WF 2012: ’n Biologiese affêre

  • 0

Ons sien net vertrapte liggame, gebrande waens. Ons hardloop na die dik staalgepantserdedeur wat soos ’n waaiende hek voor ons oopwaai. ’n Groot sirene lui met oorvloed en ’n geprogrammeerde vrouestem kondig aan: “Vyftien sekondes tot impak.” Nes Pa sy hand om my sit, besluit ek om vir oulaas te onthou van die plek waar daar voorheen soveel hoop en liefde was, maar die knobberige rots verwoes die aarde met sy “final act of cruelty”. Hy sny die osoonlaag in stukkies sodat jy die ontploffing van ’n ballon van alle uithoeke van die aarde kan hoor. Satelliete wys die gebeure van die impak waar die osean omgedolwe word en daarna is dit niks anders as ’n droë bed nie. Amper alle diere is uitgewis met die ontsettende warm hitte en min waterbronne wat nog staande is.

Ek word wakker in wat ek as ’n nagmerrie beskou het, maar tot my skok kom ek agter dat dit so pas my werklikheid geword het. Ek spoel my gesig af met koue water. Ek kyk op na die spieël voor my. Ek staar na ’n jongerige man met ’n verwarde uitdrukking op sy gesig en krullende rooi hare wat terugkyk na my. Toe ruk ’n klop aan die deur my terug na die werklikheid.

Ek is amper te bang. Maar gelukkig was dit net Pa en Ma wat my omhels met geskokte gesigte. Albei is geklee in doktersuitrustings van blou. Pa is deel van die Uitvoerende Mediese Raad van die Weermag (UMR). Ma is die mediese dokter wat eksperimente uitvoer wat eers deur Pa en die ander lede goedgekeur moet word. Voor hulle verdwyn, vertel my pa my van die gebeure daar buite. Iets klink net nie reg nie – Ma se vel het soortvan ’n blouerige skynsel – maar Pa verseker my als is onder beheer.

In die ondergrondse skuiling voel ek alleen. Daar is geen kontak met die buitewêreld nie. Ewe skielik kom dieselfde vrouestem oor die luidsprekers. Almal moet so gou as moontlik na die UMR se beheerkamer gaan.

Verward haas ek my soontoe. Almal van ons word ingelig dat hulle bloedmonsters moet vat. Nêrens sien ek vir Ma nie.Sy sou tog die monsters geneem het – dis tog haar werk. Ek vra rond, maar niemand kan my ’n regte antwoord gee nie. Almal is so vaag. Uiteindelik kry ek Pa in die hande. Hy is verward en vra my om te sit. Tydens sy vertelling van die gebeure verloor ek hier en daar konsentrasie – al wat ek hoor en inneem, is dat Ma in isolasie is en dat hulle toetse doen op haar.

Ek dring aan om haar te sien. Pa berei my voor op wat ek sou sien. Ek kom by die isolasiekamer, maar mag haar slegs deur dik glas sien. Daar kry ek die skok van my lewe. Sy lyk opgeblaas, asof sy van die laaste keer wat ek haar gesien het,  aanhoudend net gemorskos geëet het. Haar hele liggaam is bedek met blouerige kneusplekke en ’n witterige poeier het om haar eens pragtige gesig  begin groei. Die eens lang blonde hare hang soos verfkwasstrepe oor haar kop, wat vaal, oud en verteer lyk. Dit het my asem werklik weggeslaan. Ek kon voel hoe trane begin opbou, maar het dit vinnig afgevee. My gesig raak vlamrooi van woede en ek sukkel om kalm te bly.

’n Kollega van my ma kom ingestap, ’n ouerige oompie, kort genoeg om hom in die oë te kan kyk, met ’n grys volbaard. Hy vertel ons dat Ma besig was met biologiese navorsing oor die aarde se kors en die gas wat vrygestel is. Hy verduidelik in hoë biologiese terme wat geen mens kan verstaan nie. Ek kon slegs daaruit aflei dat die gas wat ontsnap het, een of ander komponent het wat mense met ’n swak immuunstelsel aanval. Nou maak dit sin: Ma het aan bloedarmoede of ’n ystertekort gelei. Die enigste manier om haar te red, is deur ’n bloedoortapping te kry van iemand met hoë ystervlakke, en verkieslik ’n direkte bloedverwant. Ek willig dadelik in en voor Pa kan keer, doen hulle die ystertoets. Pa is ewe skielik vreemd, asof hy nie wil hê ek moet haar help nie. Wat is fout met hom? Dis Ma!

Tot my skok deel dié kollega my in dat ek nie ’n bloedverwant is nie. Wie is ek? Uit woede en voor Pa kan verduidelik, storm ek uit. Ek sluit my toe in Ma se lab. Ek ruk die kaste oop. Hier is privaat dokumente. Daar is dit: wit op swart. Ma is van Russiese afkoms en Pa is ’n Duitser. Wie is ek? My lewe is ’n leuen. Hierdie vrou gaan sterf omdat ek nie haar kind is nie. Is ek ’n biologiese eksperiment? Mense, wie is ek?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top