WF 2012: Koue voete

  • 0

Judy is ’n baie bekende sangeres van die groep Siedaar. Sy en haar medekunstenaars het ’n konsert in Stellenbosch gehad en is op pad terug huis toe. Net na twaalf loop sy by haar woonstel in en klik die deur agter haar toe. Die hele woonstel ruik na maanskyn en rose. Op die sitkamertafel staan daar ’n onoopgemaakte bottel Chardonnay en twee glase. Êrens in die huis hoor sy ’n gevroetel en sy loop stadig nader. Sy spring toe sy die stem van Elton John hoor wat “Can you feel the love tonight sing.

Adam se stem weergalm deur die huis in ’n duidelik hoorbare gil. Adam! dink sy. Wat het gebeur?

“Adam!” gil sy. “Waar is jy?”

Blitsig hardloop sy by die trap op en sien hom voor hul slaapkamervenster staan met verstarde oë.

“Adam, is jy oraait? Wat het gebeur?”

“Uhm ... dis seker niks,” is al wat hy uitkry.

Konstabel De Witt word vieruur die aand wakker gebel oor ’n moord wat vroegoggend gepleeg is. Hy trek vinnig ’n denim en ’n netjiese hemp aan en drafstap kar toe.

Judy is histeries toe die konstabel uiteindelik by die huis opdaag. Haar man lê uitgestrek op die kombuisblad. Sy oë is wawyd oop en hy is botstil. Yskoud. Langs hom, op die rand van die tafel, lê die moordwapen: ’n swart slagmes. Elke nou en dan drup-drup-drup daar bloed, wat in ’n rooi see verander.

’n Forensiese analis kom later die oggend om die lyk te kom haal. Twee speurders kom ’n paar minute later by die huis ingestap om leidrade vir verdere ondersoek te kom haal. By die laboratorium stoom hulle die moordwapen om vingerafrukke te kry, maar daar word niks gevind nie. Die bloed word ook getoets en hulle kry die resultate – die bloed behoort net aan Adam Grace.

Judy weet nie meer wat sy moet doen nie. Sy lê stil in haar bed toe sy die drup-drup van ’n kraan hoor. Sy stap badkamer toe en die lig flikker aan. Sy draai die kraan oop, spoel haar gesig af en draai dit dadelik weer toe. Steeds hoor sy ’n gedrup.

“Goeie genugtig,” sê sy hardop. “Wat gaan aan met my?”

Sy kyk op en haar refleksie staar terug na haar, maar dis nie haar refleksie wat haar oog vang nie. Daar is ’n beweging by die venster.

Dis net die wind, dink sy. Sy loop venster toe en voel hoe ’n rilling by haar rug af spoel, maar sy maak die venster toe en klim weer terug in die bed.

Skielik klap ’n deur in die huis toe en dan nog een. Sy hoor weer ’n gedrup en toe ’n gevroetel in die kombuis. Dinge is nie pluis nie. Sy staan op, gryp haar kamerjas wat aan die haak teen die deur hang, trek dit aan en stap versigtig met die trap af. Sy sien hoe ’n pan voor haar oë sweef en dan weer verdwyn. Iets gryp aan haar enkel. Sy val en met ’n harde hou kap sy haar kop teen die rand van ’n trap.

Stadig kom sy orent, maar haar kop klop en sy voel ’n straaltjie bloed by haar wenkbrou afloop. Sy struikel vorentoe soos sy op haar knieë kruip, maar iets trek weer aan haar enkel.

“Help!” gil sy, maar die woorde wil nie uit nie. Sy gil weer, harder. Steeds wil niks uit nie.

“Los my!” probeer sy weer.

Sy skop om uit die greep te kom, maar dit raak aansienlik sterker. Haar hande vang die reling van die trap vas en sy klou met al haar mag daaraan vas. Sy greep verslap en Judy kry die kans om los te kom. Sy hardloop by die trap op na haar kamer toe en sluit die deur agter haar toe. Sy loop badkamer toe en iets vang haar oog. Haar spieëlkassie is half gebreek en die spieël gekraak.

Sy swaai net betyds om om die man voor die kamervenster te sien staan. Hy staan nie – hy sweef en hy het ’n stuk glas in sy hand. Sy gesigsuitdrukking is emosieloos en hy sien die vrees in Judy se oë.

“Ek smeek jou, asseblief, moenie.” Judy se oë begin traan. Sy kan nie die trane keer nie.

“Adam het my gestuur. Hy’t gesê ek moet jou kom haal.”

Sy kan nie glo wat sy hoor nie.

“Hy het wat? Hy sal nie. Hy is dan lief vir my.” Judy voel hoe sy swaar raak toe haar knieë onder haar ingee.

“Adam is nie wie jy dink hy is nie, Poplap. Hy het vir Emile baie kwaad gemaak. Dis hoekom hy nie meer hier is nie. Hy was een van ons, maar wou toe ophou. En as jy eers begin het, kan jy nie ophou nie. Dis die reëls. Jy mag nie. Nou moet ek vir jou kom haal, want Emile het gesê hy gaan van my ontslae raak as jy nie daar is nie.”

“Wat is jy? En hoekom wil jy vir my hê?”

“Emile het my gestuur,” is al wat hy antwoord.

In ’n splitsekonde is hy by haar. Sy voel sy koue hande om haar nek en hoe sy greep versterk. Haar gedagtes raak vaag en sy is kort van asem. Sy word oor die vloer gesleep en voel hoe hy haar op die bed neersit. Weer voel sy die koue hande om haar nek en alles raak wit. Dan voel sy koue teen haar lippe dans en sy raak weg.

Weer kry konstabel De Witt ’n oproep oor ’n moord net buite Stellenbosch. Tot sy verbasing is dit dieselfde huis waar Adam Grace vermoor is. Judy word op haar bed aangetref. Dit lyk asof sy slaap, maar sy het geen pols nie en is doodsbleek. Yskoud. Op die Persiese mat langs haar bedkassie lê ’n stuk glas – deel van die spieëlkassie.

Konstabel de Witt voel ’n rilling teen sy rug af spoel toe hy iets agter die gordyn sien inbeweeg.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top