WF 2012: Inspirasie uit die buitenste ruim

  • 0

Die meeste mense ervaar vandag die groot monumente van antieke beskawings as goeie poskaartfoto’s, en diegene wat dalk iets tussen die ore het, as presies dít waarvan hulle geleer het op skool. In plaas daarvan om dit nét te bewonder, hoekom vra ons ons nie die volgende af nie: “Waarom het die mense van die ou beskawings sulke reusagtige monumente gebou?” en “Was vroeë beskawings werklik in staat om die piramides van Giza of die tempels van Machu Picchu te bou?” Mense aanvaar sekere feite net te maklik sonder om eers daaroor na te dink. Dit was om hierdie einste rede dat ek ondersoek móés instel. Na verskeie besoeke aan vele eksotiese bestemmings het ek begin om interessante inligting te versamel wat my teorieë kon staaf. Dit was gedurende hierdie tyd dat ek my eerste hindernis teëgekom het: Om een of ander rede is my toegang tot sekere monumente beperk en is ek gereeld deur sekuriteitsbeamptes dopgehou. Dit was hoogs eienaardig, om die minste te sê. Maar dit het my nie ondergekry nie; ek was nou nog méér oortuig dat ek iets beetgehad het.

Die kamer waarin ek my bevind het, was stowwerig, met ’n kenmerkende tabakreuk wat die lug gevul het. Buite het die geluide van voertuie soos die see gedruis. Die sekuriteitsbeampte het onder sy sweterige wenkbroue vir my gestaan en gluur. Skielik het ek die deur met ’n slag hoor oopswaai. Dwahhh! Die persoon wat die ruimte tussen die deurkosyn en die vloer gevul het, was nie iemand wat ek op dié oomblik graag wou sien nie.

Die omstandighede waarin ek my daardie spesifieke dag bevind het, is te danke aan ’n jare lange obsessie met antieke ryke en hulle moontlike konnotasie met ruimtewesens. Ek het ywerig gestudeer om my gekwalifiseerd te kry in ’n argeologiese rigting, sodat ek so vinnig as moontlik sélf navorsing kon begin doen. Met my graad en ’n kop vol teorieë was ek op die eerste beskikbare vlug na Egipte.

Dit was ’n soel Egiptiese somer, met temperature wat die kwik laat dans het. Dit het my net weer eens laat besef: Alhoewel ek klaar gestudeer het, het ek steeds die denkprosesse van ’n onervare persoon gehad. Siende dat ek nog streng gesproke ’n student was, moes ek die beste maak van ’n studentesalaris. Met dié karige salaris kon ek ’n kamer in een van die vele gastehuise in Kaïro huur. Die vertrek was eenvoudig en netjies. Die spierwit mure en klein venstertjies naby die plafon het dit koel gemaak en ’n verfrissende wind deurgelaat. Die volgende dag sou ek die piramides besoek en bewyse kry om my idees te staaf.

Slegs die bo-punte van die piramides was sigbaar, indrukwekkend omvou deur die digte oggendmis. Ek het eers na die Tempel van die Son gegaan, reg langs die grasieuse sfinks wat met lewelose oë die ewigheid instaar. Skielik het ek besef hoe aardig die situasie eintlik was – die honderde mense wat etlike jare daaraan gewerk het, was vir altyd weg. Die farao in wie se naam dit opgerig is, het dalk soos een van die gode op aarde gewoon, maar met sy sterfte was hy ook maar net ’n mens.

Die konstruksie van die tempel het bepaal dat daar geen dak sou wees nie om sodoende die magtige son in te laat. Die binnekant van die tempel het soos ’n woud van granietpilare gelyk. Geen hiërogliewe of kerwings was aanwesig nie, slegs die gladde glinstering van die steen. Ek kon vaagweg uit my hoërskooldae onthou dat graniet een van die hardste gesteentes denkbaar is, dus het dit my verstand te bowe gegaan hoe ’n beskawing met koper- en bronsgereedskap die pilare met sulke akkuraatheid kon uitbeitel. Ek het blitsig ’n paar notas in my dagboek gemaak en aanbeweeg na die Piramide van Farao Khufu, wat uit die ou koninkryk van antieke Egipte dateer.

