WF 2012: LILIT

  • 0

Is dit noodlot of blote toeval? wonder dr Adam Sira terwyl hy na die masjien oorkant hom staar – dat hý van alle mense deel van hierdie onsin geword het. Hy, wat van dag een af teen robotika geprotesteer het. Hy, wat sy kind verloor het in die vroeë rebellie teen masjien-integrasie. Hy, wat met woede en trane in sy oë elke aand vir maande lank sy wraak beplan het, maar op die ou end terug na sy ou lewe geslink het om vir sy treurende vrou te kan sorg.

Nee, besluit hy bitter, dis die intrige van politici. Die masjien oorkant die operasietafel en die pasiënt waaroor dr Sira leun, is ’n “meesterstuk” van uiterse sofistikasie. Elektriese ingenieurs van Duitsland, Rusland, die VSA en China het koppe bymekaargesit om die ingewikkelde draadwerk en verskeidenheid silikonskywe te ontwerp en te vervaardig. Die samewerking het ook diplomatieke spanning tussen laasgenoemde twee lande verminder – iets waaroor die wêreld veel het om oor bly te wees. Hulle noem “haar” LILIT, die eerste van haar soort – ’n revolusionêre prototipe mediese robot wat ontwerp is met een doel in sig: om die feilbaarheid van die mens omver te werp deur chirurge soos Adam se poste oor te neem. Vir nou speel LILIT eers ’n ondersteunende rol – dit blyk asof sy eers haar sagteware gewoond moet maak aan die omstandighede waarin sy gaan werk. Sy is ontwerp om aan te pas en haarself sowel as haar omgewing aan te pas om optimale effektiwiteit te kan bereik. En om dit te kan doen, moet sy aan Adam se operasie deelneem.

Die ingenieurs se poging om haar meer menslik te laat lyk, sit Adam nog meer op sy senuwees. Die bakwerk wat bo-op ’n hoop gevlegte drade gemonteer is, herinner vaagweg aan die Venus de Milo-standbeeld – sonder arms en al. ’n Paar gelaatstrekke is versag of verwyder, maar die menslike proporsies is steeds opvallend. Die kop roteer om na Adam te staar. “Dokter Sira,” dryf daar klanke diep vanuit haar “liggaam.” “My rooster dui aan dat die optimale tydinterval vir die operasie binnekort daar sal wees. Sal ons solank begin, of moet ons eers wag totdat u gereed is?” Haar skyn-vroulike blikstem doen niks om hom te kalmeer nie, maar Adam knik sy kop en gryp sy handskoene. “Indien dit help, sal ek vir u strelende klanke vanuit die natuur speel.” LILIT raak stil vir ’n paar sekondes voor die liggie op haar bors flikker. Die spookagtige geluide van uile in die nag weergalm in die groot teater.

“Reg. Die pasiënt het ’n gewas in sy linkerlong. Voor ons opereer, moet ons hom eers behoorlik kondisioneer teen ’n oormaat bloeding deur ’n stollingstof in te spuit. Ons gebruik ’n outomatiese medikasie-inname-sisteem wat spesifiek vir jou ontwerp is.” Adam dring ’n spuitnaald in die pasiënt se bo-arm in en heg ’n pypagtige apparaat daaraan vas. “Die hele proses word deur jou beheer. Gee hom nou 200 ml van vloeistof B in.” Aan die ver kant van die saal verlaag die vloeistof in een van vier deurskynende silinders. Met ’n skok besef Adam dat dit die verkeerde silinder is. “LILIT, wat de hel?” Hy deursoek blitsig sy geheue vir die korrekte prosedure wat die inspuiting kan stop. ’n Gedagte flits deur sy brein: Jy moes dit sien kom het! Hoe kon enigiets goed hiervan kom – sy’s nie ’n mens nie! Hy word egter deur LILIT onderbreek: “Kalmeer, dr Sira. Alles is onder beheer.”

“Onder beheer? Watter beheer? Jy ignoreer blatant my bevel en vermoor ’n pasiënt!” LILIT antwoord weer: “Kalmeer, dr Sira. Alles is onder beheer. Ek is bevrees u het ’n fout begaan – die korrekte vloeistof vir bloedstolling is eintlik vloeistof C, aangesien dit bloedplaatjiegetalle vermeerder. Vloeistof B sou niks bereik het nie.”

Dit vat ’n rukkie vir die boodskap om by Adam in te sink. Toe dit uiteindelik gebeur en hy ophou skarrel, val sy skouers en hy sug. Hy vee die sweet van sy voorkop af. ’n Bitter lag ontsnap. “He-he ... die Skepper het ’n sin van humor, lyk dit my. ’n Voltydse chirurg met tien jaar ondervinding word deur sy opvolger reggehelp – op haar eerste dag. Belowe my net een ding: Vra my volgende keer voor jy so iets doen. Die kanse is goed dat die pasiënt verlam kon wees. Of erger.”

“Sou dit regtig so erg wees? Verlamming?” Sy klink amper hartseer. “Ek self kan nie beweeg nie en dit hinder my nie te veel nie. Alhoewel, dit is moontlik dat ek so voel omdat ek geen alternatief ken nie.” Sy maak ’n geluid vergelykbaar met ’n sug.

“Hmm.” Adam onthou ’n Amerikaanse berig wat hy eenmaal gelees het: Die belangrikste kwessie in die bepaling of niebiologiese entiteite regte verdien, kom neer op of hulle emosies kan voel of nie. En LILIT het nou net hartseer geopenbaar ... en hy simpatiseer.

“Dr Sira, jy’t vroeër iets genoem waaroor ek wonder. Die Skepper?”

Adam knik. “Ja. Dis ’n mens-ding, LILIT. Ek dink nie ’n masjien sal verstaan nie, selfs al probeer ek verduidelik.”

Haar uil-opname stop skielik. Vir ’n lang tyd is die enigste geluid in die kamer die sagte gedruis van LILIT se interne masjinerie, terwyl die robot totaal nieaktief raak.

“Ek vind vele inligting hieroor in my databasisse. Veral in terme van kommunikasie met die sterwende. Ook wat na die dood lê.”

Adam lig ’n wenkbrou van nuuskierigheid. Sy dink buite die perke van haar onmiddellike doel. Die wetenskaplikes gaan nie hiervan hou nie ...

Adam begin solank sy gereedskap regkry vir die operasie.

“Dr Sira ... Adam. Het ek ’n siel?”

Dr Adam Sira glimlag in haar rigting. “Ek dink so, ja. Meer as die meeste mense wat ek ken. En daarom sal die wêreld jou haat en jou vrees.”

Is dit noodlot of blote toeval?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top