bottel alkohol gepreserveer is nadat dit in 1866 uitgesterf het.

Die Tasmaanse tier, Thylacinus cyanocephaplus, was geen tier nie. Hy het veel eerder soos ’n hond of ’n wolf gelyk. Party mense noem hom selfs die Tasmaanse wolf. In der waarheid was hy nóg ’n groot kat, nóg ’n wolf, maar ’n vleisvretende buideldier.

Die “terugkloning” van hierdie dier, wat deur die Australiese Museum in Sydney beoog word, kan plaasvind volgens dieselfde patroon wat enkele jare gelede gebruik is om die skaap Dolly te genereer.

Kloning vind plaas deur die gebruik van selle van ‘n spesifieke spesie. Ons weet dat geen hoëre dier (of mens) ’n enkelvoudige wese is nie, maar ’n versameling van miljoene der miljoene piepklein selletjies. In die kern van elke sel is ’n stof wat soos ’n opgedraaide touleer of ’n spiraaltrap lyk, die molekule DNS, oftewel deoksiribonukleïensuur.

En in die "sporte" van hierdie “touleer'' is al die oorgeërfde eienskappe van die dier saamgevoeg – elk in die vorm van ’n bepaalde kombinasie van ’n sekere hoeveelheid van die "sporte".

Die spesifieke eienskappe stel die sel in staat om te verdeel. Hy kan presiese weergawes van homself maak – met die nodige aanpassings sodat byvoorbeeld hare, oë, ledemate en die brein gevorm word. Uit een enkele sel kan dus ’n heeltemal nuwe wese ontstaan.

’n Piesang met ’n teenmiddel teen hepatitis B in sy samestelling. Tabakplante wat die erffaktore van ’n jellievis bevat. ’n Insek wat rondvlieg met menslike gene in sy selle. Word Frankenstein-monsters vandag wyd en syd deur die wêreld se wetenskaplikes geskep of is hulle besig om met hul kennis ons lewenstryd op die aarde te vergemaklik?

Om genetiese manipulasie by plante en diere beter te begryp, kan ’n mens vir jou twee soorte tamaties voorstel. Die een soort loop meer onder wurms deur en raak ook gouer gekneus en vrot. Die ander soort bly langer ferm en bied meer weerstand teen plae.

Groot wêreldmoondhede sal nog beheerde dierlike en plantaardige klonings toelaat, maar daar word nog te veel getwyfel oor of hulle menslike kloning moet toelaat. Soos ’n kommentator op CNN dit gestel het: “Sien die wêreld werklik kans vir ‘n duisend Saddam Hoeseins?”

Nie alleen is daar die oneindig baie etiese vraagstukke wat sulke praktyke kan meebring nie, maar dit lyk boonop of wetenskaplikes nog nie eens naastenby die volle tegniek van mens- en soogdierklonings bemeester het nie. Dítondanks die min of meer geslaagde kloning van die beroemde skaap Dolly ’n klompie jare gelede.

Tog is daar ander terreine van genetiese ingryping waar wetenskaplikes vandag op veel meer suksesse kan roem. Biochemici is byvoorbeeld lankal kliphard besig om baie van ons landbougewasse geneties te verander en só doeltreffender te maak. Die uitdaging is om die resultate van hierdie genetiese ingryping só te kanaliseer dat dit voordelig en veilig vir almal is. Die mees fantastiese omwentelings word dan ook beplan – of het reeds ‘n werklikheid geword.

Hier by ons gebruik ons reeds Canola-olie, wat deur genetiese ingryping moontlik gemaak is. Die Canola-plant se olie kon eers glad nie gebruik word nie – dit was te giftig – maar nadat die binnestrukture verander is, het ons ’n nietoksiese olie wat poli-onversadig is en deur die Hartstigting aanbeveel word.

Boere plant ook reeds lankal byvoorbeeld gemanipuleerde mielies en soja aan, en kweek nuwe tamaties met ’n langer rakleeftyd. Ook die veelsydige katoenplant, waarvan die saad onder meer vir die maak van kook- en slaaiolie gebruik word, is geneties verander om ’n toksiese proteïen te produseer wat vernietigende bolwurmruspes doodmaak.

’n Soort manipulering is wanneer ’n mikro-organisme, soos die bt-toksien (Bacillus thuringiensis), na die saad van ’n plant oorgedra word. As ’n stamboorder die plant vreet – soos by mielies en suikerriet gebeur – vrek die boorder.

Genetiese manipulasie kan deur middel van verskillende tegnieke uitgevoer word. By plante is die algemeenste metode die gebruik van ’n sekere bakterie, Agrobacterium tumefaciens,as die draer van ’n geen wat die wetenskaplikes aan ’n spesifieke plant wil oordra. Die veranderde sel verander uiteindelik deur selverdeling vegetatief in ’n volwaardig veranderde plant.

Ná die vordering van kloning en genetiese manipulasie oor die afgelope jare is daar net positiwiteit rondom die uitbreiding daarvan, te danke aan die tegnologie wat daagliks meer vorder. Dit sal, om die minste te sê, die begin wees van ’n enorme omwenteling in die biologiese wetenskap.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top