WF 2012: Hulle noem my X

  • 0

X. Dis wat hulle my noem. My naam is eintlik Luhann. Luhann van Schalkwyk – ’n doodgewone ou van sestien, behalwe dat ek nie presies seker is oor my ouderdom nie en dat ek, om eerlik te wees, ook nie regtig manlik is nie.

“X, pak die skottelgoed weg. X, hang die klere op. X, was die vloere.”

Hierdie woorde is vir my so algemeen soos wat asemhaal vir mense is. Nie dat hulle vir my opdragte hoef te gee nie – ek is geprogrammeer om uit my eie uit te reageer. Ek kan dink en redeneer en my eie besluite neem – ’n kardinale flater in my stelsel.

Ek wonder of hulle gedink het ek sou vir ewig so aanploeter en al hulle vuilwerk doen.

“X, hoekom is my huiswerk nog nie klaar nie? Het jy al die inkopies gedoen?”

Miskien verwag hulle ek moet lojaal wees, aangesien hulle ’n dak oor my kop verseker.

Voor ek blootgestel is aan hierdie wêreld, was ek egter anders. Normaal. Ek was myself, Luhann. Wat tussen toe en nou gebeur het, is in my gedagtes tien jaar van dowwe niks.

Die laaste wat ek van my vorige lewe onthou, is dat ek gelukkig was. Regtig gelukkig, maar dit het ek seker ook eers later besef.

Ek het ’n vrou en kinders gehad, maar nou is ek alleen. Ek sien hulle steeds elke aand, maar hulle kan my nie sien nie. Hulle dink ek het van hulle vergeet, maar hoe vergeet ’n mens ooit?

Die waarheid is dat ek ook nie werklik kan teruggaan nie. Hulle sal my nie herken nie. Ek lyk anders; ek klink anders. Maar ek is nog dieselfde Luhann as voorheen – net met ’n bietjie meer drade en kabels binne-in my. “Sodat jy ons kan gehoorsaam,” het Dieter gesê.

Die lug aan hierdie kant van die sonnestelsel ruik na sout en ek voel-voel hoe die droë brood van vanoggend in my keel opstoot. Boonop sit die gedreun van motorbote en vliegskepe my kop aan die draai.

Vanaand is die aand wat alles verander. Vanaand neem ek reg in eie hande en gaan ek my intelligensie vir die regte redes aanwend. Vanaand gaan ek my nie bekommer oor die feit dat ek nog nie die holovisie afgestof het en dat die holofoon nog nie genoeg lugtyd op het nie. Vanaand is my aand.

Ek en Tina beplan al lank hieraan. Tina is die enigste een wat my verstaan. Ons is dieselfde. Sy ken my geskiedenis en ek hare.

Vanaand is die aand wat die mens op sy plek gesit word. Hulle moet besef dat hulle nie net kan maak en breek soos hulle wil nie.

Ek loer-loer vanuit my wegkruipplek en besigtig hierdie nuwe wêreld vir die laaste keer. Tina gee vir my die teken en ek druk die knoppie.

10 … 9 … 8 …

Wat ná vanaand sal gebeur, weet ek nie. Sal ons twee ook in die slag bly? En as ons oorleef, waarheen sal ons gaan?

7 … 6 … 5 …

Al vind ons op een of ander onverklaarbare manier die pad huis toe, sal Planeet X03 ons in elk geval nie inlaat nie.

4 … 3 … 2 …

My drome lê aan skerwe en binnekort sal die mens weet hoe ek voel. Hoe hulle my gedwing het om te voel.

1 …

Die oorverdowende lawaai van ’n ontploffing sny my af van die res van die wêreld. Ek sien steeds hoe die syfertjies op die holohorlosie in mekaar in vloei.

00:00

Die oomblik van waarheid het uiteindelik aangebreek. My visie word gevul met rooi. Links, regs, bo, onder. Bloedrooi vlamme dans koggelend al rondom my.

Het ek my eie ondergang gereël? Sal die mense verstaan wat ek vir hulle probeer sê? Die vrae brand binne my en ek ervaar ’n hoofpyn, heel moontlik iets soos ’n kortsluiting in my brein.

Sover ek weet, kan robotte nie huil nie, maar ek neem aan ek is ’n uitsondering. ’n Pêrelvormige H²O-druppel glipgly teen my blikwang af. Tina klem my hand vas en ek weet sy voel dieselfde.

“Ons het so ver gekom …”

Ek weet wat sy bedoel; ons moet sterk staan. Ons sal nooit weer kan wees soos wat ons was nie, maar daar is een ding wat ons wel kan doen. Ons kan seker maak dat Dieter nooit weer aan enigiemand of enigiets doen wat hy aan ons gedoen het nie. Daarvoor kan hy nie vergewe word nie. En daarvoor sal die mens boet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top