Die wag by die ingang was vriendeliker as wat ek verwag het. Ek het by hom verbybeweeg en my pad deur die stikdonkerte gevoel. Genadiglik was sommige dele van die piramide belig en kort voor lank het ek my in die “gallery” bevind. Weer eens was daar geen hiërogliewe nie, maar die vertrek self het my asem weggeslaan. Ek was genoodsaak om toestemming te vra om ander dele van die piramide te besoek. Dit was in die koningin se grafkelder waar ek iets besonders ontdek het: ’n klein reeks hiërogliewe wat vertaal kon word met “Argitekte van die son”. Enige ander argeoloog sou dit as ’n godsdienstige vers beskou, maar dit het my aan die dink gesit. Die dag was lank en uitputtend. Ek het notas neergeskribbel en toe die hasepad gekies.

Die suide van Egipte was totaal anders as die noorde – die lieflike parfuum van die waterlelies gekombineer met die unieke reuk van die woestynsand was verfrissend. My volgende besienswaardigheid was die ruïnes van Akhenaten, voormalige tuiste van Farao Akhenaten, van die nuwe koninkryk. Hy word somtyds die rebelse of eksentrieke farao genoem omdat hy weggebreek het van die tradisionele gode om een god te aanbid. Daar was ook ’n radikale verandering in die kuns. Ek is onder die indruk dat hy sélf ’n wese van ’n ander planeet was. Hoe anders kan die reusagtige transformasies verduidelik word?

Tydens my staptog onder die dadelpalms naby Akhenaten se grafkelder is ek aangekeer deur twee sekuriteitswagte. Dit was normale prosedure by so ’n gebied. Dit was egter hul reaksie toe hul uitvind wat ek nagevors het, wat my geskok het. Ek is onmiddellik gevra om al my notas aan hulle te oorhandig en die terrein te verlaat. Iets diep binne-in my het geweier en my beveel om te hardloop. Dit was werklik ’n geskenk van Bo dat hulle swaar geklee was, anders sou ek nooit weggekom het nie.

Die volgende dag, terwyl ek besig was om aan my ontbytkos te peusel, was daar ’n harde klop aan die deur. Ek het eers gehuiwer, maar later besluit om oop te maak.Daar staan die einste wagte van die vorige dag toe en hulle lyk glad nie gelukkig nie. Van my kamer af is ek na ’n klein modderbaksteengeboutjie toe begelei. Binne die enkelvertrekgebou het daar ’n verdere twee wagte gestaan en pyp rook. Ek is vinnig ingelig wat die probleem was, en is daar aangehou totdat “hy” gearriveer het. Blykbaar was ek op die punt om my teorieë korrek te bewys en iemand wou nie hê die geheim moes uitlek nie ...

Skielik val daar ’n skadu oor die vloer, en daar staan “hy” toe in lewende lywe …

Dr Zahi Hawass, bekend vir sy kort humeur, was die persoon van wie die wagte gepraat het. Hy het dadelik ’n stoel nadergetrek en hom gemaklik gemaak. Na ’n intense gesprek en debatteersessie word die waarheid toe ontbloot. Natuurlik het ek snuf in die neus gekry van wat aan die gang was; tog het die nuus my steeds uit die veld geslaan. Volgens Hawass het die Egiptiese regering die hele storie geheim gehou om eers doodseker te maak van hul feite. Blykbaar is ’n span argeoloë reeds aan die werk by ’n area waar ’n ongeïdentifiseerde metaalskyf, met alfa-numeriese kodes,ontdek is. Sy voorstel aan my: Sluit aan by die span argeoloë en vergeet van dié besigheid. Hoe kon ek nee sê?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top