WF 2012: Mediese windeier

  • 0

Die wiele van Ockert se kewer sukkel stadig oor die teerpad. Die ruitveër vee die reëndruppels van die voorruit af. Dit lyk asof die omgewing saam met Ockert treur: Bome hang skeef in die wind; gronddeeltjies waai woes om die motor. Die teleurstelling is net té groot. Hy het sy hele lewe lank studeer, sy sosiale lewe prysgegee, sport laag op sy prioriteitslysie geplaas sodat hy gekeur kon word.  Sy gemiddeld is nie goed genoeg nie. Sy vuur, sy passie, is nie aanvaarbaar genoeg om ’n loopbaan in die mediese veld vas te knoop nie.

Ockert bring die motor tot stilstand, slaan hard met sy vuis op die stuurwiel. Hy sal nóóit studeer nie! Hy sal alles in sy vermoë doen om die mediese veld met wortel en tak uit te roei, om dié wat gesê het hy is nie goed genoeg nie, te verneder, om dié wat wel aanvaar is, te vernietig. Hy skakel die enjin aan en die wiele begin stadig weer draai.

Die werklig brand flou oor Ockert se besige hande. Frederick lê uitgestrek op die rusbank en kou aan sy sny pizza. “Jinne, Ockert, wanneer is jy nou klaar met daai ding? Jy werk hopeloos te hard!  Kom ontspan nou ’n rukkie.” Ockert se hande beweeg gretig oor die toestel wat hy besig is om te bou. Hy grinnik. Frederick is ’n vyfdejaar- mediese student aan die Universiteit Stellenbosch – goeie punte, groot passie. “Is jy reg vir jou operasie môre? Hoe voel die senuwees?” vra Frederick. “Om ’n selfoon in jouself in te plant, is nie kinderspeletjies nie – daardie chirurg sal sy storie moet ken!”

Ockert droom nou al lank oor dié inplanting. Alle oproepe sal nou deur sy gedagtes werk. Geen irriterende selfoondeuntjies nie; die dae van selfoon soek, is verby. Geen sleutelbord is nodig nie – slegs jou gedagtes. Nou sal hy die toetssentrum kan skakel sonder dat enige nuuskierige agie sy planne hoor – veral nie Frederick nie. Net dié wat hy wil hê moet hoor wat hy dink, sal hoor deur middel van ’n oproep. ’n Briljante uitvindsel. ’n Glimlag trek-trek om Ockert se lippe. Amper so briljant soos die een waaraan hy tans werk …

Die biep-biep van die hartmonitor, die klingelgeluid van teaterinstrumente wat oor mekaar gly en die sagte asemhaling van die teaterpersoneel is al wat hoorbaar is in die teater. “Alles lyk reg sover, Frederick,” sê die dokter. “Jy sal alles kan hoor – al sy gedagtes, al sy oproepe, al sy planne. Sy geheime uitvindsel sal nou ontrafel word. Hy sal dit nie regkry om die wêreld van gesondheidswetenskappe tot ’n einde te bring nie. Hy mág nie! Dit sal beteken dat ons ons werk kwyt raak, dat medisyne geen doel meer sal dien nie. Ons maak staat op jou, Frederick. Stop die uitvindsel voordat dit te laat is.” Die wiele van die hospitaalbed raas toe Ockert na die hospitaalsaal gestoot word.

Ockert kyk ingenome na die uitvindsel in sy hand. Sy nuutskepping, sy meesterstuk, is eindelik voltooi. Hy het met behulp van sy nuwe telefoon vir die toetssentrum van sy uitvindsel vertel. Dit is ’n struktuur so groot soos ’n koppiespeld. Die uitvindsel word in ’n persoon se arm ingespuit. Wanneer dit in ’n mens se bloedstroom beland, verander dit ’n mens se witbloedselle aktief.  Die toestel stel witbloedselle in staat om hulself te verander of aan te pas volgens siektes of virusse wat mens se liggaam binnekom. Geen medikasie, geen dokter sal ooit weer nodig wees nie. Die liggaam sal totale immuniteit verkry deur die aktiewe werking van die toestel. Môre sal hy uitvind of die toestel werk – of dit die deurbraak van die millennium sal wees.

Frederick is dankbaar toe hy die oop sitkamervenster by Ockert se huis sien. Die oproep wat Ockert aan die toetssentrum gemaak het, het hom laat besluit: Dis nou of nooit. Hy móét iets doen om die uitvindsel te keer! Hy klim by die venster in en loop saggies na die werkkamer toe waar die toestel lê. Frederick se hande beweeg vinnig en bewerig oor die toestel. Hy beter vinnig werk, dink hy. Ockert kan enige oomblik wakker word, hom betrap. Hy weet Ockert is ’n ligte slaper. Hy moet die uitvindsel manipuleer, sorg dat dit nie behoorlik funksioneer nie. Ockert was reg – as dié toestel werk, sal dit die einde van gesondheidswetenskappe wees. Vlugtig kyk hy na die toestel voordat hy by die venster uitglip waar hy ingekom het en die pad af draf huis toe.

Ockert kyk met skerp oë na die dokter se versigtige vingers op die inspuiting toe hy die toestel in die proefkonyn se arm inspuit. “Die man sal nou gemonitor word om te kyk of dié toestel van jou werk, Ockert,” sê die dokter. “As dit werk … dit sal die grootste uitvindsel nóg in die gesondheidsveld wees …”

Dis nou al drie weke na die proeflopie van Ockert se nuwe toestel. Ockert lees rustig koerant toe hy ’n oproep ontvang wat sy bloed laat stol, sy liggaam koud maak.

“Die pasiënt is oorlede, Ockert,” sê die dokter. “Die toestel het nie die witbloedselle laat aanpas nie, maar eerder die rooibloedselle vernietig. Dit het veroorsaak dat die pasiënt nie genoeg bloed in sy liggaam gehad het nie. Die gebrek aan hemoglobien het veroorsaak dat gaswisseling nie suksesvol kon plaasvind nie. Dit was die laaste strooi. Ek is jammer, Ockert.”

Die ruitveërs vee die reëndruppels van die voorruit af. Dit lyk of die omgewing saam met Ockert treur: Bome hang skeef in die wind; gronddeeltjies waai woes om die motor … en bloed drup-drup uit ’n wond in Ockert se kop op die kewer se passasiersitplek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top