WF 2012: Hidrokraking

  • 0

Albert de Lange staan met neergeslane oë voor die badkamerspieël. Dan dwing hy hom en kyk stadig op. Hy kyk vas in twee oumensoë en nog ouer gelaatstrekke.  Hy voel onwillekeurig hoe die misnoeë in hom opstu met die besef dat hy op vyf-en-twintig veel ouer lyk as sy sestigjarige oupa op die foto teen die gangmuur.

Hy gaan sit op die verweerde leerbank in die sitkamer van die ou plaashuis. Vir vyf geslagte al boer die De Langes op dié familieplaas en vir baie dekades was dit ’n spogplaas, ’n klein oase, in die andersins droë Karoo. Die vergeelde foto-album vertel van glorieryke dae van weleer. Sy ouma is as jong bruid in 2015 deur die soliede, veilige mure van die antieke plaashuis verwelkom. Binne-in was verrassend smaakvol gemeubileerde vertrekke en selfs ’n ultramoderne kombuis weggesteek.

Hoe is dit moontlik dat alles in vyftig jaar, of net in die vyf-en-twintg jaar van sy leeftyd, so kon verander? Uit sy pa se vertellinge blyk dit dat die Karoo ’n bloeitydperk beleef het tydens sy kinderdae. Die proses van hidrokraking is in 2016 goedgekeur ten spyte van baie teenkanting. Die groot geoliede masjien van Shell het almal en alles rondom hulle gestoomroller. Oupa De Lange, een van die groot beswaarmakers, moes magteloos toesien hoe die een na die ander ondergrondse tonnel in die omgewing geboor is. Hy kon maar net in stilte hoop dat sy vrese ongegrond was en dat daar tog nie sulke slegte nagevolge sou wees nie. Min het hy geweet ... en gelukkig is die ergste hom gespaar ...

Na dertig jaar van ekonomiese opbloei was die metaangasbronne uitgeput en is die boorgate verseël. In dié tyd het die tegnologie met rasse skrede vooruitgegaan: Rekenaarintelligensie het al hoe meer menslike intelligensie vervang en selfs oortref. Die motorindustrie was ’n uitstekende voorbeeld hiervan. ’n Motor kon self sy pad vind, sonder ’n bestuurder. Baie take is deur robotte verrig. Genetiese manipulering het bygedra om siektes en veroudering aan bande te lê. Regerings kon verbasend genoeg armoede bekamp en die armoede-statistiek het gekrimp van omtrent 20% tot ongeveer 2%. Teen alle voorspellings in het vitamienpille nie die oplossing geword vir voedseltekorte nie, maar wel wolkekrabber-kweekhuise wat gewasse in tonne-maat gekweek het.

Dan was daar die groot ontploffing op die gebied van ruimtereise!  Aanvanklik het daar eers een en later nog ’n paar internasionale ruimtestasies ontstaan. Mense het vlugte in die ruimte onderneem, byna soos wat daar in die verlede oorsee gevlieg is. Die klein ruimteskip Curiosity van 2012 was die voorloper van verdere landings op Mars. Groot opslae is gemaak toe daar in 2050 wel water en voëllewe op Mars ontdek is. Die vraag was: Waar sou alles eindig?

Die einde hét gekom – voel dit nou – in 2050, met die eerste lekkasies van chemikalieë uit die verseëlde metaangasboorgate. Die Karoo se ondergrondse waterbronne is besoedel. Almal het jare lank hulle oë gesluit vir die vrystelling van skadelike gasse in die atmosfeer, maar kon dit ook nie langer ontken nie. ’n Onomkeerbare kettingreaksie van gebeure het gevolg:  Die kweekhuiseffek en aardverwarming het kritieke afmetings aangeneem en suurreën was die enigste vorm van water wat die dorstige aarde sporadies ontvang het.  Die besoedeling van die waterbronne het siektes tot gevolg gehad: asma, longkwale, ‘n verskeidenheid infeksies, onvrugbaarheid en alle vorme van kanker. Sy oupa en ouma was albei slagoffers van laasgenoemde en is ’n paar maande na mekaar begrawe.

Albert kyk by die venster uit en sien die rooibruin stofwolke wat oor die kaal, verlate vlaktes warrel. Daar is geen plant of bossie in sig nie. Geharde doringbome het reeds lankal die stryd gewonne gegee en staan soos grou skelette teen die horison afgeëts. Van eens welvarende boerderye, toerisme en ander bedrywighede het niks oorgebly nie. Die klein bietjie drinkwater wat hy met groot moeite opvang en suiwer, lewer skaars ’n koppie of twee vir daaglikse gebruik. Storte en baddens is lankal in onbruik. Die fisiese en emosionele aftakeling het te veel geword vir sy ouers en ook hulle is in ’n vroeë graf. Al wat hom nog aan die gang hou, is Anna, met haar sterk, blymoedige gees.

Nou, in 2065, heers dieselfde krisis wêreldwyd. Noudat dit te laat is, het mense begin om son- en windenergie as kragbronne te gebruik, maar die aarde kan nie in ’n miljoen jaar herstel nie! Vir hom en Anna is daar net een uitweg – hulle laaste kans. Die tyd het uitgeloop. Sewentien maande se beplanning gaan uiteindelik vandag tot ’n punt gevoer word. Hul kosvoorrade is reeds ingepak en Anna is besig om ’n paar laaste goedjies bymekaar te kry. Hy haal die paar foto's van die muur af en sit dit by die foto-album. Dit is al wat hy nog wil saamneem.

Dan stap hy buitentoe na die klein ruimtestasie en vreemde klein ruimtekapsule wat hy met ingenieursvernuf oor die afgelope maande gebou het. Die waterstof-aangedrewe tuig sal volgens beplanning die 58 miljoen kilometer na Mars toe kan aflê, maar elke dag wat hulle langer wag, beweeg die planeet verder van die aarde af.

Hy gaan haal vir Anna in die huis, met hulle enkele besittings in die spesiaal ontwerpte tas. Lank staan hulle in mekaar se arms, kyk vir oulaas terug en bestyg dan die tuig. Toe die deur agter hulle toegaan, weet hulle albei daar is geen omdraai meer nie ... 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top