WF 2012: Identiteit in ons toekoms

  • 0

Min weet hoe belangrik dit is om spesiaal te wees. ’n Vingerafdruk is uniek. Dit is joune. Die meeste mense is afhanklik van dié wete. Die feit dat, afgesien van omstandighede, daar nooit iemand soos jy sal wees nie.

4016 nC.

In die Geskiedenisklas is dit doodstil. Die bye gons buite soos ’n ma wat haar kind aan die slaap probeer sus. Snikheet op ’n Engelse somerdag. Die oorgrote meerderheid van die klas is maar vaak en meer geïnteresseerd in hul horlosies of lê en staar doelloos die verte in. ’n Donkerkopseun sit egter kiertsregop en is aandagtig besig om notas te maak. Sy hand skiet kort-kort in die lug in om ’n duidelik onbevoegde onderwyseres lastig te val. ’n Taakpapier word neergegooi op elkeen se tafel en daar gaan ’n gemeenskaplike kreun deur die klas.

Robert sit met sy hande in sy donker hare. ’n Gewoonte wat ander van kleins af amuseer. Die taak wat pas aan hom gegee is, lui: “Hoekom is Geskiedenis belangrik in ons hedendaagse lewe?” Hy byt ingedagte aan sy potlood en skryf een woord in hoofletters neer: HERHALING.

“Ons kan die toekoms voorspel deur ons verlede, want die toekoms ís per slot van rekening ons verlede.”

Hy glimlag tevrede en begin soos blits verskillende bekendes in sy rekenaar se verskeie soekenjins intik. Name soos Edrich Fauve en Gabbey Watson van die jare 3960’s word dadelik van die hand gewys. Hy kan nie so oppervlakkig wees met sy navorsing nie, dink hy, en spring met nuwe entoesiasme weg.

Die sleutelbord het ’n tattoeëermerk op sy gesig gegraveer. Om by die rekenaar aan die slaap te raak, is definitief ’n gewoonte wat hy moet afleer. Alhoewel hy redelik vinnig gevorder het deur die Tempustydperk (3000 nC tot 4000 nC), het hy nie veel vermag nie. Daar is nie veel om te vergelyk met hedendaagse gebeure nie. Wêreldoorlog IV en V kan vergelyk word, maar dit is ’n algemene gesprekspunt, nie ’n pryswenner-opstel nie. Hy vryf die slaap uit sy vaak oë en staan maar moeilik op, op soek na enigiets wat sal kan dien as ontbyt.

Toe die blindings oopgeruk word, stroom die skerp Junieson die deurmekaar kamer binne en verblind hom tydelik. Na ’n koue stort en ’n groot sluk koffie kan hy amper weer normaal funksioneer. ’n Nuusberig van 2012 is, snaaks genoeg, nog steeds op sy skerm gelaai. Hy begin aandagtig lees oor ’n voormalige diktator van Libië wat vermoor is. Daar is ’n lewensgrootte beeld van die oorlede diktator met miljoene van sy mense wat in die arm strate feesvier. Hy klik op die video-opname daarvan, waar die nuus aan die massas aankondig word. ’n Klein seuntjie geniet dit gate uit en glimlag breed vir die kamera. Hy bestee egter nie veel meer tyd daaraan nie en blaai na die volgende kommerwekkende storie.

Die voordeur klap toe en die geluid weergalm deur die warm huis. Robert gooi sy tas blindelings neer en stap doelgerig na die yskas. Na ’n lang dag van vervelige klasse en toesprake sak hy op sy bed neer, uitgeput. Hy sug diep en maak sy oë toe. Sy brein is versadig. Geen nuwe inligting kan daaruit geput word nie. Vasberade om egter te vorder met daardie taak, staan hy mismoedig op en gooi hom voor sy skerm neer. Die soektog na parallelle tussen die geskiedens en die hede vind sonder enige sukses plaas. Ná wat voel soos die duisendste beeld wat verby hom flits, gaan staan sy hart byna. Hy druk die “terug”-knoppie, huiwerig om te glo wat hy so pas gesien het. Die skerm se opskrif “A young Ernest Hemingway – 1916” ontlok relatief min reaksie teenoor sy reaksie op die beeld. Die beeld kan ’n spieël wees. Hulle is identies. Dit is dan hy!

Met sy kop weer eens in sy hande sit hy terug in sy stoel. “Onmoontlik” is al gedagte wat deur sy neurone loop. Daar is presies 2 100 jaar wat hierdie Ernest Hemingway van hom skei. Tydreis is ongelukkig nog iets van die toekoms. Daar is geen logiese verduidelikings nie. Toeval moet die antwoord wees …

Die beeld treiter hom soos ’n kat wat met ’n muis speel. Om daarvan te vergeet, is byna onmoontlik. Selfs sy gunsteling-Geskiedenisperiode kan nie sy aandag hou nie. Hy word gebombardeer met alle moontlike onrealistiese teorieë wat hy al ooit in films gesien het.

Hy word na die realiteit teruggeruk toe ’n klein seuntjie teen hom stamp. “Die gesiggie lyk bekend,” dink hy. Die seuntjie glimlag breed. ’n Terugflits van ’n Libiese seuntjie, 2 000 jaar gelede, spring in sy gedagtes. Toeval het niks daarmee te doen nie.

Iewers in die toekoms, of selfs in die verlede, is daar iemand presies soos jy. Een of ander tyd gaan daar twee mense met dieselfde vingerafdruk wees. Wat sou gebeur as jy nie meer spesiaal gebore word nie? Wat sou gebeur as daar net soveel unieke mense is? Herhaling.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top