WF 2012: In die skadu's

  • 0

Ons het ’n verlede geskep waarmee ons nie kan identifiseer nie. Ons het ’n toekoms geskep wat ons nie kan begryp nie, maar net vrees. Die wêreld bestaan uit twee tipes mense: dié wat besmet is en die kosbare klein bietjie wat nié is nie. Dit staan bekend as die Skeiding. Tweehonderd jaar lank soek ons al na die Oplossing, maar ons kan dit nie kry nie.

Ek is ’n weeskind, een van baie. Ek kan nie veel onthou nie. My vroegste herinneringe is van vrees en vlug. Van donker hospitaalkamers en dokters met verslae uitdrukkings op hul gesigte. Van woorde wat in die stilte van die nag gefluister word. Woorde wat my siel skeur, al het ek nie geweet wat dit beteken nie. Woorde wat sê: “Nog een van hulle ...”

Ek het nog altyd uitgestaan. Nie dat ek ooit wou nie, want om uit te staan, is om ’n teiken van jouself te maak. Ek kon lank voor die ander kinders in my klas lees en skryf en die basiese werk wat ons op skool gedoen het, het my verveel. Selfs nadat ek twee grade vooruit geskuif is, was ek slimmer as die meeste kinders in my klas. Op die oog af is dit briljant, maar waar ek vandaan kom, het dit ’n bloedrooi bull’s-eye op my voorkop geverf. Ek het nooit regtig vriende gemaak nie; mense het ná ’n paar weke in my geselskap maar weer verdwyn in die mis van alledaagse lewe. Mense maak nooit met gemak vriende met ’n uitskieter nie. Die jare in die skool het verby gesleep, stadig en doelloos.

Ek het baie rondgeswerf. ’n Rukkie in die weermag, ’n toetslopie as ’n bokser, selfs gewerk as ’n laboratorium-assistent. Ek het nooit regtig iets gekry wat my verbeelding aangegryp het nie.

Die Oplossing is die een ding wat ons nog ontwyk. Die mens is nou in sy goue era, as ’n mens die holo-blaaie glo. Probleme is iets van die verlede. Ek dink egter ons is iets van die verlede. Die mens weet nie meer hoe om ’n sinvolle lewe te lei nie. Ons het verlore geraak êrens langs die pad en nou is dit te laat om onsself weer te vind. Al waarvoor ons nog bestaan, is ons eie genot en die soeke na die Oplossing.

Eendag het ’n verskriklike vermoede by my begin posvat. ’n Onverskillige woord het ’n saadjie in my kop geplant. Iets het my bly pla. Ek het die dag oor en oor in my kop teruggespeel. Daar was iets in my gedagtes wat teen die netjies geordende grein van ons wêreld ingaan. Ek het instinktief geweet dat, al was ek altyd anders, altyd rebels, hierdie dit tot ’n hele nuwe vlak neem.

“... betaal sodra die virus by my is.”

Al die elemente het saamgekom om hierdie een oomblik te skep. Geeneen van die ander bodes sou opgelet het nie, maar ek het, omdat luister deel geword het van my oorlewingsmeganismes op die front. My opleiding as ’n laboratorium-assisstent het gesorg dat ek my ore spits wanneer iemand oor virusse begin praat. Selfs die Departementshoof se ewig netjiese kantoor se vaalgrys deur het op ’n skrefie oopgehang nadat ’n kas in die gang omgeval het en die deur amper gebreek het.

Ek het vrae begin vra. Te veel en op die verkeerde plekke, besef ek nou. My gekonkel het vir my gelyk soos iets uit ’n storieboek – ek was die brawe held wat soek na iets, na iemand wat my verskiklike vermoedens kon verduidelik. Ek het te laat tot verhaal gekom.

Een aand het ek laat by die huis gekom. Amper moedeloos het ek my normale roetine verbreek, iets wat ek amper nooit doen nie. Ek het in ’n ou kroegie in een van die besmette woonbuurte gaan sit en dink. ’n Paar uur later stop die glimmende magneto-trem buite my woonstel. Toe ek uitklim, was alles nog reg met my wêreld. Ek stap doodluiters na my voordeur, maar vier treë voor die drumpel pak ’n onwrikbare sekerheid my skielik beet. Voor my siel het ek geweet dat nog ’n tree my dood sou beteken. Ek draai om en hardloop soos ek nog nooit tevore gehardloop het nie. Toe breek alle hel los ...

Ek kon verder niks onthou nie. Ek het wakker geword in ’n koue, wit kamer. ’n Man met sy gesig in die skaduwees het eenkant gesit. Hy het my vir ongeveer ’n halfuur betrag. Al kon ek nie sy gesig sien nie, was sy blik koud en berekenend, soos dié van ’n kat wat sy prooi aangluur voor hy toeslaan. Toe begin die vrae. Ek onthou nie veel nie – my kop het te veel gedraai en gemaal. Die enigste ding wat ek met duidelikheid onthou, was die woorde: “Ek is die leier van die rebellie. Noem my kolonel.” Behalwe vir hierdie een glashelder oomblik, is die res in skadu gehul. Toe sy vrae uiteindelik opdroog, kyk hy my diep in die oë en sê hierdie woorde in ’n stem wat swaar hang van jare se hartseer en pyn: “Seun, laat ek nou vir jou die waarheid vertel ...”

Hulle is soos ek. Mense wat weet, wat vermoed. Skimme in die donker, skepe in die nag. Daar is geen bewyse nie, net vae vermoedens en fluisteringe in die swart skadu’s. Vir die eerste keer het ek ’n doel, ’n rigting waarop ek my intellek kan fokus. Vir die eerste keer kon ek uitstaan sonder vrees. Hulle is soos ek en ek is soos hulle. Ons werk in die skadu’s van ’n wêreld wat bestaan uit ligte en tegnologie. Niks is werklik nie en alles word toegelaat. Die skeiding tussen die uitverkore minderheid en die besmette baie is deel van ons wêreld. Ons weet dat iemand êrens die Oplossing gevind het. Iemand, êrens, het dit versteek. Ons is indringers, nagmerries op die rand van die werklikheid. Tussen die verbrokkelde ruïnes van wat die mens was, weg van die liggies en Die Skeiding, daar swerf ons, op soek na antwoorde. Op soek na die vergete, toegesmeerde Oplossing.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top