Van kleins af was my droom, soos enige sewejarige dogtertjie s’n, om eendag ’n prinses te word, met wye rokke, glasskoene, golwende hare, baie grimering en dalk ’n ridder of twee op ’n wit perd.
Ek het baie van droom verander soos wat ek ouer geword het. Vandag is dit ’n sjef, môre ’n dokter, volgende week ’n veearts en ’n maand later ’n skilder. Tot ek op ’n dag ’n fliek gekyk het van ’n man wat in ’n mens se liggaam rondbeweeg. Ek het daar en dan ’n nuwe droom gekry. Om eendag op ’n missie te gaan, en nie waar nie – in die menslike liggaam! Dit was die droom wat ek die langste gehou het.
Een aand, na ’n lang dag by die skool, lê ek in my bed met my deur toe en my ligte af. Ek wou nie gepla word nie, want ek was nie in ’n goeie bui nie. Ewe skielik verskyn’n baie helder lig vanuit nêrens. Dit was die helderste lig wat ek nóg gesien het. Voor my staan ’n ou omie met ’n dik bril. Sy hare was netjies agtertoe gekam. Ek het gedink ek hallusineer, want ek was heeldag in die son. Iewers het ek gehoor dat te veel son jou snaakse dinge kan laat sien en doen. Die ou omie het hom aan my voorgestel. Sy naam was professor Labrobski. Hy het verskriklike groot woorde gepraat. Al wat ek kon aflei, was dat hy van die toekoms af terugbeweeg het in tyd om my te kom haal om saam met hom op ’n missie te gaan. Ek het nie eens twee keer daaroor gewonder nie. Ek het dadelik my tasse gepak en daar verdwyn ons toe in die wit lig.
Ek het saam met professor Labrobski in sy karretjie geklim. Sjoe, was dit nou nie vir jou ’n snaakse motortjie nie! Hy het klein wieletjies met vlerke gehad. Ja, ’n kar met vlerke. Die professor het seker my gesigsuitdrukking gesien, want hy begin toe verduidelik. Die karretjieis sy tydmasjien waarmee hy terugbeweeg in tyd, en waarmee ons nou die toekoms ingaan. Dit was die trippie van my lewe! Ons het deur ’n tonnel gejaag. Al die toekomstige goeters het by ons verbygevlieg. Toe stop ons skielik: doodstil. Ons was in ’n baie wit kamer met baie masjiene en ander mense wat ook wit jasse aanhet.
In die professor se laboratorium het ons dadelik aan die werk gespring. Hulle het vir my ’n pak gegee wat ek moes aantrek. Ek wou nie lelik wees nie, toe vat ek maar die klere en trek dit aan, maar in my kop het ek gedink ek lyk soos Daisy die melkkoei! Hulle het vinnig vir my al die reëls verduidelik en vir my gesê wat ek moet doen as daar ’n noodgeval is. Hulle het my ook ’n rukkie gegee om die kapsule waarin ek gaan vaar, uit te toets. Na ’n uur het professor Labrobski teruggekom en gevra of ek reg is vir my eerste missie. Soos enigiemand maar sal wees, was ek bietjie onseker en bang, maar dit het my nie gekeer om vinnig ja te sê nie. Ek moes eers ’n hele klomp drankies drink voor ek kon begin. Daar was ’n pienk drankie, ’n blou drankie, ’n groen drankie, ’n geel drankie en ’n oranje drankie. Daarna het ek in my kapsule geklim, en ewe skielik was ek piepklein. Hulle het my vertel van ’n meisie wat baie ernstig siek was. Sy het stamselle gekort en hulle het toe ’n plan gemaak. Sy gaan gekloon word en dan gaan haar “tweede helfte” se stamselle vir haar gegee word. Ek het dadelik ingestem en wou onmiddellik begin. Iets baie vreemds het toe gebeur. Hulle het my in ’n ham-en-kaastoebroodjie gesit! Die meisie mag nie geweet het wat ons beplan nie, so die enigste uitweg was dat sy my moes insluk.
Dinge het nie regtig uitgewerk soos ons gedink het dit sou nie. Die meisie se Great Dane, Tiny, het op die toebroodjie afgekom en dit opgeëet. Vir weke was ek in sy maag. Dit was baie interessant om te sien hoe ’n hond van binne lyk, maar die hele tyd wat ek in Tiny se maag was, kon ek net aan een ding dink: die arme siek meisie. Ek het op ’n manier by die hond se neus uitgekom. Ek het per ongeluk ’n knoppie gedruk waarop daar staan “For emergencies only”. My kapsule het arms gekry. Ek het vinnig uitgevind hoe die arms werk en toe die hond aan die binnekant van sy neus gekielie. Hy het genies en genies en toe is ek uit. Wat ’n slymerige storie was dit nie. Ons het teruggegaan laboratorium toe en aan ’n ander plan gedink. Hulle sou my in haar mond gooi as sy slaap en raai wat? Dit het gewerk!
Ek was pens en pootjies binne-in die meisie en het van haar DNA gekry. Hoe ek uitgekom het, gaan ek liewer nie sê nie. Hulle het haar gekloon en haar “tweede helfte” se stamselle gevat en vir haar gegee. Sy is nou weer gesond.
Professor Labrobski het my weer teruggevat in tyd, tot in my kamer. Dit was presies soos dit was. Niks het verander nie. Toe ek onder my kussing voel, kry ek ’n briefie van hom waarop daar staan: “Ons sal definitief weer van jou gebruik maak.” Daardie aand het ek tog te lekker geslaap!
Kommentaar
Ongelooflik.
Dit is wonderlike opstelle.